|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 5 September 2002
KERKLIKE JOERNAALAartsbiskop Desmond Tutu kry Eregraad van PUKOm die lesers in te lig oor wat die Raad van die Potchefstroomse Universiteit gemotiveer het omaan biskop Tutu 'n eredoktorsgraad toe te ken, publiseer ons die geheel van die amptelike persverklaring wat op 27/06/2002 deur Frikkie Kotzé van die Departement Bemarking en Openbare Betrekkinge van die PUK vrygestel is.
Dat Tutu 'n vurige aanhanger van die Kommunisme was en derhalwe die ANC/SAKP sterk ondersteun het om die heersende orde, in die RSA se vorige bedeling, omver te werp en die revolusie bevorder het, word deur die Raad as verdienstelik beskou. Maar dat hy ketterye soos die ontkenning van die maagdelike geboorte van Christus en die interreligieuse gelykheid van godsdienste leer en propageer, word gerieflik verswyg.
"Tydens die kommunisteleier, Chris Hani, se begrafnis het hy openlik die swartes aangemoedig om tot revolusie oor te gaan. Dan het hy openlik erken dat hy 'n sosialis is wat kapitalisme haat.
Hy het ook erken dat hy 'n marxis is, en dat dit in ooreenstemming is met wat Christus gepredik het. Uit sy uitsprake blyk dit ook dat hy 'n volslae sinkretis is wat nie glo aan die uniekheid van die Christelike godsdiens nie" (Die Afrikaner, 11 Julie 2002).
Die redaksie van Die Kerkpad verwerp op grond van bogenoemde die Raad van PUK se tipering van Tutu se "oortuigde en diep deurleefde Christelike lewensbeskouing en die praktiese en daadwerklike manier waarop hy sy Christenskap uitgeleef het".
Die Raad van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys het op sy vergadering van 27 Junie die besluit goedgekeur dat 'n eredoktorsgraad aan Aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu (71) toegeken word.Toekenning van die graad Doctor Philosophiae (honoris causa) aan emeritus-aartsbiskop Desmond Mpilo Tutu Desmond Tutu is in 1931 in Klerksdorp gebore waar sy pa 'n onderwyser was en sy ma 'n huishulp. Vroeg in sy lewe het hy vader Trevor Huddleston, uitgesproke kritikus van apartheid en iemand wat hom later sterk beïnvloed het, ontmoet. Vanaf 1945 gaan Tutu skool aan die Johannesburg Bantu High School waar hy in 1950 matrikuleer. Hy verwerf hierna 'n onderwysersdiploma aan die Pretoria Bantu Normal College in 1953 en die BA aan UNISA 1n 1954. Hy hou eers skool, en in hierdie tyd is hy getroud met Nomalizo Leah (née Shenxane). Hulle het drie dogters, 'n seun en verskeie kleinkinders.Die Raad van die PUK het besluit om dié graad aan Aartsbiskop Titu toe te ken op grond van sy oortuigde en diep deurleefde Christelike lewensbeskouing en die praktiese en daadwerklike manier waarop hy sy Christenskap uitgeleef het.
Aartsbiskop Tutu word ook vereer vir sy buitengewone en onbaatsugtige diens op kerklike, staatkundige en maat-skaplike terrein. Hy word verder ook uitgesonder vir die merkwaardige bydrae wat hy gelewer het tot die uitbou van die Christendom in Suid-Afrika deur die versoeningsrol wat hy in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het.
Die Raad het eenparig besluit om Tutu met 'n eredoktorsgraad te vereer. Aartsbiskop Tutu sal ongelukkig nie die Herfsgradeplegtigheid in September kan bywoon nie en daarom sal dié graad by 'n spesiale geleentheid aan Tutu oorhandig word (nie-amptelik het ons verneem dat die offisiële plegtigheid van die toekenning waarskynlik in die VSA sal plaasvind - Red).
Motivering:
Toekenning van die graad Doctor Philosophiae (honoris causa) aan emeritus-aartsbiskop Desmond Mpilo TutuIn 1958 besluit biskop Tutu om predikant te word in die Anglikaanse Kerk (CPSA) en hy ontvang sy Lisensiaat in Teologie in 1960 en word in 1961 in Johannesburg as priester georden. Daarna studeer hy verder in Engeland waar hy die grade Bachelor of Divinity Honours en Master of Theology verwerf. In 1967 keer hy terug na Suid-Afrika en na werk as dosent word hy lektor in teologie aan die Universiteit van Botswana, Lesotho en Swaziland, waarna hy betrokke is as Assosiaat -Direkteur van die Teologie-Onderwysfonds van die Wêreldraad van Kerke in Kent, VK. In 1975 word hy deken van ST Mary's-katedraal in Johannesburg, en kort daarna Biskop van Lesotho. Ná die Soweto-opstande van 1976 word hy oorreed om Lesotho te verlaat en die pos van Algemene Sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) te aanvaar, en dit is in hierdie hoedanigheid (vanaf 1978 tot 1985) waarin hy 'n nasionale en internasionale figuur geword het. As filiaal van die Wêreldraad van Kerke is die SARK ook verbind tot ekumene en die uitleef van die sosiale verant-woordelikheid van die kerk. Geregtigheid en versoening is belangrike prioriteite van die SARK en as Algemene Sekretaris het biskop Tutu hierdie doelstellings van die SARK toegewyd en energiek nagestreef en die SARK uitgebou tot 'n belangrike instelling van die geestelike en politieke lewe van Suid-Afrika wat die aspirasies van miljoene Suid-Afrikaanse Christene verwoord het. Onder sy leierskap het die SARK 'n effektiewe ondersteuningstelsel vir slagoffers van apartheid tot stand gebring. Sy uitsprake teen die ideologie van apartheid, en sy politieke betrokkenheid by die ANC het hom kontroversieel gemaak en in konflik met die regering gebring. In 1984 is sy bydrae tot rasseharmonie in Suid-Afrika egter erken met die Nobel-vredesprys.
In 1985 is biskop Tutu verkies tot biskop van Johannesburg en in 1986 tot aartsbiskop van Kaapstad. In 1987 word hy president van die All Africa Conference of Churches. Vóór die ontbanning van die ANC en ander organisasies in 1990 het baie kritici van biskop Tutu gemeen dat hy tot die politiek sou toetree, wat hy nooit wou doen nie, hoewel hy die rol van mediator en versoener in die moeilike 80-erjare in Suid-Afrika gespeel het. Voor 1990 was hy uiters kontroversieel weens sy energieke veldtog vir sosiale geregtigheid, maar daarna het hy meer die rol van 'n ouer staatsman gespeel en was hy een van die min mense met die statuur om versoening tussen wit en swart te bewerkstellig. President Mandela het hom geskik geag en aangestel as voorsitter van die Waarheids- en Versoeningskommissie. Sy blywende bydrae tot die WVK-proses is dat hy dit nie louter as 'n regsproses bedryf het nie, maar as 'n innige geestelike en Christelike proses van berou en versoening.
Talle toekennings en eerbewyse het aartsbiskop Tutu te beurt geval. Hy is in 1987 verkies tot Fellow van King's College, Londen. Hy is kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland en lid van die raad van die universiteit van Fort Hare. Hy het eregrade van onder meer Harvard, Columbia, Aberdeen, die Ruhr-universiteit, Kent, Oxford, Wits en Pretoria ontvang. Hy het ook talle ander pryse en toekennings ontvang, veral die Prix d'Athène (van die Onassis-stigting), die Family of Man Gold Medal Award en die Martin Luther King Jr Non-Violent Peace Prize.
Aartsbiskop Tutu is die skrywer van vier bundels preke en toesprake, naamlik Crying in the Wilderness (1982). Hope and Suffering: Sermons and Speeches (1983), The Words of Desmond Tutu (1989), The Rainbow People of God (19994) en 'n gebedeboek, An African Prayer Book (1995). Onlangs het 'n boek oor die WVK verskyn onder die titel No future without forgiveness (1999).
Tutu het hom nie eintlik met die Teologie as wetenskap besig gehou in die sin van skryf van wetenskaplike boeke en artikels nie. Dit is dus moeilik en onbillik om sy konfessionele vertrekpunte te omlyn. Die Teologie as wetenskap is waarskynlik nie sy primêre belangstelling nie, maar wel die politieke implikasies van die Christelike konsep van versoening waaroor hy baie populêre artikels geskryf en lesings gegee het voor groot internasionale gehore. Hy het wel 'n besondere bydrae gelewer in die omskrywing van die betekenis van die Christelike geloof vir die verandering van politieke strukture en waar die Bevrydingsteologie en ander Politieke Teologieë die gebruik van geweld as die enigste opsie gesien het en dit ook Bybels probeer regverdig het, het hy die vreedsame opsie van dialoog, selfs onder baie druk, verdedig. Die konsep van "Waarheid en Versoening" soos dit in die WRK beslag gekry het, is in 'n groot mate sy breinkind. Sy pleidooi teen regsverhore van apartheidsoortreders en vir vergifnis as hulle met die waarheid uitkom het baie bitterheid ontlont en 'n vreedsame oorgang na 'n nuwe Suid--Afrika vergemaklik.
Desmond Tutu het deur die jare op 'n buitengewone en onbaatsugtige manier vir Christelike geregtigheid gewerk, deur te pleit vir geweldlose maniere om apartheid teen te staan. Hy het sy standpunte in hierdie verband gegrond op Ou-Testamentiese tekste, en verwys na daardie Skrifgedeeltes waar melding gemaak word van swakkes en van dié wat geen stem het nie (lees dié wie se demokratiese reg om te stem, weggeneem is). Die PU vir CHO het reeds in die laat vyftiger- en sestigerjare, onder andere deur die werk van LJ du Plessis en Hennie Coetzee, 'n duidelike kritiese stem oor apartheid laat hoor. Dit was ook waar van die van die middel sewentigerjare. Maar dit was eers in die middel negentigs dat die nou reeds bekende standpunt van die senaat en die raad gestel is dat die universiteit meer kon en moes gedoen het om apartheid teen te staan en die gevolge daarvan te voorkom. Desmond Tutu was eweneens prominent in sy Christelike kritiek op apartheid. Maar in sy werk in die negentigerjare (in die vredesproses en die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) het Aartsbiskop Tutu nog meer grondliggend die Christelike standpunt, ook eie aan die oortuiging van die PU vir CHO, bevorder. Die Bybelse kernboodskappe van vrede en versoening het sy werk vir hierdie tyd gekenmerk. Hy was die medevoorsitter van die Vredeskomitee wat die vredes-proses ontwerp en bestuur het, en wat gelei het tot die ondertekening van die Vredesakkoord in September 1991. Hierdie proses het grondliggend tot die begin van die veelparty-onderhandelings bygedra. As voorsitter van die WVK het hy aan die hoof gestaan van die simboliese (en in sommige gevalle werklike) versoening tussen eertydse vyande.
Aartsbiskop Tutu staan bo alles as 'n Christen bekend. En alhoewel hy nie in presies dieselfde reformatoriese tradisie van die PU vir CHO staan nie, kan en moet die PU vir CHO respek, waardering en selfs bewondering vir Tutu se konsekwente uitlewing van Christelike beginsels soos geregtigheid, waarheid, versoening en vrede hê.
Aartsbiskop Tutu se loopbaan getuig van sy innig deurleefde Christenskap. van onbaatsugtige diens, enorme ywer en persoonlike opoffering ondanks moeilike omstandighede en swak gesondheid. Sy diep menslikheid straal uit alles wat hy aanpak.
Deur hierdie doktorsgraad toe te ken, kan die PU vir CHO getrou aan sy grondslag erkenning verleen aan 'n medegelowige wat die Universiteit se standpunt van 1996 getrou vooruitgeloop het. Dit is gepas dat Christene soos aartsbiskop Tutu wat sy geloofsoortuigings openlik en onbeskaamd uitleef, deur 'n Christelike instelling soos die PU vir CHO vereer word.
Met hierdie huldiging erken die PU vir CHO met dank teenoor die Hemelse Vader die groot rol wat aartsbiskop Tutu as Christen, as geestelike leier en as prediker van versoening in Suid-Afrika gespeel het. Dat hy 'n boorling van ons buurdorp Klerksdorp is, maak so 'n huldiging nog verder gepas.
Die toekenning van die Doctor Philosophiae (honoris causa) word daarom aanbeveel op grond van:
- sy oortuigde en diep-deurleefde Christelike lewensbeskouing en die praktiese en daadwerklike manier waarop hy sy Christenskap prakties uitgeleef het;
- sy buitengewone en onbaatsugtige diens op kerklike, staatkundige en maatskaplike terrein;
- die manier waarop sy lewe 'n vergestalting is van Christelike beginsels, veral van Christelike liefde, geregtigheid, vrede, versoening en afhanklikheid van God;
- die manier waarop hy 'n merkwaardige bydrae gelewer het tot die uitbou van die Christendom in Suid-Afrika deur die versoeningsrol wat hy in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het.