|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
OPVOEDING EN ONDERWYS REFORMATORIESE ERFENIS EN ROEPING OP ONDERWYSGEBIEDWat behels die begrip reformasie?
Uittreksel uit toespraak van prof EJ van Niekerk, tydens Kongres CVHO te Bloemfontein Gepubliseer in Roeping en Riglyne, Julie 2000, bl 10 en 11 Die woord reformasie roep onmiddelik die Protestantse Hervorming voor die gees. Dit roep groot veranderinge en groot getalle mense, selfs oorloë, voor die gees, en talryke ontwikkelinge op verskeie lewens- en werklikheidsterreine wat vir die mensdom tot groot voordeel gestrek het. Vir die suidpunt van Afrika het dit die koms van die gereformeerde Christendom ingehou en die deurwerking daar-van (sy dit ook op gebrekkige wyse) op alle lewensterreine in opposisie teenoor die tradisionele Afrika-religies en die sekulêre humanisme.Dit het op onderwysgebied in Eu-ropa tot die uitbreiding van geletterdheid en skoolse onderwys na alle lae van die bevolking aanleiding ge-gee, want die ideaal was onder andere dat die gewone burgery die Bybel moet kan lees. In Suid-Afrika was die omstandighede nie as sodanig nie, maar die gereformeerde beginsel in die onderwys is deur die volksplanters ook hierheen gebring en in die onderwys voortgedra.
Vandag wil dit egter voorkom asof die Hervorming agterhaal is deur 'n opponerende religieuse grondmotief, naamlik die sekulëre humanisme, en dat die sinkretisme inspeel op die vakuum wat in die proses van sekularisering ontstaan het. Tog bly reformasie vir die gelowige 'n voortdurende opgawe en moet juis in die nuwe omstandighede na weë gesoek word om te reformeer.
Een ding moet ons ten aanvang goed besef: die groot getalle gelowiges is daar onder Afrikaners nie meer nie. Ons leef ook nog net by die grasie van die goeie wat die Christendom gebring het, ook in hierdie land, want die hart is reeds tot 'n groot mate daaruit.
Daar mag miskien die groot getalle wees wat hulself Christene noem, maar wanneer dit by dade kom, kan op hulle nie gereken word nie. Daarom sal die reformasie van die onderwys onder Afrikaners met klein getalle gehoorsame gereformeerdes onderneem moet word wat bereid is om in die naam van die Here dade te doen.
Mag dit die Here behaag om vrug op die pogings van hierdie gelowiges te gee, maar menslik gesproke lê daar 'n moeilike pad voor vir die re-formasie van die onderwys. Wat ons kortkom is die vuur en ywer van mense wat deur die Gees van God in die lig van die Woord gedryf word. Dit sal ons ook kry as ons onsself tot die beskikking van die Here stel.
Reformasie beteken nie holderstebolder vernuwing en 'n gerondskarrel om alles van die verlede ongedaan te maak nie. Dit is juis die historiese tradisie as die neerslag van ontwikkeling uit die verlede, waarby 'n ware reformasie aansluiting vind. Revolusie probeer nie by die verlede aansluiting vind nie, en daarom is dit juis tot mislukking gedoem, en verskil dit merkbaar van 'n ware reformasie. Reformasie soek juis die verlede en tradisie op en vra dan watter elemente daarin aansluitingspunte verskaf vir 'n rigtingverandering in die rigting van gehoorsaamheid aan bybelse uitgangspunte en norme.
Ons moet reformasie reg verstaan. Daar word nie maar by enige aspekte van die verlede of die hede aangesluit nie. Ons moet veral bedag wees om die religieuse wortels waarop dit aankom reg te onderskei. Reformasie kan beslis nie aansluit by die hedendaagse sinkretistiese tendense nie, maar staan duidelik in opposisie daarteenoor. God akkomodeer nooit die sonde en afgode nie. Die Woord van God bly altyd die sluitsteen waaraan sinvolle verandering gemeet moet word.
Reformasie is ook 'n onverbiddelike gebeure, want daar word nie speletjies gemaak met die sondige en verslete elemente van die historiese tradisie nie. Die Christendom bly die religie van die groot rigtingteenstelling. En God is onverbiddelik onverdraagsaam ook teenoor die sondige elemente in die Afrikaners se historiese tradisie op onderwysgebied.
Om dit pront te stel: God is nie tevrede met lakse onderrig en leer nie; ook nie met die krummels van 'n halfhartige godsdiensonderrig en Bybellees en gebed iewers op die skoolrooster nie. En dit terwyl die res van die vakonderrig Hom loën of nie in ag neem nie - so al asof die Skepper van die wette wat getal, ruimte, beweging, tyd en al die ander aspekte van die skepping beheers, niks met Wiskunde, Fisika, Geskiedenis, en al die ander vakke te doen het nie.
God vra ook nie of die omstandig-hede ons verbied of begunstig om die kindertjies na Hom te bring nie. Dis gewoon ons taak as gelowiges.
Soms kom 'n volk ook by so 'n punt dat hul moet besef dat die afval te groot geword het en dat verootmoediging noodsaaklik is, want God het sy verbond nog altyd onderhou - dit is óns wat aan troubreuk skuldig is. Reformasie begin egter altyd by die religieuse hart van die mens.
Dit is hier waar die rigtingverandering moet plaasvind, waar die prioriteite reg georden moet word. Vandaar kan die reformasie van die gesin, volk en die samelewingsin-stellings onderneem word. Sonder die begin by die religieuse hart van die mens is praatjies van reformasie net so verwerplik in die oë van die Here soos wat Israel se vormgodsdienstige brandoffers en slagoffers by tye was.
Om soms Here, Here te sê, en verder maar aan te poer-poer gaan miskien voor die mense op, maar ek dink nie dat dit voor die Here opgaan nie.
'n Ware reformasie in die Skriflig is 'n saak waaraan ons elke dag moet deelneem. Daarom staan ek, en u seker ook, skuldig voor die Here en daarom moet ons vra wat die betekenis van sy verbond met ons as gelowiges is betreffende die reformasie van die onderwys. Want gelowiges staan in 'n verbondsrelasie tot die almagtige God. En hierdie relasie het ook implikasies vir die onderwys. Daarom het gelowige ouers en onderwysers nie 'n verskoning waarom hulle nie aan die reformasie kan en behoort deel te neem nie.