|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 5 September 2002
OPVOEDING EN ONDERWYS PRETORIASE AKADEMIE VIR ONDERWYS OPEN SY DEURE (Mediaverklaring Dr Pieter van der Dussen, 29 Julie 2002) Die Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys (PA vir CVHO) het op 16 Julie 2002 sy deure geopen. Studente in Opvoedkunde, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe asook Regte het vir die voortsetting van hulle studie aangemeld. Klasse gaan reeds volstoom voort danksy toegewyde werk van die Direkteure van die Instelling.Die PA vir CHO is uitgesproke Christelik volgens die Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing en daar word van studente verwag om dit te onderskryf of te aanvaar. Verder is hy volledig Afrikaans, akademies en administratief, en vanuit sy Christelik-volkseie grondslag op die Afrikanervolk en sy kultuur gerig.
Op 26 Julie 2002 is 'n aansoek om registrasie as private instelling van hoër onderwys by die Registrateur van Private Instellings vir Hoër Onderwys ingedien. Terselfdertyd is 'n aansoek om akkreditering van die graad Baccalaureus Economiae aan die Raad op Hoër Onderwys oorhandig. Aansoeke om akkreditering van onderwys- en regskursusse sal binnekort voorgelê word. Oorweging van die aansoeke kan egter tot ses maande duur.
Die PA vir CVHO is as Maatskappy onder Artikel 21 van die Maatskappywet geregistreer. Die Voorsitter van die Direksie is prof Willie Lubbe (akademikus) met mnr André Mouton (sakeman) as Ondervoorsitter en dr Pieter van der Dussen (akademikus en akademiese bestuurder) as Besturende Direkteur. Die ander Direkteure is mnr Pieter Hamman (boer en sakeman), mnr Kobus Kok (akademikus) en mnr Leonard van der Dussen (sakeman). Die goeie balans tussen akademiese en sake-ingesteldheid strek die bestuur van die PA vir CVHO tot voordeel.
Die Direksie het op 11 Mei 2002 tot die oprigting van die PA vir CVHO as 'n selfstandige instelling vir hoër onderwys besluit, met die doelstelling om in 'n volwaardige instelling op universiteitsvlak te ontwik-kel. Die bestuursdoeltreffenheid spreek daaruit dat hy binne drie maande na die beginselbesluit sy deure kon open en sy dokumentasie vir registrasie en akkreditering aan die betrokke owerheidsliggame kon voorlê.
Voornemende studente in Opvoedkunde (onderwysersopleiding), Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (skoling tot entrepreneurskap) en Regswetenskappe word uitgenooi om vir 2003 navraag te doen. Navraag kan ook oor die Lettere- en Natuurwetenskappe rigtings gedoen word. Elke navraag sal deeglik oorweeg word.
Die Direksie is dankbaar dat die HERE in al die daaglikse behoeftes so voorsien het dat hy danksy ruimhartige onderskrywing deur Van der Dussen Inligtingstegnologie (Edms) Bpk en 'n ruimskootse voorsiening deur 'n welwillende trustfonds, kontant kan werk. Die Direksie sal graag danksy dié voorsiening oorweging verleen aan die aansoek van studente om merietebeurse ná hulle registrasie by die PA vir CVHO.
Navrae moet gerig word aan die Besturende Direkteur, Pretoriase Akademie vir CVHO, Posbus 13488, CLUBVIEW 0014. Per faks aan (012) 663 2808 of per telefoon by (012) 663 3190 / 082 820 5298. E-posadres: navrae@pacvho.org.za
REGERINGS-GELEIDE ONDERWYS Eksplisiete boek skets duidelike seksprentjie Onder die subhoof hierbo, beskryf Neels Jackson die volgende gevaarlike praktyk wat vandag in 'n leerboek van die staatsonderwys aangetref word. (BEELD, Dinsdag 30 Julie 2002, bl 3) Eksplisiete sketse om te verduidelik hoe 'n mens 'n kondoom aansit en 'n grafiese beskrywing van hoe 'n paartjie seks het, is maar twee van die voorbeelde in 'n lewensoriënteringswerkboek vir gr 9-leerlinge wat glo baie mense se oë laat rek.
'n Onderwyser aan 'n Afrikaanse hoërskool het gister te kenne gegee dat hy verwag dat ouers gaan kla as hulle die leermateriaal sien wat hul 14- en 15-jarige leerlinge op skool hanteer.
Die werkboek van die multimedia-organisasie Soul City hanteer verskeie aspekte van kinders se geslagtelike ontwaking sonder om doekies om te draai.
Daar is hoofstukke oor die liggaam, selfkennis, die bou van verhoudings, hoe om oor seks te praat, liefde en seks, veilige seks en MIV en vigs. ...
Dr Jorrie Potgieter, predikant van die NG gemeente Lynnwoodrif wat in tienerbediening spesialiseer, het waardering vir die filosofie agter die werkboek, maar wonder of van die materiaal - soos die beskrywing van 'n paar se bewegings en belewenisse tydens die seksdaad - nie te eksplisiet aangebied word vir sulke jong kinders nie.
Verder is hy besorg oor die moontlikheid dat die boek losbandigheid kan bevorder deurdat daar op plekke vir kinders gesê word hulle moet self besluit wat is reg vir hulle.
Dr Louis Dressel, NG predikant in algemene sinodale diens vir die jeug, het gesê dis belangrik dat kinders korrekte inligting kry. Hulle behoort dit in die ouerhuis te kry, maar kry dikwels verkeerde inligting by hul maats.