|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 5 September 2002
SKRIFOORDENKING
GEROEPENES KAN 'N VERSKIL MAAK
- DS SAREL CILLIERS - WATERBERG -
Skriflesing: Matteus 5 : 1 - 16 en 2 Konings 5
Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? ...Julle is die lig van die wêreld ... en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander ...
Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik. Matteus 5: 13 - 16
I
n bovermelde twee Skrifgedeeltes staan twee sake helder en duidelik na vore. Eerstens is dit opmerklik hoe die Here mense hier op aarde in sy diens gebruik. Tweedens is dit opmerklik watter verskil daardie dienswerk hier op aarde meebring.Die boodskap is duidelik: Jy is deur die Here geroep daarom kan jy n verskil maak.
Wat is roeping?
Adam en Eva is geskape met die opdrag, of te wel die roeping: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip." (Gen 1: 28)
Die mens is ook geskape as n beelddraer van God, as sy verteenwoordiger op aarde. Roeping beteken dus om hier op aarde aan God diensbaar te wees. Daarom moet ons altyd en oral getroue en dienende burgers en burgeresse in sy koninkryk wees.
Die Israelitiese meisie is hiervan die duidelike voorbeeld. By haar was daar geen onsekerheid oor God se kragtige werking deur die profeet nie. Sy het geloofskennis gehad wat selfs die Koning van Israel nie gehad het nie. Sy het geweet dat God deur die profeet kan verlos en sy het ook ge-weet dat God regtig omgee dat Hy gebede wil verhoor. Hierdie wonderlike kennis wat sy gehad het, het sy ongeag haar moeilike omstandighede, nie verswyg nie. Dit was vir haar geen verleëntheid nie, maar wel n besondere geleentheid waarin sy n verskil kon maak.
Ons as mense is almal, groot en klein, oud en jonk, ryk en arm, geskape om as geroepenes van die Here vir Hom en ons naaste hier op aarde diensbaar te wees. Jy en ek moet as gehoorsame geroepenes van die Here n verskil kom maak in n donker en slegte wêreld deur n sout vir die aarde en n lig vir die wêreld te wees.
En hoekom is die wêreld dan so donker en sleg? Omdat die sondeval die mens van sy roeping beroof het. Deur die sondeval het die mens in ongehoorsaamheid hom teen die Here gedraai.
Die Sondeval het ons van ons roeping beroof
As sondaars is ons almal geneig om God te haat en is ons nie meer bereid om vir God en ons naaste diensbaar te wees nie. Die mens is nou net vir homself diensbaar. Sy grootste vreugde is natuurlik om te doen net wat hy wil en om tog eendag net n ryk mens te kan wees.
God en sy koninkryk word nie meer raakgesien nie. Daarom raak dit hom nie as God se eer aangetas word nie. Hy het ook geen lus om ander te help nie. Om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees bestaan glad nie in sy lys van ideale nie. So iemand het sy roeping heeltemal verloor.
In 2 Konings 5 lees ons van nog n jongmens, Gehasi. Hy is presies n voorbeeld van iemand wat sy roeping verloor het en daarom ook die teënbeeld van daardie jong Israelitiese meisie. Sy selfsug en geld-gierigheid wat vir hom die lewe moes oopvou, was juis sy einde. Naäman se melaatsheid het toe op hom en sy nageslag gekom.
Vanweë die sonde staan ons almal skuldig voor God. Die wêreld is vandag grotendeels n donker plek vanweë die feit dat mense hulle roeping versaak en hulle doel op aarde mis.
Die haglike toestande in ons eie lewens, in ons huwelike, in ons skole, in ons samelewing, in ons land en in hierdie wêreld is net aan onsself toe te skryf. Ons is nie meer sy soutende sout en ligtende ligte nie
Maar God het ons nie aan onsself oorgelaat nie, daarom kom Hy in sy Woord telkens tot ons met die Evangelie Die Blye Boodskap van sy genadige ingrype.
Met God se ingrype deur Jesus Christus word ons weer diensbaar
Van Adam en Eva wat in skaamte voor God wegkruip sou daar geen dienswerk te wagte kon wees nie. God kom hulle egter genadig tegemoet met die moederbelofte wat profeteer van die koms van Jesus Christus wat die kop van die slang sal vermorsel, wat Satan sal oorwin. Boonop ontvang hulle beter klere in die vorm van rokke van vel. En op grond van daardie belofte is daar weer hoop en kan hulle God gelowig dien.
Telkemale gryp God in gedurende die Ou Testament. Die koms van die Messias het Hy deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offers en ander seremonies van die wet laat uitbeeld; Eindelik het Hy dit deur sy eniggebore Seun vervul (HK vr/antw 19).
God se uitverkiesende ingrype in Jesus Christus is een stuk genade. Daardeur word weer n nuwe begin gemaak. Hy het ons in Christus uitverkies: "om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde." (Ef 1: 4-6) Ons is dus geroepe om in hierdie wêreld heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees. Ons moet as sy kinders in hierdie wêreld leef en optree.
Sy ingrype is n genadige ingrype. Hy begin sy eerste openbare optrede met Saligsprekinge. Hy is die Saligmaker, die enigste en volkome Verlosser uit al die sondedood en geestelike onreinheid. Hy is die eintlike Sout wat die verderf uitskakel en aan n verrotte lewe weer nuwe smaak kom gee. Hy het ook gesê: "Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê."
Jesus Christus het na hierdie wêreld gekom om die mens van sy sondige selfgesentreerdheid te reinig. Hy bring ons in situasies waarin ons diensbaar moet word. En nou word elkeen wat deur die geloof in Jesus Christus ingelyf is geroep om vanuit sy soutende krag en sy heldere lig n sout vir die aarde en n lig vir die wêreld te wees.
Die Here gebruik jou in sy diens
Die Israelitiese meisie, met haar geloofssekerheid, is op n besondere manier geroep om diensbaar te wees. En in haar gehoorsame diensbaarheid het sy n groot verskil gemaak. Ons weet nie eers wat haar naam is nie. Dit maak ook nie saak nie, wat saak maak is haar dienswerk. Sy het n verskil gemaak in die huis waar sy diensmeisie was. Paulus het sy dienswerk selfs in die tronk voortgesit en wat se veranderinge het dit nie tot gevolg gehad nie.
God maak jou op n besondere manier bekwaam en stel jou in geleenthede om ook diensbaar te wees. Is jy soos sout wat stil en onsigbaar jou invloed laat geld sodat die kwaad geweer word en die lewe om jou smaakvol is. Die krag van sout lê juis in sy skoon kragtige andersheid. Of soos lig wat nie terugdeins nie, maar duidelik na vore tree en die duisternis verdryf om die pad aan te wys en die struikelblokke op die pad ook duidelik uit te wys.
Ons het n roeping om te vervul. Gelowiges op leunstoele of soos toeskouers langs die veld baat niks, net soos sout op die rak en nie in die bak nie, of soos lig onder die maatemmer en nie op die staander nie. Ons taak is binne hierdie wêreld en is daarin geleë: dat ons weer sout vir die aarde en lig vir die wêreld sal wees; dat ons weer reformerend sal werk, terug na die Bybel en terug na God. Prakties kan dit die volgende beteken: Jy is dalk deel van n ongelukkige huwelik, of jy is bewus van groot struwelinge, of van Godonterende praktyke. Is jy gereed om soos sout en lig op te tree?
Ons is almal bewus van die stryd teen God se Woord as die enigste onfeilbare gesag in al die fasette van ons lewe asook die owerheid se aanslag op ons jeug. Ons sit almal in n land waarin moord en roof hoogty vier. Mag ons maar hiervan net kennis neem? Is dit nie in n tyd soos hierdie dat God jou en my geroep het om n sout en lig te wees nie?
Mag jy op die einde van jou aardse pad ook hoor: "Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer." (Matt 25: 21 en 23)