Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 5 September 2001
PersrubriekHUWELIK AS INSTELLING VERVAL IN DIE WESTE
- Professor Piet van der Merwe
(NHK) skryf hieroor in DIE HERVORMER van 1 Julie 2001 -Berigte oor statistiese opnames dui daarop dat die huwelik as instelling in ten minste twee Westerse lande vinnig aan die verval is en dat saamwonery in 'n toenemende mate deur Christene aanvaar word.
In 'n verslag van die Evangeliese Alliansie wat pas in die London Time gepubliseer is, word gerapporteer dat ongeveer een-derde van jong (evangeliese) Christelike respondente hulle ten gunste van saamwonery uitgespreek het. (Dieselfde verslag het ook aangetoon dat kerkgang in dieselfde groep vnnig agteruit-gaan). Ongeveer 82% van nie-Christelike respondente het ook saamwonery ondersteun.
In een van die sensusverslae wat die afgelope tyd in die VSA bekend gemaak is (na aanleiding van die staatsensus wat in 2000 in die VSA gehou is), is bekend gemaak dat saamwonery met ongeveer 71% sedert die vorige sensus gestyg het. Dit beteken dat daar 5.5miljoen sulke gevalle getel is, oftewel 5% van alle huishoudings. Vroue wat kinders alleen grootmaak het ook met 25% in dieselfde tydperk gestyg, terwyl getroude pare wat kinders grootmaak met 4% gedaal het.
Terselfdertyd was daar 'n groot sprong in egskeidings in die Weste. Selfs Rooms-Katolieke lande waar egskeidings vergelykenderwys laag is, het 'n skerp styging gerapporteer.
Dit wil dan lyk of die huwelik as instelling onder groot druk verkeer, onder andere as gevolg van wetlike strukture en wetgewing wat getroude egpare en veral die getroude vrou anders behandel. Die argument wat dikwels gehoor word, is dat saamwonery 'n meer regverdige bedeling is en dat die ontbinding van so 'n verhouding ook makliker is.
Benewens wat uit Christelik-etiese oogpunt oor die huwelik en saamwonery gesê kan word, kan op 'n gewoon praktiese grondslag wesenlike argumente teen beide bogenoemde aannames geopper word.
Eerstens word die beginsel regtens aanvaar dat saamwonery wat langer as 'n sekere tyd duur, neerkom op 'n gemeenregtelike huwelik. Die regsonsekerheid wat vropue dikwels in 'n uitgerekte saamwoonverhouding opbou en die onwilligheid van mans om hulleself in sulke omstandighede tot 'n formele huwelik te verbind, skep dikwels 'n onhoudbare situasie wat tot die verbrokkeling van die verhouding lei. Wanneer dit tot 'n einde kom, kan dit tot moeilike en uitgerekte hofsake lei - in baie gevalle selfs moeiliker as 'n gewone egskeiding, omdat die kontraktuele basis daarvan gewoonlik onseker en vaag is.
Verder hou die opbreek van 'n saamwoonverhouding gewoonlik dieselfde emosionele trauma in van 'n egskeiding, veral as kinders betrokke is.
Die probleem met 'n saamwoonverhouding is dat dit te maklik beskikbaar is en dat persone wat nie regtig vir mekaar uitgeknip is nie, voortydig met 'n seksuele band gebind word. Dit mag miskien spoedig blyk dat hulle as paar nooit volledig vervulling by mekaar sal vind nie, maar vanweë die seksuele afhanklikheid wat hulle van mekaar ontwikkel, word so 'n verhouding veel langer voortgesit as wat die aanvanklike bedoeling dalk was. Wanneers kinders op die toneel verskyn, word die situasie nog eens so haglik.
Dit is duidelik dat die formele of wettige huwelik lank nie by die agterdeur uitgegooi kan word nie, al is daar duidelike tekens van verval.