Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
KERKLIKE JOERNAALDIE NUWE BYBELVERTALING
Simposium oor Bybelvertaling stel teleur!
Neels Jackson, verslaggewer van kerksake, vermeld in BEELD, Donderdag 23 Augustus 2001, oor die simposium wat deur die Bybelgenootskap belę is om te besin oor 'n nuwe Bybelvertaling. Hy rapporteer daaroor soos volg: Die Bybelgenootskap oorweeg 'n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling, maar daar is verskeie kwessies wat uitgeklaar sal moet word voordat so 'n projek aangepak kan word.Dit het duidelik geblyk op 'n simposium wat die Bybelgenootskap op 20 tot 22 Augustus aangebied het, onder meer om die moontlikheid van 'n nuwe Afrikaanse vertaling te bespreek.
Een kwessie waaroor eenstemmigheid nodig is, is die soort vertaling wat gedoen moet word.
Een moontlikheid is 'n taamlik direkte woordelikse vertaling in moderne Afrikaans. Veral uit die Gereformeerde kerke is daar al gevra vir so 'n vertaling.
Hierteenoor sou 'n vryer vertaling moontlik wees waarin eerder probeer word om die boodskap van die oorspronklike teks te verstaan en in goeie Afrikaans te verwoord.
Nog 'n belangrike kwessie is die finansiering van so 'n projek. Ds Gerrit Kritzinger, hoofsekretaris van die Bybelgenootskap, het aan die simposium gesę kerke sal bereid moet wees om te betaal vir so 'n projek.
Verder sal vertalers besluite moet neem oor watter Hebreeuse en Griekse brontekste vir die vertaling geskik sal wees, aangesien daar verskillende weergawes van albei bestaan.
Daar moet ook besin word in watter mate verduidelikende aantekeninge soos voetnotas in die vertaling sal voorkom.
Die Bybelgenootskap het reeds opdrag gegee dat marknavorsing nodig is om die behoefte aan 'n nuwe vertaling te bepaal.
Kritzinger het gesę as 'n nuwe vertaling gedoen word, sal dit waaarskynlik as aanvullend tot bestaande vertalings aangebied word en nie as 'n plaasvervanger nie.
Die deurslaggewende faktor sal egter die onderskeie kerke se besluite oor so 'n projek wees. Omdat kerkvergaderings soos sinodes nie baie gereeld vergader nie, sal daar waarskynlik nie voor einde volgende jaar 'n besluit oor 'n nuwe vertaling geneem kan word nie.
Ondertussen staan ons maar vas by die gebruik van die !933/53 (letterlik) getroue vertaling van die Heilige Skrif . (Red - P vd K)