|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 5 September 2000
Persrubriek KATEGESE DEUR DIE KERKCJ Ketel (Potchefstroom) skryf in ESRA-VERSLAG, Julie September 2000 (bl 24) oor die Kategismusprediking soos volg:
'n Feit van die grootste betekenis was dat die Reformasie die kerk weer verplig het tot formele kategetiese onderrig. In die 'bediening van die Woord', in die verkondiging van die Evangelie van Christus, sal die leer van sy Koninkryk ook altyd verkondig moet word. En by hierdie leer hoort ook die kategetiese onderrig waarin aan ons geopenbaar word dat ons God met ons hele hart, met ons hele siel en met ons hele verstand moet dien (Matt 22 : 37 - 40) en hoe ons Hom ons lewe lank moet dien. ...
Al die reformatore het ingesien dat 'leer en lewe' en 'lewe en leer' altyd in die preek as eenheid verkondig moet word. ...
Die orde waarin die bediening van God's Woord tydens die oggenddiens moes geskied, het eweseer gegeld vir die 'behandeling' van die kategismus in die middagdiens. Die prediking uit 'n Bybelboek was net so wel bediening van God's Woord as die verklaring van die kategismus-sondag wat aan die beurt gekom het. In albei hierdie dienste moes en moet die Woord van God en die simbole van die kerk volgens vaste orde en reël verklaar en geleer word. Op hierdie manier word die hele gemeente - dus ook die kinders - onderrig. So word die kinders van die gemeente van die HERE opgevoed en opgelei deur gesin en skool en kerk om tot die openbare belydenis van die geloof te kom. Daarmee verwerf hulle ná die ondersoek te midde van die gemeente deelname aan die nagmaal.