Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Ekumene

AKTUEEL: Grondbesit: Van die Here XVII tot Mugabe

SKRIFOORDENKING:
Geroepenis kan 'n verskil maak.

Uitspraak van die Kaapse Sinode NGK: VU toekenning Dr Luther King

OPE BRIEF: PU vir CHO

Gereformeerde Kerke by kruispad

Individualisme en Menseregte

Infiltrasie van ... die Kommunisme

KERKLIKE JOERNAAL: 
Aartsbiskop Tutu kry Eregraad van PUK

Winsbejag met kerk se fondse?

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Pretoriase Akademie vir CVHO open sy deure

Christelike en Afrikaanse Onderwys

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Leer uit die geskiedenis

Die Johannesburgse Aardeberaad

PERSRUBRIEK: 
Versoek aan Kader Asmal om onderwyswet terug te trek

Waarom nie net Skrif vertrou?

VIGS

"Happy Clappy" Gospel optrede in Gereformeerde Kerk Meyerspark

Die Kommunisme

Evolusie en die Bybel

KOMMENTAAR: 
Dialoog (debat) oor die waarheid van God se Woord?

GESPREK MET LESERS:

MEDIESE ETIEK: 
Siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 6  No 5 September 2002

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

LEER UIT DIE GESKIEDENIS!

> WêRELDFOKUS OP RADIO PRETORIA, WOENSDAG 7 AUGUSTUS 2002 <

- DR PW LIEBENBERG - JOHANNESBURG -

As daar een geykte uitdrukking is wat tóg ‘n groot waarheid inhou, is dit dat ‘n mens, ‘n volk of ‘n land uit die geskiedenis moet leer. Een van hierdie lesse uit die onlangse en die verre verlede is dat etniese en godsdienstige konflik moontlik bitterder, verwoestender en voortslepender as meeste ander soorte konflik is. Hoe langer gesloer word om die kernoorsake deur middel van tydige en doelgerigte onderhandeling aan te spreek, hoe onafwendbaarder word die moontlikheid dat die haat, nyd en wantroue wat eie aan so ‘n situasie is, in gewelddadige botsing sal oorgaan. En wanneer die bloed eenmaal vloei, raak ‘n skikking op die grondslag van gee en neem, bomenslik moeilik, indien nie onmoontlik nie. Houdings en standpunte aan weerskante verhard in so ‘n mate dat toegewings ten einde ‘n vreedsame skikking te bereik, al moeiliker raak. Tesame met die ontoegeefliker houding aan weerskante van die spektrum, ontwikkel daar dikwels by die opponerende groepe ‘n gevoel dat die ander party in die geskil só ‘n bedreiging vir die eie welsyn en voortbestaan inhou, dat hy liefs heeltemal vernietig en van die tafel gevee moet word. Sodoende - só word dan geglo - sal ‘n permanente oplossing gevind word. Hierdie skewe argument het haas alle volksmoorde en uitwissingsveldtogte te grondslag gelê.

Deesdae is daar amper op ‘n daaglikse grondslag berigte oor Palestynse selfmoordaanvallers wat ongeag lewensverlies en materiële skade op Israelse teikens soos universiteitskafeterias, restaurante, busse en ander plekke van samedromming, toeslaan. Hierdie roekelose optrede dui op ‘n fanatisme wat deur desperaatheid gevoed word. Daar is skynbaar by ‘n groeiende groep Palestyne – opgeleide jeugdiges in die besonder – ‘n siening dat onderhandeling en bemiddeling, geen konkrete resultate oplewer nie. Relatief gematigde leiers soos Yasser Arafat, word toenemend deur van sy eie mense gewantrou, terwyl ekstremistiese groepe aan mag en invloed wen. Toegewings ten opsigte van ‘n eie Palestynse tuisland wat gister en eergister deur baie Palestyne as ‘n sinvolle eerste stap tot Palestynse selfregering en outonomie beskou is, word nou afgewys as "te min te laat." Die eise word al hoe groter in so ‘n mate dat dit die voortbestaan van Israel op die spel mag plaas. Israel laat hom natuurlik eweneens deur Palestynse eise en geweldsoptrede op sleeptou neem. Hy beskou dit as ‘n regstreekse bedreiging vir sy nasionale veiligheid en reageer gevolglik ewe hard en gewelddadig. En dít wel in só ‘n mate dat geboue en infrastruktuur wat alleen teen enorme koste herstel of vervang kan word, amper weekliks in Israelse vergeldingsaanvalle vernietig word. Die sogenaamde Palestynse outonome gebiede wat ‘n erger lappieskombers is as party van die gewese Suid-Afrikaanse tuislande, maak dit vir Israel maklik om hulle af te sper en toegangsbeheer toe te pas. Dit dra verder by die Palestyne tot ‘n gevoel van magteloosheid, radeloosheid en roekeloosheid by. Palestynse terreur en die feit dat Palestynse eise al onredeliker word, skep ‘n verdere vasberadenheid en verbetenheid by Israel om sy voortbestaan met alle middele tot sy beskikking te verseker. Die situasie het nou ontaard in ‘n sinnelose spiraal van geweld en vergelding, ‘n erodering van die gematigde middelveld en toenemende polarisering tot op die punt waar die een party die ander van die aardbodem wil wegvee.

In ‘n mindere of meerdere mate was en is dit die geval in al hierdie tipes konflikte. Een van die grusaamste voorbeelde van volksmoord was die poging van Turkye om die Armeniërs totaal as volk te verdelg. Die Armeniërs is Christene en die Armeense Kerk dateer uit die jaar 310nC. As sodanig is dit die tweede oudste volkskerk ter wêreld. ‘n Groot aantal Armeniërs het hulle in die destydse Turks-Ottomaanse Ryk, dit wil sê in ‘n Moslemstaat, bevind. Die Armeniërs onder Turkse bewind het ‘n sterk nasionalistiese volksbeweging gestig en op die beskerming van Christelike minderhede aangedring. Dit het die gramskap van die Turke verwek en tussen 1895 en 1896, is derduisende Armene uitgemoor. Hierdie massamoorde het sporadies voortge-duur totdat Turkye in 1915 besluit het om die totale Armeense bevolking van 1,75 miljoen uit hul tuisgebied te verdryf en na Mesopotamië en Sirië te deporteer. Die eintlike idee was om die Armeense volk te verdelg. In die daaropvolgende deportasie het die Turkse barbarisme geen perke geken nie. Na bewering het meer as 600 000 Armene tydens hierdie operasie omgekom. Sedert die vervolging in 1895 begin het, is bykans twee miljoen Armene uitgewis.

Die stryd tussen Protestante en Katolieke in Noord-Ierland, is nog ‘n voorbeeld van ‘n konflik wat waarskynlik nooit sal end kry nie omdat die haat en wantroue as’ t ware met moedersmelk ingegee word. Die Serwiese vervolging van etniese Albaniërs en die vervolging van Moslems in Bosnië-Herzegovina, is meer onlangse voorbeelde van godsdienstige en/of etniese onverdraagsaamheid wat tot uitwissingsveldtogte en sogenaamde etniese suiwering gelei het. Dit is egter veral Afrika wat sedert onafhanklikwording, sedert die laat vyftigerjare, van die beste voorbeelde van etniese onverdraagsaamheid en grootskaalse deportasie of uitwissing bied. Dink onder andere maar aan die deportasie van Uganda se ganse Indiërbevolking deur Idi Amin; aan die Hutu-Tutsikonflik in Rwanda en Burundi; aan die Biafraanse oorlog in Nigerië waarin honderdduisende Ibos die lewe verloor het in hul stryd teen oorheersing deur die Hausas; aan die burgeroorloë in Angola en Mosambiek; die menseslagting in Somalië; die uitwissing van swart Christene in die suide van die Soedan deur noordelike Moslems; die bloedige burgeroorlog in die Demokratiese Republiek van die Kongo; ensomeer. Die haatveldtog van Robert Mugabe teen blankes in die algemeen en teen blanke boere in die besonder, is slegs die begin van wat op die uitdrywing van blankes uit Zimbabwe mag uitloop.

Die vraag is of die ANC-regering in Suid-Afrika ag slaan uit tersaaklike voorbeelde elders in die wêreld en op die Afrika-vasteland van konflik wat handuit geruk het as gevolg van die versuim van regerings om betyds die aanpassings en verstellings te maak wat volksetniese konflik kon voorkom het. Terwyl die regering en sy alliansievennote, die SAKP en Cosatu, in ‘n stryd gewikkel is rondom veral ideologiese twispunte van ‘n ekonomiese aard, is daar weinig tekens te bespeur dat daar ‘n begrip vir en ‘n sensitiwiteit is ten opsigte van die regte van volke op selfhandhawing deur middel van selfbeskikking.

Ten spyte van al die artikels in die Grondwet wat betref die beskerming van taal, kultuur en geloof, word in die praktyk presies in die teenoorgestelde rigting beweeg. Onder die dekmantel van ‘n valse nasieboudogma, word kliphard gepoog om volkere en etniese verskille uit te wis ten einde ‘n sogenaamde nuwe nasie op die kommunistiese patroon te bou. Die Afrikaner word in hierdie opsig vir spesiale behandeling uitgesonder omdat sy volksidentiteit as die remskoen op die nasieboupad geïdentifiseer is en derhalwe die groot steen des aanstoots is. Diegene onder ons wat nog in die waan verkeer dat die ANC-broederskap - verdeeld soos hy op ander terreine mag wees - ons op taalgebied, op die terrein van die onderwys of ten opsigte van enige ander aspek van Afrikaner-selfbeskikking tegemoet gaan kom, gaan wreed ontnugter word. Hulle gaan ons niks gee nie, tensy ons dit deur eendragtige optrede op elke terrein van die volkslewe afdwing. Met kommuniste, sosialiste en Afrikadespote kom jy nêrens nie, tensy jy mag projekteer.

Laat ons mekaar betyds vind rondom sekere sleutelsake wat ons as volksgenote almal raak en waaroor ons almal kan saamstem. Laat ons vanaf die plaaslike vlak tot op die nasionale vlak die geleenthede wat nog tot ons beskikking is, gebruik en die vyand se agting deur eendragtige optrede afdwing. Indien té lank getalm word, word jy voor die voldonge keuse gestel van òf gewelddadige verset òf totale boedeloorgawe en vernietiging. Vrouedag, afgelope Vrydag 9 Augustus, is nog een van die ANC se ideologies gelaaide vakansiedae wat vir die nasiebou-ideaal aangewend is. Ons vroue en meisies moet ten enemale weier om hul vrou-wees vir hierdie doel te laat misbruik. Laat ons eerder ons eie vroueheldinne uit die hede en verlede herdenk en hul reuse bydrae tot ons volk se stryd gedenk.