|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 5 September 2002
DIALOOG (DEBAT) OOR DIE WAARHEID VAN GOD SE WOORD?
In "Godsdiens-Aktueel"-rubriek (BEELD van Maandag 5 Augustus 2002) bepleit prof Amie van Wyk 'n sinvolle debat oor Jesus, na aanleiding van afwykende gedagtes wat tans in die brandpunt staan."Volhoubare ontwikkeling is hierdie maand op die agenda, maaar my pen het vanself rigting gekies na die vraag oor die volhoubaarheid van die Christelike geloof en sodoende die betekenis van die lewe en werk van Jesus van Nasaret", aldus prof Van Wyk. Hy skryf verder:
"In Suid-Afrika is die afgelope tyd in dagblaaie en tydskrifte baie gedebatteer oor die vraag: wie is Jesus en wat het Hy kom doen? Uit die debatte begin dit al duideliker word dat daar twee standpunte is oor en twee groepe navolgers van Jesus".
Hy tipeer dan die twee groepe wat van die Christelike geloof, soos dit in die belydenisse uiteengesit is, verskil.
"Die standpunt van groep een is nie nuut nie. In die vroeë kerkgeskiedenis het dit reeds voorgekom, maar veral van die Verligting van die agttiende eeu het dit in Europa byna onstuitbare momentum opgebou. Tans word dit ook in Suid-Afrika gehoor.
"Groep twee handhaaf die tradisioneel Christelike standpunt wat in die hoofstroomdenke van die Katolieke, Oosters-Ortodokse en Protestantse kerke aangetref word. Dit is die tradisie waarin ekself graag staan, omdat die Woord en Gees van God my daarvan oortuig", sê hy.
In die motivering van dié twee groepe se standpunte skuil ongetwyfeld waarheidsmomente. Maar aan belangrike verskille tussen die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse kerke wat die tradisioneel Christelike standpunt aangetas het, word verbygegaan.
Die belydenisskrifte is vir Gereformeerdes die toetssteen in die beoordeling van kerkdominasies se leer, diens en tug, of ons ons met hulle kan vereenselwig of nie. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (art 29) stel dit onomwonde dat ons "met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien".
Die vraag is nou, kan ons met voorgangers van dié denominasies wat in die leer sterk afwykend is 'n debat oor Jesus voer?
Volgens prof Van Wyk raak "die huidige debat oor Jesus problematies en verwarrend" omdat "voorstanders van die standpunt van groep een, hulle (grotendeels) in groep twee bevind en van daar die standpunt van groep een propageer. So 'n benadering gaan mank aan openhartigheid en deursigtigheid".
Hoewel ons saamstem oor die tegniek van debatvoering, soos daarna verwys word, dat dit verwarrend en problematies raak, stem ons nie saam met die oplossing wat prof Van Wyk voorstaan nie. Hy adviseer met ander woorde 'n dialoog met diegene wat Jesus nie suiwer volgens God se Woord aanvaar en dien nie. Wat groep een betref is daar geen verduideliking nodig nie. Maar groep twee? Glo hulle dat Jesus met sy lyding as die enigste versoeningsoffer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf het? (HK, Sond 15, vr/antw 37) Die Roomse mis daarenteen leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word ... Die mis is dus in wese niks anders nie as 'n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus en 'n afgodery wat vervloek is. (HK, Sond 30, vr/antw 80)
Groep een sien Jesus as uitnemende wysheidsleraar en hulle bewonder Hom as mens, miskien selfs as die belangrikste mens wat ooit op aarde geleef het. Maar sy kruisdood word egter nie as heilsdaad van God aanvaar nie. Met die "bloedteologie" van Paulus en Hebreërs, dit wil sê die interpretasie wat Paulus aan die kruis gee, het hulle groot moeite, trouens, dit word verwerp of herinterpreteer. Paulus se interpretasie pas nie by die moderne lewensgevoel nie. En dan die liggaamlike opstanding: dis wetenskaplik nie meer aanvaarbaar nie en moet daarom metafories verstaan word, sê prof Van Wyk.
Dis duidelik dat dit sterk afwykend van die skriftuurlike denke is.
Tog weeg prof Van Wyk groep twee volgens verkeerde stene. Want as hy die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse aanvaar tesame met die Protestantse tradisie, "waarin hyself graag staan", dan gaan hy verby aan die stryd van die Christelike Kerk om die waarheid van God se Woord.
Hy beweer dat "hulle Jesus nie net as hoogste Profeet bely nie, maar ook as enigste Hoëpriester en ewige Koning. Hulle bely dat Jesus van Nasaret die Messias en Here is. Hulle bely dat Hy as Lam van God aan die kruis gely, die sonde van wêreld weggeneem en mense van die ewige dood gered het. Hulle aanvaar dat Jesus waarlik uit die dood opgestaan het en nou die lewende Heer is wat oor alles en almal regeer. Nie net sy bóódskap is vir hulle belangrik nie, maar ook sy verlossingswerk en sy persóón self. Hy is vir hulle méér as 'n mens. Hy is die beeld van God. Iemand in wie God met sy volle wese inwoon. Hy is Verlosser en Here". Dit is egter betwisbaar in hoeverre die Rooms-Katoliekes en Oosters-Ortodokses die Bybel aanvaar as leiding en gids. Is die verskille tussen hulle en ons, Gereformeerdes, gering en van ondergeskikte betekenis?
Volgens prof Van Wyk "sal die debat rigting kry indien dié wat die standpunte van groep een voorstaan, hulle onverbloemd dáár groepeer. Dan kan ons mekaar nog steeds as mense (en Jesus-volgelinge) respekteer, hoewel ons belydenis oor die persoon en werk van Jesus radikaal verskil. Dan sal ook duideliker blyk wat ons onder evangelie en onder kerk verstaan".
Nadat die Oosters-Ortodokse kerke van die Rooms-Katolieke Kerk weggebreek het en laasgenoemde aan die pous 'n gesag naas die Here en sy Woord toegeken en verleen het, is daar 'n kloof tussen die kinders van die Reformasie wat nie oorbrug kan word nie. Debat, dialoog tussen hulle en Gereformeerdes het geen sin as dit nie op bekering gerig is nie. Daar kan slegs oortuigingswerk verrig word om volgelinge te oortuig en te bekeer.