Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
PERSOONLIKE KAPELAAN VIR
KAAPSTADSE BURGEMEESTER, PETER MARAIS
Met betrekking tot die bogenoemde kritiseer die voormalige leraar van die Gereformeerde Kerk Thabazimbi, Cassie Aucamp, tans aktief betrokke in die partypolitiek as leier van die AEB, die aanstelling en vergoeding van pastoor Theo Noble vir dié funksie.Sonder om ons as redaksie by die partypolitiek te skaar, stem ons volmondig saam met die gestelde argument. Dit verskyn in 'n mediaverklaring van die AEB, gedateer 9 Augustus 2001. Dit lui as volg:
''Die vergoeding van R500 per uur wat pastoor Theo Noble (volgens sy eie getuienis voor die Heath-kommissie) as persoonlike kapelaan van die Kaapstadse Burgemeester, Peter Marais ontvang, is 'n groter skandaal as die klaarblyklike gekook met die straatnaam-stembriewe.
''Hierdie bedrag is in die eerste plek buitensporig en totaal buite verhouding met normale vergoeding van predikante. ...
"Die aanstelling van 'n spesiale kapelaan vir sodanige dienste is 'n onnodige luukse en bowendien onskriftuurlik. Gesien vanuit die kant van die kapelaan leer die Skrif dat 'n bedienaar van die Woord versorg word, ten einde al sy tyd aan die Woordbediening te kan wy. 'n Tarief per uur vir pastorale werk van 'n predikant is strydig met alle aanduidinge vanuit die Skrif.
"Gesien vanuit die kant van die burgemeester is dit immers so dat hy lidmaat is van 'n gemeente, en dat hy as sodanig deur sy eie leraar binne gemeenteverband bedien word. As voorbeeld kan genoem word dat dr Pieter Bingle oud-president De Klerk se pastor en geestelike versorger was. Hierdie funksie het hy gewoon sonder enige spesiale staatsvergoeding as predikant van die Gereformeerde Kerk Kaapstad, waar De Klerk lidmaat was, vervul.
"Dit is wel normale praktyk dat 'n stadsraad 'n kapelaan kan hê om sekere amptelike en openbare funksies te vervul. Selfs dit is egter nie 'n praktyk wat aangemoedig moet word nie, aangesien predikante daagliks hierdie tipe funksie gratis vervul as deel van die opdrag waaronder hulle na 'n gemeente beroep is, naamlik om die Woord te bedien, binne en buite die gemeente.
"Die situasie rondom pastoor Noble en sy buitesporige vergoeding dien geensins daartoe dat die beeld van die kerk in die oë van die wêreld gebou word nie. Inteendeel. Dit kontamineer die kerk en predikante met 'n negatiewe soustrein-sindroom."