Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
KINDERNAGMAALARTIKEL ONDER PSEUDONIEM: ''PARANIMF'', IN KONTEKS, UITGAWE AUGUSTUS 2001, BL 36
Skielik lyk dit nou of kinders nog nooit in ons kerke en op ons kerkpleine raakgesien is nie. Vroeër was hulle dosyne by dosyne in die eredienste. Het hulle op kinderlike wyse gedeel aan alles; aan die sang, die gebed, die hoor van die Woord, die sien van die sakramente. Op die kerkpleine het hulle gespeel en geweet hulle moet skoon en netjies bly met hulle kerkkleertjies aan.
Nou skielik moet hulle die nagmaal met die mond eet en drink! Nou dat hulle min geword het, selfs uit die eredienste verdwyn; nou dat tug en ordentlikheid verwater. Saam met die oorruk vanaf die doop (wat hulle genadiglik passief ondergaan) na die nagmaal (waaraan hulle soos mondige lidmate moet deelneem), sal hulle seker ook naderhand van die kategeseskool oorgeruk word na die diakens- en ouderlingbanke.
As daar dan geen onderskeid tussen belydende lidmate en dooplidmate gemaak word nie, sal kinders seker in die toekoms op gemeentevergaderings moet stem of die pastoriegesin 'n nuwe pastorie of 'n nuwe motor moet kry!
Rooms
Paranimf het êrens gelees dat 'n susterskerk van ons op sy sinode geswaai het ten gunste van kindernagmaal, toe 'n gesiene lid opstaan en sê dat die nagmaal nie op geloof gebaseer is nie, maar geloof op die nagmaal - of iets in dier voege.
Dit is Rooms! Die Roomse Kerk glo dat hulle sewe sakramente heilsmiddele is. Die Roomse mis is dus 'n instorting van die liggaam van Christus in die misgebruiker se lewe. Dan vloei uit die nagmaal die heils(geloof). Dit is Roomse sakramentsteologie.
Die reformatore het in die bybelse sin die kerk teruggebring na die bedoeling van die sakramente - dat dit sekondêr is. Die nagmaal volg op die geloof; dit versterk die geloof. Die geloof gaan voorop - daarom eers belydenis van die geloof. Omdat die nagmaal 'n bykomstigheid by die Woord is, vereis dit bykomstig 'n bepaalde kennis van die Woord by die lidmaat. Daar moet dus by die lidmaat 'n bykomstigheid by die lidmaatskap wees, naamlik Woordkennis wat selfondersoek insluit, voordat die lidmaat 'n nagmaalsgebruiker kan wees.
Kinders is lidmate
Ons verbondsbeskouing hou in dat kinders van ons kerkouers reeds lidmate van die kerk is. Daarom móét hulle gedoop word, móét hulle katkiseer en mag hulle belydenis van geloof doen. Maar dit mag ons nie blind maak vir die onderskeid tussen gebore lidmaatskap (ware lidmaatskap), dooplidmaatskap (ware lidmaatskap) en belydende lidmaatskap (ware lidmaatskap) nie.
Selfs die argument dat Calvyn kinders van tien jaar al toegelaat het om aan te meld om belydenis van geloof af te lê (Institusie IV 19.13), kan nie kindernagmaal regverdig nie. Van ouderdom tien jaar het die kinders finale kategese ondergaan tot op ouderdom twaalf jaar. Calvyn se twaalfjariges, wat belydenis van geloof gedoen het, kon nagmaal gebruik. Maar dit is nie so iets (wat aanvaarbaar is) wat vandag onder kindernagmaal verstaan word nie.
Om die paasmaaltyd, waaraan kinders ook sou deelgeneem het, as argument tot kindernagmaal te gebruik, is 'n onaanvaarbare sprong. Die nagmaal is nie dieselfde as die paasmaaltyd nie - dan sou die Here nie die nagmaal ingestel het nie.
Die ekumeniese verbande wat Oosterse kerke (waar selfs suigelingsnagmaal toegepas word), die Roomse Kerk (kommunie vanaf sewe jaar en konfirmikasie vanaf die twaalfde jaar), en die Lutherse Kerk (12, 13), gepaard met die huidige gees van post-modernisme en globalisme, dring aan op kindernagmaal.
Ons belydenis
Soos ons belydenisskrifte sê (HK, Vr & Antw 81; NGB, Art 35), moet die nagmaalsgebruiker 'n aktiewe, dit wil sê 'n geloofsaandeel aan die nagmaal neem. Daarom is voorbereiding (kategese, belydenis, voorbereidingsdiens) 'n voorwaarde.
Wie nie in die ligaam van die Here, dit wil sê in die kerk, die liggaam van die Here in brood en wyn onderskei en besef nie, vgl die geloofsbelydenis, bring daardeur 'n oordeel oor hom- of haarself (1 Kor 11:29).
Paranimf