Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Tweërlei Genade

SKRIFOORDENKING:
Na waters waar rus is, lei Hy my heen

AKTUEEL
Die wêreldkonferensie teen rassisme

Kleurlinggesin weggewys by APK Erediens

Persoonlike Kapelaan vir Kaapstadse Burgemeester, Peter Marais

Waarheen is die wêreld op pad?

Lotery en die algemene sinodalekommissie (ASK) waarheen is die NG Kerk met sy Lidmate op pad?

"God? Geloof in 'n moderne tyd"

Dr Ben du Toit se omstrede uitlatings oor God en die Geloof in ons tyd

NG Kerk se Ring van Heilbron: Standpunt insake die Woord van God

Die historiese werke van Flavius Josephus

Kindernagmaal

KERKLIKE JOERNAAL: 
Katkesasieboekies: "Ken, vertrou en doen"

Bybelvertalingsimposium op 20 - 22 Augustus 2001

Die nuwe Bybelvertaling

Algemene Kerkvergadering NH Kerk 

Ds AH(Andries) Mulder geëmeriteer

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Deputate CO (GKSA) reageer op uitsprake van minister van onderwys

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die pad na herstel

PERSRUBRIEK: 
Suid-Afrikaanse handves van menseregte Edel handves? - Watwou!


Piet Breytenbach, Potgietersrus skryf in DIE HERVORMER 1 Julie 2001, oor die nuwe Lieboek

Nogmaals die passiespel in Oberammergau

Ekonomie: Wetenskap van Rentmeesterskap

Huwelik as instelling verval in die weste

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Die Vierde Bede tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 5 September 2001

DIE HISTORIESE WERKE VAN FLAVIUS JOSEPHUS

- PROF DR AWG RAATH - PROFESSOR IN STAATSREG EN REGSFILOFIE, UOVS, BLOEMFONTEIN -

Met dank oorgeneem uit KONTEKS, Tydskrif van die Ned Hervormde Kerk  Uitgawe Maart 2001, bl 34,35

Onder die (buite-) Bybelse geskiedskrywers is Flavius Josephus een van die bekendstes. Hy is in die jaar 37 of 39 n C in Jerusalem gebore. Sy vader was 'n priester en sy moeder van koninklike herkoms. Mettertyd het Josephus by die Fariseërs aangesluit. Hy stel hulle gelyk aan die Stoïsyne. In die jaar 64 n C vertrek hy na Rome en bewerkstellig die vrylating van priesters wat op vae aanklagte daar aangehou is. By sy terugkeer vind hy sy volk lydend onder die hooghartige administrasie van prokurator Florus. Josephus doen alles in sy vermoë om sy volk van gewapende verset te laat afsien, vanweë die feit dat hy die mag van die Romeine gevrees het. As gevolg van sy gesindheid word hy na Galilea gestuur om die vrede daar te handhaaf. Die beskrywings oor die rol wat hy daar gespeel het, is verwarrend. In die werk oor die Joodse oorloë word gemeld dat hy as 'n generaal gestuur is om beheer van die situasie daar te neem. In die verslag oor sy lewe word vermeld dat hy as 'n priester gestuur is om die ontevredenes te kalmeer.

Omdat hy egter bang was dat sy vredespogings hom onder verdenking kon bring omdat hy Rome ondersteun, het hy voorgegee dat hy die oorlogsparty steun en hy het selfs sover gegaan om hulle as huursoldate te laat vergoed. Terselfdertyd het hy hulle probeer omhaal om nie aanvallend op te tree nie. Die dubbele rol wat Josephus gespeel het, het daartoe aanleiding gegee dat hy deur sommige persone van pro-Romeinse sentimente beskuldig is, terwyl andere hom daarvan beskuldig het dat hy 'n ondersteuner van tirannie was.

Uiteindelik is Josephus gedwing om 'n besluit te neem: hy sou sy pos verloor of hy sou die aktiewe leierskap van die oorlogsparty moes opneem. Op hierdie punt het die Romeinse generaal Vespasianus op die toneel gearriveer (67 n C) en is Josephus gevange geneem nadat hy byna deur sy metgeselle vermoor is.

Met die vertrek van Vespasianus na Rome in 69 n C, is sy seun Titus agtergelaat om die beleg van Jerusalem uit te voer. Josephus is deur die Romeinse bevelhebber as tussenganger gebruik en hy het rondgegaan en die Jode probeer oorhaal om hulle te onderwerp. As gevolg daarvan is hy deur die oorlogsparty gehaat en deur die Romeine gewantrou.

Na die val van Jerusalem is Josephus saam met Titus na Rome en is groot eer deur Vespasianus (nou keiser) Titus, en later ook Domitianus aan hom bewys. Hy het Romeinse burgerskap ontvang en die naam Flavius, uit eerbied vir sy beskermhere, aanvaar. Hy is drie keer getroud: een vrou het hom verlaat en 'n tweede huwelik het in 'n egskeiding geëindig. Hy is ongeveer aan die begin van die tweede eeu oorlede.

Uit die hand van Josephus het ons drie werke: die Joodse Oorlog (geskryf tussen 75 en 79 n C in sewe boeke); die Joodse Oudhede (geskryf in 93 of 94 n C, in twintig boeke) en sy werk Teen Apion.

Die werk Joodse Oorlog verhaal die stryd tusen die Jode en die Romeine en is onder laasgenoemde se toesig geskryf, nadat Titus hom aangemoedig het om dié werk te onderneem. Een van die redes vir die boek was om andere te ontmoedig om teen die Romeine in opstand te kom, soos wat die Jode gedoen het. Hierdie werk is 'n betroubare verslag omdat Josephus eerstehandse materiaal vir die skryf van die boek gehad het.

Sy werk Joodse Oudhede is 'n lang werk wat by die skepping begin en strek tot met die uitbreek van die oorlog teen die Romeine. So 'n geskiedenisbeskrywing is nog nooit voorheen aangepak nie en het 'n nuwe literêre styl gevolg: die eerste deel van die beskrywing, tot met die einde van die ballingskap, volg die Bybelse geskiedenisbeskrywing; die tweede deel, vanaf die tyd na die ballingskap, is uit verskillende bronne saamgestel. Hierby is ook 'n biografiese beskrywing, bedoel as verdedigingskrif teen die aanklagte van 'n oppenerende historikus met die naam Justus. Die derde werk, Teen Apion, bestaan uit 'n verdediging van die Joodse godsdiens.

Die waarde van die werk van Josephus is daarin geleë dat dit die belangrikste bron oor die Joodse geskiedenis vir die tydperk 100 v C tot 100 n C is. Dit is 'n onmisbare werk om die geografie van die Bybellande te bestudeer. Argeologiese ontdekkings te Qumran en Masada in die vorige eeu, het aangetoon dat Josephus se beskrywings verbasend akkuraat is en dit het sy statuur as topograaf bevestig. Vir die student van die Nuwe Tesament is sy werke 'n skat van inligting met betrekking tot landbou, handel, godsdiens, politieke sake en die belangrikste figure in die Nuwe-Testamentiese geskiedenis: Herodus, Pilatus, die twee Agrippas, Feliks, en andere.

Die verwysing na Jesus in sy Joodse Oudhede (XVIII) is deur sommige persone as latere Christelike invoeging beskou. Die oorwegende getuienis dui egter daarop dat dit eg is. Josephus moes met die belangrikste feite oor die lewe en sterwe van Christus bekend gewees het. As historikus sou hy ongetwyfeld ondersoek ingestel het na die Christelike beweging wat selfs in hoë kringe navolgers verkry het. Die bekende Arnold Toynbee reken Josephus tot een van die vyf belangrikste Hellenistiese historici, saam met Herodotus, Thucydides, Xenophon en Polybius.

Alhoewel Josephus die Romeine ten dienste was en deur sy volksgenote met wantroue bejeën is, was hy steeds patrioties van inslag, deur selfs 'n uitgebreide geskiedenis oor sy volk te skryf en 'n uitstekende verdediging vir hulle godsdiens saam te stel.

Vir Protestante lê die belang van Flavius Josephus se werk daarin dat, afgesien van die belangrikste inligting in sy werke vervat wat tot 'n beter begrip van die Bybel kan dien, die werke van Josephus 'n belangrike deel van hul godsdienstige boekery in die sewen-tiende en agtiende eeu uitgemaak het. In die tydperk voordat die Statebybel in 1637 die lig gesien het, het die godsdienstige huisbiblioteek van Nederlandse families hoofsaaklik bestaan uit die Deux-aes-Bybel, die Datheense Psalmboek en die werke van Flavius Josephus. Die laas-genoemde is veral in die godsdienstige opvoeding van die kinders gebruik ten einde hulle Bybelkennis te versterk. Dit is die rede waarom heelwat van die werke van Josephus wat in die sestiende en sewentiende eeu gepubliseer is, hulle weg na die Kaapse volksplanting gevind het. Is die liefde wat die volksplanters en die grenspioniers vir die Ou Testamentiese geskiedenis gehad het, dalk indirek aan die gebruik van Flavius Josephus se geskiedkundige werke oor die Ou Testamentiese Bybelse geskiedenis te danke? Dat sy werke in hierdie tydperk deur die vroeë pioniers in ons land bestudeer is, blyk uit die inskrywings in eksemplare van hierdie boeke wat nog beskikbaar is. Dit gee ook 'n aanduiding van die omvang van lesers van hierdie werk in Nederland en die geweste van die moederland in die tyd van die VOC.

Die feit dat die werke van Josephus besonder geliefd moes gewees het, het daartoe gelei dat die boekverkoper Marten Schagen in 1732 die werke van Josephus in 'n besonder luukse formaat die lig laat sien het. Vir dié doel het hy nie die vertaling van W Séwel, na aanleiding van die vroeëre vertaling van d'Andilly gebruik nie, maar die opdrag aan Siegebert Haverkamp gegee om 'n luukse vertaling voor te berei. Die uiteindelike pragwerk moes vir sy tyd 'n aanwins in enige godsdienstige boekery gewees het. By die werke van Josephus het Haverkamp ook ander klassieke werke ingesluit. Die etsafdrukke in hierdie uitgawe is gedoen deur niemand minder as twee van die bekendste etskunstenaars van bybelse uitbeeldings van die tyd nie, naamlik Jan en Kasper Luiken.

Die titel van die uitgawe van Jose-phus se werke van 1732 lui soos volg: Alle de Werken van Flavius Josephus, Behelzende Twintig Boeken van de Joodsche Oudheden, het Verhaal van zijn eygen Leeven, de Histori van den Oorlog der Jooden tegen de Romeynen, de Twee Boeken tegen Apion, en de Beschrijvinge van den Marteldoodt der Machabeën. Waarby komt het gezantschap van Philo aan den Keyzer Kaligula ...

Marten Schagen het die besondere werk aan die heer Lieve Geelvinck, onder andere burgemeester van Amsterdam en bewindhebber van die Oos-Indiese maatskappy, opgedra.

'n Studie van Josephus se werke bring onwillekeurig die waarneming na vore dat boeke soos hierdie, die Bybelkennis van ons voorsate op 'n besondere wyse moes aangevul en versterk het - iets waarvan Protestante kerklidmate kan kennis neem in 'n tyd waarin dit met die Bybel- en geloofskennis van ons ouers en kinders nie altyd so wel gaan nie.