|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 5 September 2002
OPVOEDING EN ONDERWYS WORD CHRISTELIKE EN AFRIKAANSE ONDERWYS ONWETTIG? - BOUWE VAN DER EEMS - PRETORIA - Die Departement van Onderwys is tans besig met die wysiging van die Onderwyswet, wat onderwys in Suid-Afrika ingrypend kan verander. Dit is belangrik om hiervan kennis te neem, want indien hierdie wysigings goedgekeur word, dan is Christelike skoolonderwys deur Christenonderwysers in effek onwettig.Artikel 61 van die Onderwyswet gaan gewysig word om die Minister van Onderwys onder andere die volgende magte te gee:
1) Om n nasionale kurrikulum voor te skryf vir publieke en onafhanklike skole.
2) Om n nasionale assesseringsinstrument voor te skryf vir publieke en onafhanklike skole.
Die nasionale kurrikulum waarna verwys word is verlede jaar vrygstel vir publieke kommentaar. Ondanks die baie kritiek wat hierdie kurrikulum uitgelok het, is dit met minimale wysigings goedgekeur. Die belangrikste punte van kritiek teen hierdie kurrikulum is die volgende:
a) Dit poog om die waardes van die Intergeloof godsdiens aan leerlinge oor te dra.
b) Dit poog om kulturele diversiteit af te breek en die kultuur van die deur die owerheid gefabriseerde reënboognasie oor te dra.
Indien hierdie wet-gewing goedgekeur word, en die minister gebruik sy mag om die nasionale kurrikulum aan alle skole voor te skryf, dan sal dit onwettig wees om onderwys aan skole te gee wat Christelike waardes of Afrikaanse kultuur aan leerlinge oordra. Dan sal dit byvoorbeeld onwettig wees vir ARSO en CVO skole om onderwys aan leerlinge te gee wat Christelik of Volkseie is.
Indien skole sou besluit om nie die nasionale kurrikulum te gebruik nie, sou dit weinig waarde hê, aangesien die minister ook n nasionale assesseringsinstrument kan voorskryf, wat seker maak dat leerlinge die nasionale kurrikulum hulle eie gemaak het. Indien skole sy leerlinge wil voorberei om die nasionale eksamem te slaag, sal hulle geen ander keuse hê as om hulle kinders te onderrig in die nasionale kurrikulum nie.
Indien die skole sou besluit om n ander kurrikulum en assesseringsinstrument te gebruik, dan sou dit ook van weinig nut wees, aangesien die minister ook beplan om die nasionale sertifikaat (wat uitgereik word indien die toetse van die nasionale asseseringsinstrument geslaag word) as toelatingsvereiste te stel vir tersiëre inrigtings.
Hieruit behoort dit duidelik te wees dat die Departement van Onderwys besig is om n steierwerk van wetgewing daar te stel, wat dit onmoontlik gaan maak vir skole om Christelike waardes of n Afrikaanse kultuur aan leerlinge oor te dra.
Alhoewel hierdie ontwikkelinge lank reeds voorsien is, hou Christenouers vol om hulle kinders na staatskole te stuur. Baie Christelike privaatskole voer nog steeds n sukkelbestaan en daar is nog maar weinig sprake van organisasies wat toenemende en volgehoue druk op die owerheid plaas om vryheid vir Christelike en Afrikaanse onderwys te waarborg. Die rede waarom hierdie ouers nog redelik tevrede is met die status quo, is waarskynlik omdat hulle meen dat die onderwysopset soos dit tans is nog genoeg ruimte laat om die kinders min of meer volgens hulle waardes onderwys te gee. Die kurrikulum is vaag genoeg dat dit so geïnterpreteer kan word, dat dit die onderwys in Christelike waardes kan insluit, en die onderwysinspekteurs aanvaar nog hierdie interpretasies.
Dat hierdie interpretasies nie in ooreenstemming is met die intensie van die kurrikulum nie, besef almal, en dit is daarom net n kwessie van tyd voordat die Onderwysdepartement die intensie van die kurrikulum sal duideliker maak, en inspekteurs minder verdraagsaam sal wees teenoor interpretasies wat afwyk van die intensie. In hierdie wetgewing wat die seggenskap wat ouerliggame het oor die aanstelling van onderwysers ook afgeskaal en soos die ouers ook al hoe meer beheer verloor oor die aanstelling van onderwysers, sal die onderwysers wat deur die departement aangestel word, die kurrikulum al hoe meer in lyn met die intensie daarvan aanbied.
Alhoewel hierdie wetswysigings baie ingrypend is, gaan baie ouers nog ontken dat dit in die praktyk n verskil gaan maak. Die goeie onderwysers in die staatskool waarna hulle kinders gaan sal mos nie oornag iets anders begin leer, of vervang word met ander onderwysers nie? Hierdie argument is korrek op die kort termyn, maar hierdie wysigings stel egter n wetlike raamwerk in plek waarvolgens die minister oor die lang termyn Christelike en Afrikaanse onderwys kan uitfasseer, sonder om ooit na die parlement toe te gaan vir toestemming.
Hierdie wysigings van die wetgewing beïnvloed nie die wetgewing oor tuisonderwys nie, en daarom sal ouers wat hulle kinders tuisonderwys gee, steeds wettiglik kan voortgaan om hulle kinders volgens hulle waardes onderwys te gee. Dit is egter geen rede vir ouers wat tuisonderwys gee om nie bekommerd te wees oor hierdie ontwikkelinge nie. Indien hierdie wysigings goedgekeur word, word ouers daarmee die reg ontneem om hulle kinders onderwys te gee volgens hulle waardes en hulle kultuur. Indien die owerheid dit regkry om hierdie regte weg te neem van ouers wat hulle kinders na skole toe stuur, dan is dit net n kwessie van tyd voordat die owerheid hierdie regte wegneem by ouers wat hulle kinders tuisonderwys gee. Ouers wat tuisonderwys gee, en ouers wat hulle kinders na skole stuur behoort daarom saam te staan om hierdie ontwikkelinge te beveg. Die stryd teen hierdie ontwikkelinge kan vir ouers en kinders n wonderlike les wees oor hoe Christene hulle verset teen n nie-Christelike, sekulêre owerheid.
Met hierdie wetswysigings word gehoorsaamheid aan die doopsbelofte onwettig gemaak. Laat ons daarvoor bid, en daaraan werk, om ons te verset teen hierdie wetswysigings, sodat vandag en môre se ouers hulle kinders stil en rustig kan onderrig in die gereformeerde leer en hulle moedertaal. Indien ons dit nie doen nie, is dit net n kwessie van tyd todat Christelike en Afrikaanse onderwys onwettig word.