Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
KERKLIKE JOERNAAL
BYBELVERTALINGSIMPOSIUM OP 20 - 22 AUGUSTUS 2001- BERIG IN DIE KERKBLAD, 18 JULIE 2001 -
Die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke, Januarie 2000, het 'n belangrike besluit geneem oor 'n moontlike derde vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die Deputate Bybel het opdrag gekry om ernstig aandag te gee aan die bevordering van die saak van 'n brontaal-georiënteerde vertaling in moderne Afrikaans.'n Brontaal-georiënteerde vertaling probeer om die leser woord-vir-woord nader te bring aan die idioom waarin die Bybel in die oorspronklike tale geskryf is. 'n Mens kan sê dit is 'n meer letterlike vertaling van die Bybel. In Arikaans is die 1933/53 vertaling 'n voorbeeld van hierdie benadering. Die opdrag van die Sinode hou verband met die moontlikheid om weer 'n letterlike vertaling van die Bybel in Afrikaans te bied, maar dan in ''moderne'' Afrikaans.
Omdat 'n taal soos Afrikaans dinamies is en voortdurend ontwikkel en uitbrei, is so 'n projek noodsaaklik. In ander tale is soortgelyke projekte in die onlangse verlede ook voltooi, byvoorbeeld die New King James Version (1982) in Engels.
Bybelvertaling is 'n baie gespesialiseerde werk wat kennis van 'n hele aantal vakdissiplines vereis. Die Bybelgenootskap het in die lig daarvan besluit om 'n simposium te hou waartydens verskillende fasette van die proses deur vakkundiges belig sal word.
'n Moontlike uitkoms van hierdie simposium kan wees dat die inisiatief rondom 'n derde Afrikaanse vertaling van die Bybel konkreet gestalte sal kry. Prof Jorrie Jordaan is een van die vakspesialiste wat tydens die simposium 'n voordrag sal lewer. Prof Heilna du Plooy van die PU vir CHO lewer ook 'n voordrag.
Hierdie simposium sal DV plaasvind van 20 - 22 Augustus 2001 by Bybelhuis in Kempton Park. Die GKSA word by die simposium verteenwoordig deur proff Fika J van Rensburg, Jorrie Jordaan, Paul Krüger, dr Braam Krüger en mnr Hans van Deventer.