|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 5 September 2002
MEDIESE ETIEKSIEKTE EN GENESING
- DR MC DURAND -
Die probleem
In ons alledaagse taal word siekte beperk tot die versteurings van liggaamsfunksie en liggaamsbou; psigiese versteurings; en die pyn en lyding van trouma. Genesing sal derhalwe die opheffing van hierdie wanfunksies, letsels en lyding wees. Byvoorbeeld: n Siekte soos die ontsteking van die blindederm kan genees word met die chirurgiese verwydering van die blindederm. Sodoende kan die geneeskunde as middel gebruik word om pasiënte te genees.
Hierdie is egter n verskraling van die konsepte van siekte en genesing. Hierdie konsepte van siekte en genesing sluit die siel van die mens, sy sonde en sy verlossing uit. Om tevrede te wees met hierdie verskraling, moet ons terselfdertyd ook tevrede wees met die skeiding tussen God en sy skepping.
Die probleem kan opgelos deur terug te keer na die Woord van God. Die Woord van God leer ons beter wat genesing beteken as wat die sekulêre geneeskunde ons kan leer. God leer ons in sy Woord dat genesing n meer omvattende begrip is:
Genesing is nie net vir mense nodig nie
In die Skrif beteken genesing nie net om iets reg en heel te maak nie (Jer 19:11; 1 Kon 18:30; Ps 60:3), maar dit beteken ook om iets heilsaam en gesond te maak (2 Kon 2:21-22; Eseg 47:8-9). Dit beteken dat nie net mense nie (Num 12:10; 1 Sam 5:6; 1 Sam 6:11-17; 2 Kon 20:8; 2 Kon 8:29; 2 Kron 22:6; Ps 103:3; Lev 13:18,37), maar ook geboue (Lev 14:48) en selfs die land (Deut 29:22; 2 Kron 7:14; Ps 60:4) soms genesing nodig het.
Genesing is nie net vir die liggaam nodig nie
In die Skrif word genesing nie net tot die genesing van die liggaam beperk nie. Die woord genesing word in die Skrif ook gebruik vir die genesing van die gebroke siel. En niks breek die siel meer as die sonde nie. Dat genesing in die Skrif sowel die genesing van die liggaam as die genesing van die siel behels is ook nie verrassend nie. Die mens is dan meer as net liggaam. Die mens is n liggaam-siel tesame. Die genesing van die mens is na liggaam en siel (Ps 103:3 en 4; 147:3; Jer 3:22; 1 Petrus 2:24; vergelyk Ps 34:19; Luk 4:18; 19:9). God skei nie die genesing van die liggaam van die genesing van die siel nie (Matt 9:2-6).
Die liggaamlike siekte vereis nie net die genesing van die liggaam nie.
Dit is onvoldoende om die oorsaak van die siekte tot die sigbare natuur te beperk - naamlik om die oorsaak van die siekte tot infeksies, geweld of genetiese afwykings te beperk. Dit is ook onvoldoende om die oorsaak van die siekte tot die werking van die bose, die satan en die demone te beperk. God is tog die Almagtige. God is die Een wat met toorn oor die skepping (vanweë ons sondes) besig is. God is die Een wat deur die natuur en die omstandighede en ons eie dwaasheid siektes oor ons bring. En Hy bewerk hierdie lyding by ons vanweë ons sondes (Vergelyk Eks 15:26). Daarom herinner die siekte ons eerstens aan ons sondes. Dit beteken dat die siekte ons eerstens dwing tot die soeke van vergiffenis van die sonde, en dwing tot die ywer om in gehoorsaamheid tot God te groei (Eks 23:25-26; Deut 7:13-15; vergelyk 2 Kron 36:16; Spr 29:1; Jer 3:22; Hos 14:3; Joh 15:14) voordat ons die genesing van ons liggame begin soek.
Genesing van die mens het soms juis die siekte van die liggaam nodig
God beloof aan al sy gelowiges die volkome herstel en genesing van die liggaam op aarde. God leer ons dat op die jongste dag van die Here sy gelowiges uit die grafte sal opstaan met n geestelike liggaam wat onverganklik, heerlik en sterk sal wees (1 Korintiërs 15: 42-44). Die Here mag die liggaamlike siekte by sy uitverkorenes juis gebruik tot redding en volkome genesing (na liggaam en siel (Vergelyk ook Jes 6:10; Jer 30:17; Hos 5:13; Hos 6:1).
Die Here gebruik die lyding by sy uitverkorenes nie tot hul verdelging nie, maar tot hul bekering en verbetering (Heb 12:6). Derhalwe sal die siekte en meegaande lyding die gelowige nie net noop tot pogings om die liggaamlike lyding te verlig nie. Die siekte en meegaande lyding sal die gelowige ook noop om die bekering van sy hart te soek, en sy ore oop te maak tot gehoorsaamheid aan God. Die liggaamlike siekte dwing die gelowige om alle middele wat God beskikbaar stel te gebruik: naamlik die Skrif, die gebed, en nie net die artse nie. Die vrees van die Here bring volkome genesing na liggaam en siel (Spr 3:7-8; 4:20-22; vergelyk ook Jer 30:17; 33:6-9). Die siekte eis van die gelowige die offerande van n gebroke gees. God sal die gebroke en verslae hart nie verag nie. Daarenteen bring die verharding teen die Here n ongeneeslike toestand (Spr 6:15; 29:1; vergelyk ook Jer 14:19; Miga 1:9; Jer 30:12-15).
God is die Geneser
Slegs God het alle mag tot genesing (Deut 32:39). Die Here Jesus het aan sy gelowiges hierdie algehele genesing verdien (Jes 53:4-5; Matt 8:17). God bied aan ons die oprdrag tot-, en die inhoud van die geloof in sy Woord. Deur sy uitverkiesende genade wek Hy in ons harte die wil tot bekering en gehoorsaamheid. Deur die liggaamlike lyding, word hierdie opwekking van die wil tot bekering en gehoorsaamheid verder geprikkel by diegene wat God liefhet (vergelyk Psalm 119:67 en 71; Rom 5:3 en 4).
Die mens as geneesheer?
Die gesondheidsorg wat die geneesheer aanbied kan derhalwe slegs maar n klein en tydelike deel uitmaak van die genesing van die pasiënt.