|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 5 September 2002
DIE KOMMUNISME
- DS JGM DREYER (NHK) - 31 MAART 1964 - STADSAAL VAN PRETORIA -
Kommunisme en Christendom is die uiterste twee pole van mekaar en die Kommunisme is vyand nommer een van die Christelike kerk. En 'n Christelike kerk wat koëksistensie (sintese) met die Kommunisme preek, is ontrou aan die Evangelie van ons Here Jesus Christus.Kommunisme is uit die mens en daarom word in kommunistiese kringe voortdurend die regte van die mens beklemtoon. Kommunisme sê dit eis die hele mens op vir homself met alles wat hy is en alles wat hy besit. Die Christelike Evangelie daarenteen sê: "Nee". Die regte van 'n mens word nie in die eerste plek beklemtoon nie maar die regte van God en die eer van God. Want alleen dán kan 'n mens as mens reg laat geskied aan jou naaste, wanneer jy in die regte verhouding tot God staan en daarom begin ons daar.
Die Kommunisme is uit die aarde - aards. Die Christendom uit God; dis van Bo. Daarom kyk die Kommunisme vas teen alles hier benede; materialisme - die oog is voortdurend gehou op die stoflike - en daarom het die Kommunisme eintlik geen toekoms nie want hulle moet uiteindelik almal, die belangrikste kommunis ook, dood-staar op die einde, blindstaar op die dood. Die Evangelie van Jesus Christus kyk oor graf en dood heen omdat ons glo in 'n voortbestaan ná hierdie lewe.
Die Kommunisme is 'n demoniese ideologie; dit beklemtoon die leuen. Die Christelike Evangelie is die Evangelie van waarheid. Daarom het ons Heer gesê: "Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe". En die Christendom eis ook die hele mens op maar nie vir die mens as sodanig nie, ook nie vir die Staat soos die Kommunisme doen nie. Die Christendom eis die hele mens op, die totale mens, vir God en leer dat jy God moet liefhê met jou hele hart en Hom moet liefhê bo alles.
Met een woord kan ons dit so kortliks saamvat; die Kommunisme is anti-Christelik - van begin tot end - en dit staan teenoor Christus onse Here.
Dat die Kommunisme anti-Christelik is sien ons nie alleen in sy optrede in die wêreld nie; ons hoef dit ook nie te leer uit die koerante nie; ons kan dit elke dag uit die Bybel lees. Die Woord van God leer duidelik wie en wat die anti-Chris is; wat sy werking sal wees; hoe sy optrede sal wees; hoe hy nagevolg sal word; hoe skitterend die persoon van die anti-Chris sal wees; hoe 'n groot persoonlikheid hy sal wees; hoedat hy magtige tekens en wonders sal doen en hoedat hy die publiek, die ganse mensdom sal aansleep wat bewondering sal hê vir sy bekwaamheid, vir sy genialiteit en vir sy kragspersoonlikheid. ...
Ek wil ten slotte u aandag bepaal by hoedat in die wêreld en kortliks in Suid-Afrika, noual die weg vir die Kommunisme en vir die koms van die anti-Chris voorberei word.
Die eenheidstrewe wat vandag gevind word op elke terrein in die volkslewe, in die buiteland en hier op politieke gebied, op kerklike gebied, op maatskaplike gebied, op handels-gebied, op ekonomiese gebied - orals is 'n uiting om 'n eenheid te skep sodat uiteindelik die anti-Chris wanneer hy sal kom, 'n eenheid daar kan vind; 'n eenheid wat hom na kan loop en bewondering kan hê vir sy bekwaamheid as leier van die mensdom as sodanig.
En ek wil u net ten slotte dan wys hoedat in Suid-Afrika, ons eie land, die weg vir die koms van die anti-Chris voorberei word. 'n Dame het vir my gesê 'n mens kan wanneer jy 's môrens kerk toe gaan bykans elke keer op 'n plakkaat van een of ander bepaalde koerant sien, een of ander aanval teen 'n kerk of 'n dominee. En waarom teen 'n kerk of 'n dominee? Omdat dit die laaste fort is ook van die Afrikaanse volk in Suid-Afrika. Daarom word die vyandskap en die aanvalle gerig teen die Christelike kerk en in besonder dan die Afrikaanse kerk en sy dienaars van die Woord. Dit moet vir ons vingerwysings wees vir die gevaar wat ons as volk en as kerk bedreig want wanneer die kerk tot 'n val gekom het en wanneer die bande van die kerk met God verbreek is, dan het die Kommunisme vry spel oor die lewe van die mense.