Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
NG KERK SE RING VAN HEILBRON: STANDPUNT INSAKE DIE WOORD VAN GOD
- AMPTELIKE BERIG IN DIE KERKBODE, 15 JUNIE 2001 -
Die Ring is bekommerd daaroor dat die Bybel as die Woord van God, en Bybelse waarhede bevraagteken word en die twyfel wat sommige artikels in die kerklike media mag saai. Die Ring spreek hom dan soos volg uit oor die aangeleentheid:Die Ring neem kennis dat bevraagtekening deur sommige teoloë van onder andere die inhoud van die Skrif, die historisiteit van persone en gebeure, asook die interpretasie van die Skrif, tot groot verwarring en onsekerheid onder lidmate kan lei. Die Ring bevestig dan opnuut (Kerkorde Art 1) "Die Nederduitse Gereformeerde kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht 1618 - 1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls."
God het deur die profete en apostels sy geopenbaarde Woord op skrif gestel. Daarom aanvaar ons dit as heili-ge en Goddelike geskrifte (NGB, art 3).
Ons aanvaar dat die Skrif se interpretasie op, onder andere, die volgende belangrike beginsels berus:
Die Skrif is eenvoudig en duidelik genoeg sodat elke kind van God dit kan verstaan (2 Tim 3: 14-17).
Ons aanvaar dat God Homself openbaar as die almagtige God wat bonatuurlike dinge doen (Ef 3: 20; Gen 18: 14). Daarom is ons nie ongemaklik met wonderwerke soos, onder andere, Jona in die vis, die maagdelike geboorte van Jesus, ensovoorts nie.
Ons aanvaar die Skrif soos wat dit daar staan. Dit beteken om die Skrif binne konteks en verband te lees en te verstaan sonder om 'n tekswoord slegs op die klank af te verstaan. Ons aanvaar die gesag van die Skrif onvoorwaardelik. Wanneer die Skrif iets as sonde uitwys (byvoorbeeld om homoseksuele verhoudings te beoefen), aanvaar ons dit uit diepe eerbied teenoor die Een wat die mens gemaak het om sy verteenwoordiger en beeld op aarde te wees.
(G Lamprecht, Ringskriba, 24-4-2001)