Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Tweërlei Genade

SKRIFOORDENKING:
Na waters waar rus is, lei Hy my heen

AKTUEEL
Die wêreldkonferensie teen rassisme

Kleurlinggesin weggewys by APK Erediens

Persoonlike Kapelaan vir Kaapstadse Burgemeester, Peter Marais

Waarheen is die wêreld op pad?

Lotery en die algemene sinodalekommissie (ASK) waarheen is die NG Kerk met sy Lidmate op pad?

"God? Geloof in 'n moderne tyd"

Dr Ben du Toit se omstrede uitlatings oor God en die Geloof in ons tyd

NG Kerk se Ring van Heilbron: Standpunt insake die Woord van God

Die historiese werke van Flavius Josephus

Kindernagmaal

KERKLIKE JOERNAAL: 
Katkesasieboekies: "Ken, vertrou en doen"

Bybelvertalingsimposium op 20 - 22 Augustus 2001

Die nuwe Bybelvertaling

Algemene Kerkvergadering NH Kerk 

Ds AH(Andries) Mulder geëmeriteer

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Deputate CO (GKSA) reageer op uitsprake van minister van onderwys

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die pad na herstel

PERSRUBRIEK: 
Suid-Afrikaanse handves van menseregte Edel handves? - Watwou!


Piet Breytenbach, Potgietersrus skryf in DIE HERVORMER 1 Julie 2001, oor die nuwe Lieboek

Nogmaals die passiespel in Oberammergau

Ekonomie: Wetenskap van Rentmeesterskap

Huwelik as instelling verval in die weste

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Die Vierde Bede tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 5 September 2001

MEDIESE ETIEK

DIE VIERDE BEDE TYDENS SIEKTE EN GENESING

-  DR MC DURAND  -

Die Here Jesus Christus leer ons met die sesde bede: Gee ons ons daaglikse brood (Matt 6:11).

Wanneer ons siek is word ons soms gedwing om slegs vir ‘n enkele dag se voorsiening te bid. Maar wanneer ‘n ernstige siekte begin opklaar begin ons meer as ‘n enkele dag raak te sien: Die pyn en lyding beperk nie meer die gedagtes tot die oomblik nie. Die pyn is besig om weg te gaan, daar is weer genesing. Die geneesheer oorweeg om my aan die einde van die week te ontslaan. Hy sê dat die steke van die operasiewond oor tien dae verwyder kan word en dat ek daarna terug werk toe kan gaan. Nie meer word ek fisies en letterlik beperk tot die uitkoms, die redding en die voorsiening van ‘n enkele dag nie, maar ‘n hele verdere lewe gaan voor my oop. Wat kan die vierde bede nou nog beteken wanneer daar genesing kom en ek weer gesond is?

God het ons meer as ons gebede gegee. Wanneer God vir ons meer as een dag skenk en ‘n hele toekoms weer voor ons oopmaak, dan weet ons God het vir ons meer gegee as waarvoor ons gevra het. Ons het vir die voorsiening van ‘n enkele dag gepleit en God het ons meer gegee. Wanneer ons hieraan dink maak dit ons onmiddelik huiwerig. Waarom het God ons meer gegee as waarvoor ons gevra het? Watter spesiale doel het Hy vir my? Was ek nog nie reg om te sterf nie? Was my werk op aarde nie afgehandel nie? Vertrou God my met bykomende verantwoordelikhede?

God het ons meer as ons verdienste gegee. Ons weet dat ons slegs die dood verdien. Daarom is ons verwonderd oor God se genade, want ons weet, Hy het ons nie genees volgens ons verdienste nie. Ons weet Hy het ons genees volgens sy genade. Indien Hy in die regspraak met ons gegaan het, sou ons nie kan lewe nie. Maar nou mag ons weer lewe, omdat ons Here Jesus Christus ons skuld op Hom geneem het. Hy het ons straf op Hom geneem. Die siekte was dus nie straf nie. Wat was dit dan? Waarom het Hy my laat siek word?

By die genesing is daar die waarskuwing: God herinner ons deur die siekte dat Hy ons enige uur uit hierdie lewe kan wegneem. En daarom word ons steeds gedwing om elke dag te bid: Gee ons ons daaglikse brood. Want elke dag moet ons leef asof dit ons laaste dag kan wees (Luk 12:20). Nie langer sal ons uitstel met berou oor ons sondes nie. Nie langer sal ons uitstel met versoening tussen broeders nie. Nie langer sal ons uitstel om na God se wil te vra nie.

By die genesing is daar die troos: God leer ons om vir elke dag tot Hom te bid vir voorsiening. Hy het ons deur die genesing geleer dat ons op Hom kan vertrou. Want aan Hom kom die eer van die genesing toe en nie aan die geneesheer of die geneesmiddels nie. Hy het aan ons daardie vertroue geskenk om verder mee te lewe. Wat ‘n ryke troos! Ons is nie op ons eie nie. Ons hemelse Vader het ons die lewe weer geskenk. Op Hom kan ons vertrou. Hy het ons uit die dood gered, Hy kan ons uit elke ander gevaar en wanhoop red. Ons gaan die toekoms in met al sy versoekinge, maar God belowe ons dat Hy ons nie bokant ons vermoë sal versoek nie (1 Kor 10:13). God maak nie net die toekoms vir ons oop nie. Met die vierde gebed toon Hy aan ons‘n toekoms met die belofte van sy trou.

By die genesing is daar die opdrag: Wanneer ons daaraan dink dat God uit genade meer aan ons gegee het as wat ons van Hom gevra het en Hy ‘n hele toekoms aan ons skenk, sal ons nie anders kan as om ons hele lewe volkome aan Hom te gee nie. Indien ons enigiets minder as elke dag aan Hom wil toewy, sal ons rowers wees van die tyd wat Hy ons nog gegee het. Indien ons enigiets minder as ons hele krag aan Hom wil toewy, sal ons rowers wees van die krag wat Hy ons opnuut nog gegee het.

Hoe sal ons ons lewens aan Hom toewy? By die oortreffende verhoring van die vierde bede, vind ons die antwoord op hierdie vraag wanneer ons nadink oor die voorafgaande bedes.

Die voorafgaande drie bedes herinner ons dat ons werk sy saak moet wees. Die Naam van ons Vader wat in die hemel is, moet geheilig word. Die koninkryk van God moet kom. Sy wil moet geskied. Alles wat ons mag doen en gedoen het, moet tot sy eer en volgens sy wil en in die stryd teen die sonde gedoen en voortgesit word.

Indien God ons waarsku dat Hy ons lewens in een dag kan wegneem, indien Hy aan ons sy genade, trou en beloftes toon, indien Hy aan ons leer dat ons nie die eienaars van ons tyd of liggaam is nie, sal ons dan enigiets minder mag doen as om alles wat ons is en het, in gehoorsaamheid aan Hom te gee nie?

Daarom is ons haastig met alles om sy wil en sy opdragte na te kom, want alleen dit is betroubaar, volkome, volledig vir die lewe van elke dag.