Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
Hoofartikel
TWEëRLEI GENADE?
Dit is nie sonder gemotiveerde redes dat ons oor hierdie saak wil besin nie. Dit gaan oor dr Abraham Kuyper se teorieë wat hy breedvoerig in al sy werke, en meer spesifiek in die driedelige publikasie, ''De Gemeene Gratie'', beskryf het. Sy gedagtes het die gereformeerde denke sedertdien oorheers. Aanvanklik is dit hoofsaaklik kritiekloos aanvaar en gedoseer aan die opkomende geslag van teoloë en oorgedra aan lidmate van die kerke. Maar van die begin af was daar ook kritici wat nie sy sienings sonder meer aanvaar het nie. Wat dr Kuyper daarmee geleer het, is op later stadium tot leerstellings verhef, wat in die kerklike pers tot ingrypende polemieke gelei het.Om die aanname van tweërlei genade wat aangevoor en, met die oog op die voortspruitende konsekwensies, ook krities weerlê is, in diepte te bespreek, is nie op slegs enkele bladsye moontlik nie. Hieroor is boeke geskrywe en selfs doktorale verhandelings aangebied. Dit is ook nie moontlik om alles wat dr Abraham Kuyper ten aansien hiervan gemotiveer het, kortweg te memoriseer nie. Dus volstaan ons daarmee om die aandag te vestig op die teenoormekaar gestelde uitgangspunte waarmee die saak beredeneer word. Dit is nie sonder betekenis met die oog op aktuele benaderinge van die gereformeerde geloof in die praktyk van ons daaglikse bestaan nie.
Kuyper se teorie oor tweërlei genade vind sy begronding in die skepping van die mens, die Goddelik voorwaardelike belofte van seën en bedreiging van vloek en oordeel, Daarna die val in sonde en toe die ''genade'' wat God bewys het dat die menslike geslag en die wêreld waarop ons bestaan, desondanks tot op hede steeds voortbestaan. Hoe rym dit met die woorde van God: ''Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe''? Moet hierdie woorde van God, met eerbied gesproke, nie as ernstig bedoel beskou word nie, insake grasie vir die behoud van die lewe wat Hy, nie slegs aan berouvolle sondaars nie maar ook, algemeen, aan die mensheid as 'n geheel verleen het? Met hierdie vraag staan ons voor die grondliggende saak van God se woorde van verlossing maar ook vervloeking wat Hy in die hof van Eden aan Adam en Eva en hul nageslag ná hulle, asook aan die Satan en die aarde as leefwêreld vir die mens, uitgespreek het (Gen 3: 15-19).
Hier onderskei Kuyper nou tweërlei genade. In die eerste plek die saligmakende, reddende genade wat deur die soenverdienste van Jesus Christus bewerkstellig sou word. Dit is die besondere of partikuliere genade wat slegs aan die uitverkore kinders van God toebedeel word tydens hulle lewe en ook tot in ewigheid. Dit gaan gepaard met die geloof in God as die almag-tige Skepper, die kennis van die menslike ellende, swakheid en sonde, asook van die verlossing wat teweeg gebring is en die dankbaarheid wat daarvoor verskuldig is (vgl HK, Sondag 1, Vr/Antw 2). Kuyper sien verder dat die wêreld rondom ons vol is van verwerping van die genadegawes wat God in die soenverdienste van Jesus Christus skenk. Tog laat God in sy ontferming nog die geleentheid waarin goed en kwaad op die aarde kan voortbestaan. Nou sê Kuyper, die Here sorg in sy voorsienigheid dat die uiterste gevolge en deurwerking van die kwaad tydens die bestaan op aarde getemper, in toom gehou word, sodat lewensontplooiing kan voortgaan. Dit word ook bevestig in die verbond met Noag, die sogenaamde natuurverbond (Gen 9 : 1-17). Dit tipeer hy as algemene genade, of liewer: ''Gemeene Gratie''. ''Denk u de 'gemeene gratie' geheel weg, en reeds lang voor de Zondvloed zou geheel ons menschelijk geslacht niet enkel geheel verwilderd, maar in krankzinnigheid, zelfmoord en algehele verdierlijking onder zijn gegaan'' sodat daar ''tenslotte niets dan één machtige wildernis zou zijn overgebleven''. Na die val kon God Adam en Eva effektief tot die fisieke en ewige dood verdoem het, maar tog het Hy hulle en hul nageslag laat voortbestaan. Die son volbring nog elke dag sy loop, die wisseling van die seisoene gaan ongestoord voort. Die vloek is versag. Daar is niemand op aarde wat nou al rondloop in die gedaante van 'n hel-bewoner nie. Die ontlading van God se toorn is nóg nie so erg soos wat dit voorwaardelik aangekondig was nie.
Die Kuyperiaanse denkstruktuur wortel in die uitgangspunt van die menslike bestaan, soos óns dit ervaar. God skenk, ondanks sy aanvanklike bedreiging, nog soveel ''goeds''. Hy het die wêreld nog nie geheel en al aan die verderf prysgegee nie. Hy weerhou nog die uiterste gevolge van die sonde en vloek. Die Satan is nog nie deur Hom uit die gevangenis ontbind nie (Openb 20:7). Dus verkeer ons gevolglik in die omstandigheid dat daar - ook sonder die direkte leiding deur God se Woord en die verligting van die Heilige Gees - wetenskap, kuns, ekonomie en staatkunde, progressief bedryf kan word.
Die skepping van hemel en aarde word sodanig nie gestel in die perspektief van die Goddelike voorbeskikking en Sy opdrag om as beelddraers van God dié geskape werklikheid as kultuurbodem te benut; om daarop "te vermeerder, die aarde te vul en te onderwerp" en dit te "bewerk en te bewaak" (Gen 1: 28, 2: 15) nie. Dit lei tot die vérstrekkende teoretiese verkeer op twee terreine, naamlik: (1) Dié van die besondere genade wat hom beperk tot die persoonlike bestaan in die verhouding tot God en die skriftuurlike geloofswaarhede wat aanvaar en uitgeleef moet word, die belydenis van die Bybels-Christelike geloof in Christus se Kerk en die aanvaarding van Hom as die enige Hoof daarvan. (2) Dié van die gemene-grasie, in die lig waarvan die vermoë van tegniek, ekonomie, rasionele denke, naamlik: filosofie, wetenskap en kuns, opvoedkunde, staatkunde, ensovoorts, aangewend kan word. Dit word as ''neutraal'' beskou, omdat dit met of sonder die betrekking van die besondere genade deur die versoening van Jesus Christus, bloot op grond van die 'lig van die natuur' wat (nóg) nie heeltemal verduister is nie, met vrug hanteer en toegepas kan word. Skeiding van natuur en genade! God, die lig van die evangelie en Sy gebooie word, as nie noodsaaklik vir die funksionering van die sekulêre samelewing nie, beskou en uitgeskakel. Dit is ook die benadering van die Deïsme, wat glo aan 'n Skeppergod, maar nie aan God se voorsienigheid en onderhouding van alle dinge nie. Ook word die Godsopenbaring betwyfel en slegs aanvaar vir sover dit met die menslike rede ooreenstem. Al wat dus oorbly is die inwendige 'lig' van die natuur. Maar terwyl mense self deel is van die natuur en daaraan onderwerp is, is dit 'n ope vraag of hulle ten aansien van dié 'lig', dit objektief kan hanteer.
Dit word so maklik gestel dat God 'n algemene genade ná die sondeval verleen het, dat Hy op dié wyse die leefwêreld vir die mense in stand hou, sodat hulle daarop kan bestaan en vermeerder en kultuur bedryf. Tog is dit allermins die saak of dit as 'n bewys van 'grasie' of as algemene genade beskou moet word. Daar word ewe maklik aan verbygegaan dat hierdie voortbestaan op 'n deur God vervloekte aarde plaasvind (Gen 3: 14-19). Met die oog daarop poneer prof dr Klaas Schilder dat die kultuuropdrag wat in die hof van Eden deur God aan die mens opgedra is, kortom dat daar kultuur is - die menslike gebruik en bewerking van die natuur -, dat dit nie getipeer moet word as sogenaamde ''algemene genade'' nie. Hy stel dit van God se kant af. Sou Hy Hom van die menslike daad, die sondeval, afhanklik gestel het, dan sou sy raadsplan vir die skepping van 'n hemel en hel, met as werksvloer die aarde waarop die getalle van toekomstige hemel- en helbevolking gebore moes word, weggeval het. So gestel hang die saak van genade en vloek dus saam met die kontinuëring, die voortsetting van God se werk. Hy het nie net die aarde en sy bewoners geskape nie, maar Hy onderhou dit ook tot die doel wat Hy (Drieënig, vóór die grondlegging van die wêreld) daartoe voorbeskik en verordineer het.
Die sogenaamde weerhouding van die vloek, sê Schilder, is geen ''genade'' of seën vir diegene wat verlore gaan nie. Vir hulle was dit beter dat hulle nie gebore was nie. Dank die Here dat ons van beter weet, dat daar ook 'n hemel geskep is. Ook die hemel is deel van dié Goddelike voorbeskikking. Ook dáárvoor, om dié vol te maak met soveel as God daartoe sal roep, is dus tydsverlenging nodig, is die proses van geboortes en sterftes noodsaaklik en derhalwe ''cultureele arbeid met economisch(e) zoo goed als klimato-logisch evenwicht(ige) conditie''. Volgens Schilder verleen die kontinuëring en handhawing van die kultuuropdrag juis dáárom geen grasie of genade nie. Ewemin vloek of oordeel.
''De genade ligt dus niet in het 'colere'. Ze ligt ook niet in het eten, drinken, ademhalen, kinderen verwekken. De genade, als ze er is, zal alleen liggen in het godvruchtig 'colere', eten, drinken, ademhalen, kinderen verwekken. Niet als dode, doch als levende. En de vloek ligt niet in het 'colere'. hij ligt ook niet in het eten, drinken, ademhalen, kinderen verwekken. Niet als levende, doch als dode''. Bin-ne die raamwerk van die tyd is, ná die sondeval, die antitese onvermydelik, nie in die natuur self nie, dog in die gebruik van die natuur. Dit beteken dus die antitese in die kultuur: ''De antithese tusschen de geloovige en de onge-loovige exacte cultuur-preastatie''
.God het, ''o genade, o schrik, de historie nóg gelaten". Hy het die wêreld verhinder om stukkend te breek op die eerste sonde. Dus het Hy die bestaan aan ons oorgelaat omdat ons Sy werk moet volbring. So is dit verstaanbaar dat behalwe die woord 'grasie' ook die byvoeglike, die 'gemene' grasie nou onder die soeklig kom. Sodra kultuur nie meer as 'grasie' getipeer word nie, maar daarenteen as 'opdrag' en 'diens' ... het die sprokie van ''ééne gemeene-gratie-cultuur'' verdwyn. Dan is daar geen ''gemeene'' kultuur meer nie, maar staan ons voor, wat ons moet hê: 'n Christelike kultuur teenoor die kultuurbederf wat in die wêreld heers, aldus Schilder.
Die motief vir die gemenegrasie-siening hang saam met wat die Libertyne in die tyd van Calvyn en later, voor en tydens die Dordtse Sinode van 1618-1619, geleer het dat buite God en sy bybelse Openbaring om, die mens nog soveel goeds in homself oorgehou het dat hy, sonder die insig in God se Woord en die verligting van die Heilige Gees. in staat is om goed te doen. Daarvolgens lê die kwaad nie in die menslike verdorwenheid (erfsonde en erfsmet) wat die Skrif ons openbaar nie, maar in die omstandighede van die maatskappy en samelewing. Die mens is in staat om bloot rasioneel die natuur, sy omgewing en sy bestaan te verklaar en die wêreld te verbeter en te herskep tot die paradys wat verlore gegaan het.
Die Dordtse Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Die geestelike gawes of goeie hoedanighede en deugde soos goedheid, heiligheid en regverdigheid kon nie deel van die wil van die mens wees toe hy geskep is nie. Daarom kan dit in die sondeval ook nie van die wil geskei word nie. ... Hierdie geestelike gawes is in die geestelike dood nie van die mens se wil geskei nie, aangesien die wil op sigself nooit verdorwe was nie. Dit is slegs deur die verduistering van die verstand en wisselvalligheid van die neigings verhinder. Wanneer hierdie hindernisse uit die weg geruim is, kan die wil dan weer sy vrye aangebore krag uitoefen. Dit wil sê dit kan allerhande goeie dinge wat hom voorgehou word, self wil en self kies of nie wil nie en nie kies nie. Volgens die Dordtse Sinode is ''dit 'n nuwigheid en dwaling waardeur die kragte van die vrye wil verhef word. ...'' (Dordtse Leerreëls, Hfst 3&4, Verw v d Dw, par 2 en 3).
God en die herskeppende werk van Jesus Christus is nie nodig vir die sake van die daaglikse bestaan nie. Die mens beskou hom, wat dit aangaan, as 'n god in die diepste van sy gedagtes. Soos reeds genoem: skeiding van natuur en genade, wat ons vandag kan waarneem en ervaar met onder andere die aanvaarding van 'n rasionele Handves van Menseregte. Nie die norme en riglyne van God se Woord nie, maar die (ingeskape godskennis) die 'natuurwet' bied die samelewing mensgerigte oplossing van probleme . Dat dit geen werklike oplossing is en uitkoms bied nie en juis chaos, misdaad en geweld laat toeneem en misdadigers teenoor wetsgehoorsames beskerm, bewys die praktyk waar-aan ons tans in ons land, en ook wêreldwyd, onderwerp is.
Daar is baie mense wat nie in die bestaan van God glo nie, juis oor die spoor van mislukkings, oorloë en geweld, onderdrukking, onbeheerbare ongelukke, siekte en dood, wat algemeen is en ervaar word. Hulle verstaan nie die sin van lewe en dood, die sodanige voortbestaan van die wêreld nie, want hulle verstand is verduister. Dit ontbreek hulle aan die ware Godskennis. Slegs die Woord van God en die verligting van sy Heilige Gees skenk aan ons die vertroosting dat niks toevallig geskied nie en dat Hy ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor ons beskik, tot ons beswil sal verander (HK, Sond 9, Vr/Antw 26).
Daarom moet in die omstandighede van die lewe en in dié van die maatskappy en samelewing, die Goddelike skeppings- en onderhoudingsplan, Sy voorsienigheid (HK, Sond 10), primêr geken, aanvaar en geglo, maar dan ook gelowig ondersoek en gemotiveer word. Dáárin, daarin alleen, lê die werklike oplossing van die maatskaplike, sedelike en staatkundige vraagstukke, asook vir die politieke en die fisiese bestaan en oorlewing vir ons tyd en samelewing.
Algemene genade is 'n bedrieglike term. Die mens bedrieg homself met 'n valse vertroue in sy vermoëns wat hy nie reg gebruik nie en wat ten slotte dien tot sy ewige oordeel in die hel wat God geskape het en wat (in sy besluit van ewigheid oor verkiesing en verwerping) vol moet word. Uiteindelik dien dit vir hom tot die bediening van die vloek wat God voorwaardelik aan Adam en Eva, tesame met die opdrag om die aarde te vul, te bewerk en te bewaar, gestel het. Die terme algemene en besondere genade moet met diskresie beskou en hanteer word. Die skriftuurlike antitese in die beoefening van die wetenskap, die maatskaplike omstandighede asook die staatkunde en politiek, moet volgens bybelse riglyne toegepas word. Dit is die taak van die gelowiges om dit in die kerk en koninkryk van God in diepte te ondersoek, dit prinsipieel en prakties te vertolk en te bely, asook om dit só in die daaglikse bestaan te realiseer.