Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
KERKLIKE JOERNAALALGEMENE KERKVERGADERING NH KERK30 September tot 6 Oktober 2001
Die ses en sestigste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika gaan DV vanjaar plaasvind in die week vanaf Sondag, 30 September (opening) tot Saterdag, 6 Oktober. Die Agenda word volgens laasjaar se amptelike besluitneming nie meer as vertroulik beskou nie. Dit is reeds op die webblad van die Kerk gepubliseer. Neels Jackson, kerklike verslaggewer van BEELD, lewer die volgende verslag daaroor (8 Augustus 2001)Die Hervormde Kerk moet bely dat apartheid ''na sy wese onregverdig en sondig'' is, belydat hy die stelsel self ondersteun het en dat hy self 'n stelsel van apartheid in sy midde beoefen het en steeds duld.
Daarby moet die kerk sy onvoorwaardelike verskoning aanbied aan mense wat deur die apartheidstelsel onderdruk is., teenoor mense wat by eredienste van die kerk weggewys is oor hul velkleur en teenoor mense wat in die kerk vervolg is oor hul teenstand van apartheid.
Dit is een van die voorstelle wat begin Oktober deur die algemene vergadering van die Hervormde Kerk oorweeg moet word.
Die kwessie van skuldbelydenis kan 'n lewendige debat ontlok omdat menings in die kerk daaroor wyd uiteenloop. Dit blyk daaruit dat die kommissie wat die saak moes bestudeer, nie eenstemmigheid kon bereik nie en dat lede met uiteenlopende voorstelle na die vergadering kom.
Naas bogenoemde voorstel, is daar twee ander voorstelle wat albei sę dat die Hervormde Kerk nie die proses van skuldbelydenis oor apartheid wat die afgelope jare in Suid-Afrika gevoer is, kan onderskryf nie.
Een beswaar teen sulke skuldbelydenisse is die teologiese inhoud wat daaraan gegee word, en 'n tweede is die ''wyse waarop een groep (wit Afrikaners) eensydig verneder, verketter en uitgesonder word as alleen verantwoordelik vir alles wat die afgelope dekades sleg en verkeerd was''.
Die agenda bevat ook ingrypende gedagtes oor die predikantsamp en beroepstelsel. Dit behels onder meer die moontlikheid dat predikantsposte in die kerk geadverteer kan word en mense kan aansoek doen daarvoor dat predikante verplaas kan word of standplase kan omruil en dat mense deeltyds predikant kan wees terwyl hulle ander werk doen.
Onder ekumene word die moontlikheid genoem dat die kerk bande met die Węreldraad van Kerke, die Węreldbond van Gereformeerde Kerke en sy Suid-Afrikaanse takstruktuur en met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke kan smee.
Ander sake wat tot lewendige besprekings kan lei, is die historiese Jesus en die maagdelike geboorte; die Belharbelydenis; kelkies by die nagmaal; die gebruik van druiwesap by die nagmaal; die verhouding met die swart Hervormde Kerk in Suidelike Afrika; homoseksualiteit; en plaasmoorde.