Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
PersrubriekSUID-AFRIKAANSE HANDVES VAN MENSEREGTEEDEL HANDVES? - WATWOU!
Dr PH Coetzee van Plooysburg skryf in Die Kerbode van 20 Julie 2001 hieroor as volg:Ek het met groot verwagting begin lees aan die reeks Pinksterboodskappe onder die opskrif, ''God maak die verskil'' (Die Kerkbode, 4 Mei 2001). Die eerste sin van die eerste dag se boodskap het die verwagting nog hoër laat styg.
Met die lees van die tweede paragraaf is hierdie verwagting egter verpletter deur die ultra-humanistiese uitspraak dat die Suid-Afrikaanse Handves van Menseregte ''onder die edelstes in die wêreld is!''
Watter een van die skrywers vir hierdie mening verantwoordelik is, is onbekend, maar hulle verdien elke leser se innige bejammering, want daarmee word die opskrif van die reeks geloën.
Navorsing het male sonder tal bewys dat die vestiging van 'n Handves van Menseregte, sonder uitsondering 'n styging in misdaad veroorsaak het. Almal weet wat sedert 1994 in Suid-Afrika gebeur het. Die bestudering van die menseregte-ideologie het ons oortuig dat die aanvaaarding daarvan die ideale instrument vir Satan skep om die mensdom aan hom te verkneg.
Om dan uit die pen van 'n teoloog te verneem dat Suid-Afrika se Handves van Menseregte van die ''edelstes'' is, laat my as NG lidmaat wonder waarheen ons teoloë op pad is.
Selfs die ''Banjul Charter'' oor menseregte, wat as die model vir die meeste Afrikastate se handveste gedien het, ag nog die mens se verantwoordelikhede belangriker as sy regte. In die Suid-Afrikaanse handves is verantwoordelikhede nie eens ter sprake nie. Trouens, aan die misdadiger word feitelik groter ''regte'' toegeken as aan wetsgehoorsame onderdane.
As 'n gelowige wat 'n in-diepte studie van menseregte gemaak het, is ek oortuig dat die sondige mrens geen ''regte'' het nie, maar net Godgegewe pligte. Eers wanneer die mens hierdie verantwoordelikhede nakom en uitleef, kan hy hom beroep op sekere voorregte wat God uit genade aan hom geskenk het en vertrou dat die almagtige God aan hom reg sal laat geskied.
Ek vra leraars om saam met my te bid dat teoloë se oë sal oopgaan sodat hulle geen uitsprake sal maak wat die mens op God se troon plaas nie.
Nándor Sarkady, Pretoria, skryf aan redaksie van
DIE KERKBLAD (GKSA), na aanleiding van twee artikels oor die nuwe Psalmberyming, waarin die omdigting van TT Cloete bespreek en aangeprys word.
In Die Kerkblad van 11 April en 23 Mei 2001 verskyn twee artikels van mev P van Helden van Centurion wat, meen ek, om reaksie vra.In die eerste artikel word geskryf asof alles nou 'n voldonge feit is en ons net wag vir die Sinode van 2003. Intussen het die Deputate vir die Psalmberyming nog steeds nie hul opdrag van Sinode 2001, om die teks van al 150 Psalms aan alle gemeentes te stuur, uitgevoer nie. Juis daarom vind ek dit vreemd dat artikels met so 'n strekking in Die Kerkblad geplaas word.
Dit prejudiseer die saak ooglopend. 'n Sinode moet nog oor die saak besluit, maar artikels verskyn wat dit reeds aanprys.Dit is tog nie die kerklike pad nie en is myns insiens ongehoord in 'n kerklike blad.
Dit gaan tog hier oor 'n ernstige saak. Mev van Helden skryf self: ''Vir die Gereformeerde kerkganger bly die primêre vereiste, naamlik Skrifgetrouheid in die omdigting, 'n belangrike saak. Is hierdie nuwe omdigting dan werklik Skrifgetrou?" Die skryfster antwoord die vraag self ná ses ander vrae deur op te merk: ''Dit is slegs 'n paar vrae wat gevra kan word - vrae wat slegs deur die toets van die tyd waarlik beantwoord kan word. Intussen kan dié omdigting met reformerende, nugtere en dankbare hartsingesteldheid benader word as deel van die Afrikaanse taalskat ...''
Hiervan kan ek nie anders as om te verskil nie. Die Gereformeerde kerke het die uitgangspunt onderskryf: éérs 'n saak aan die Skrif getoets en dan goedgekeur op 'n Sinode. Die omdigting moet eers aan die Skrif getoets en dán beoordeel word. Nie andersom nie! Of is die bedoeling dat dieselfde weg as die Bybelvertaling opgegaan moet word? Eers ''naasmekaar'' in die kerke en op die volgende Sinode al die vrae en probleme soos die Sinode van 1985 uitgewys het? Die kerke moet kennis dra van hierdie belangrike saak, daarom het die Sinode 2001 die opdrag gegee dat die teks van ál die omdigtings aan ál die gemeentes gestuur moet word. Ons weet dat die bundel binnekort te koop gaan wees as Liedboek van die Kerk met 602 liedere, maar dit is nie die saak nie.
'n Laaste saak wat hinder, is dat die ''Cloetetekste'' (wat die Gereformeerde lidmaat nog nie het nie) heeltyd gemeet word teen die Totiusberyming van 1937. Veral die laaste artikel (23 Mei 2001) gaan hierop breedvoerig in. Enkele voorbeelde? Die vreeslike argaïsmes van die Totiusteks spreek nie meer aan nie, so word beweer . Dit word onderbou met 'n motivering soos: ''Uit 'n opname wat gemaak is oor die gebruik van woorde uit die Totiusberyming, is dit duidelik dat meeste van dié ouer woorde bekend en/of in gebruik is onder die ouer geslag, terwyl dit nie meer onder die jonger geslag se gebruikswoordeskat tel nie.''
Vir my is dit nie 'n wetenskaplike stelling om te maak nie. Dan is sogenaamde argaïsmes wat genoem word, onder andere: stonde, skrede, betrag, owervloed, ontroof, harteleed en temeer, vir my in 'n ander kategorie as woorde soos byvoorbeeld: sponde en bedstee. Moet woorde in 'n beryming noodwendig in die gebruikswoordeskat van die jeug voorkom? Hoef ons in die kerk nie meer kerklike woorde of nuwe woorde te leer nie? Ek meen dan ook dat die eietydse Cloeteteks argaïsmes bevat as ons dit moet meet aan jongmense se gebruikswoordeskat. Enkele voorbeelde: toornig (Ps 6:1); gramskap (Ps 7:2); verste sfere (Ps 8:1) grootheidswaan (Ps 14:1). Voorbeelde uit die eerste Psalms.
Indien die Cloeteteks die toets van die Skrif kan deurstaan en so eietyds is soos beweer word, het dit tog nie 'n betoog nodig deur dit met 'n teks te vergelyk wat ''argaïes'' is nie? Sou mev Van Helden se opmerking onder die hoof ''Persepsies van Psalmgebruikers'', van 11 April 2001 - ''By enige vernuwing in gevestigdhede ontstaan kriewelrigheid onder gebruikers. So kan ook nou met die nuwe Cloete-omdigting verwag word'' - dalk profetiese woorde wees?