|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 5 September 2002
REDAKSIONEEL
Sedert die verskyning van die Julie-uitgawe van ons blad het daar verwikkelinge plaasgevind waarvan met gemengde gevoelens van kennis geneem of wat ervaar is. Van dié sake word oor gerapporteer asook toegelig en bespreek. Dis 'n jammerte dat 'n konflik in die binnekring van die Raad van die Akademie vir CVHO gelei het tot 'n breuk en dat 'n gedeelte van die Raad saam met dr Pieter van der Dussen, onder die voorsitterskap van Prof dr Willie Lubbe (Voorsitter van die Direksie) gevolglik 'n alternatiewe Akademie, die Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys begin het. Mediaverklaring hieroor op bl 16). Die toekenning van 'n eredoktors-graad aan emeritus aartsbiskop Desmond Tutu deur die Raad van die PU vir CHO het binne die kring van ondersteuners van die PUK nogal beroering veroorsaak. Die redaksie van ons blad is prinsipieel skerp gekant daarteen. Lees asseblief die gestelde motiverings. Ook bestaan daar sterk verontrusting oor die finansiële beheer van fondse wat algemeen deur bestuursinstellings, maar ook selfs deur die Administratiewe Buro van die GKSA, swak of onverantwoordelik beheer word as gevolg waarvan, volgens gerugte en beriggewing in die pers aansienlike geldelike verliese gely is. Ten slotte verwys ons nog na die Johannesburgse Aardeberaad wat vanaf 26 Augustus tot 4 September in Sandton gehou word met, wat ons betref, bedenklike doelstellings soos een-wêreldregering, die Nuwe Wêreldorde, een godsdiens (Intergeloof) en "menslike en onmenslike" metodes van geboortebeperking. Laat die Here se Woord ons gids wees om vir ons die wysheid en leiding te verskaf.