Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die les van die geskiedenis

AKTUEEL: Hulde aan die vrou en moeder

Tutu : Die plofkrag van die Bybel       

SKRIFOORDENKING:
Verwyder vreemde gode....

Oproep vir 'n Verootmoediging....

Sonde van kerkskeuring?

Reformatoriese verset

Die hartklop van die verlossing

Besinning oor Sinode 2003: Vrou in die diakenamp

KERKLIKE JOERNAAL: 
Handelinge van Nasionale Sinode 2003

Onenigheid in kerkverband

Kerkrade GKSA Bloemhof en Christiana reageer

Klag van leerdwaling teen Spanenbergagterweë gehou

NG Kerk se affiliasies

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Sinode GKSA: Standpunt teenoor evolusionisme

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Bybel in Afrikaans - Sewentig Jaar

Gereformeerde Skrifverklaring Openbaringsgeskiedenis of Sosio-histories

PERSRUBRIEK: 
Gesprek met Ronel Pieterse

Sistematiese beïnvloeding van twyfelagtiges in die Kerk

Versoening en Naasteliefde

Feminisme en die huisgesin

Hervorming

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van Kantianisme

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 4 September 2003

OPROEP VIR 'N DAG VAN VEROOTMOEDIGING VIR DIE HERE

GERIG AAN DIE LERAARS VAN DIE CHRISTELIKE KERKE VAN DIE AFRIKANERVOLK

ONDERTEKEN DEUR DR WILLIE MARAIS (EM) NG KERK> 17/07'2003

Hierdie oproep van dr Willie Marais raak die aandag van die kerk- en volksaak waarvoor ons ons met die publikasie van Die Kerkpad vir beywer. Daarom gaan ons nie hieraan verby nie. Ons het egter ernstige bedenkinge oor die motief en die wyse waarop dit deur die skrywer van hierdie brief aangevoor word.

Hieronder volg die brief in sy geheel soos hy aan ons bekendgestel is. Volgens dr Marais het hy 'n ervaring beleef "asof hy in die teenwoordigheid van die Here gekom het". Die Here het as 't ware voor hom verskyn met 'n boodskap dat Hy 'n saak teen die Afrikanervolk het. Op 'n wyse van die Ou Testamentiese roepings wat profete ontvang het, beskryf dr Marais die boodskap wat tot hom gekom het: "Ek het 'n saak teen die Afrikanervolk. Hulle het hul Gelofte teenoor My verwaarloos. Daarom het Ek vir hulle soos 'n vyand geword ... Maar gaan jy en versamel hulle op een plek, sodat hulle hulle voor my kan verneder ..."

Tuisgekom het hy die "ervaring" wat hy "met die Here gehad het" met sy vrou bespreek waarop sy gesê het: "As dit die Here was wat met jou gepraat het, dan het jy 'n opdrag om uit te voer".

Is hierdie "ervaring" kontroleerbaar vanuit die Bybel? Sal die Here, as Hy verskyn, tevrede wees met 'n dag van tradisionele verootmoediging? Is dit al wat die Here in ons omstandighede vra? Dit klink ernstig vroom om die woorde van 'n plaaslike kollega aan die Here voor te hou. Die Afrikanervolk gaan verdwyn; ons rol is uitgespeel. "Here, praat my kollega die waarheid?"

Ons minag nie die ware geloofsverootmoediging wat gepaard gegaan het met die oorspronklike aanroeping van die Naam van die Here met die aflegging van geloftes aan Hom nie. Die jaarlikse herdenking daarvan kan ook wel tot stigting dien. Maar in vandag se omstandighede moet allereers gekyk word na die versaking van die Here se diens in die kerk, die werkplaas van die Heilige Gees.

Daar is twee dinge wat in hierdie oproep nie aanvaarbaar is nie. In die eerste plek is die Afrikanervolk as "geloftevolk" nie gelyk aan die Ou Testamentiese volk van die Here nie en die Here verskyn ook nie meer met regstreekse boodskappe nie. Dit betref 'n charismatiese opvatting van die geloof. Die geskrewe Woord van die Here bevat die aktuele boodskap vir elke tyd en omstandigheid.

Tweedens roep die Here ons tot verootmoediging, maar dit behels bekering in alle opsigte. Die oordeel moet begin by die huis van God (1 Pet 4:17). Solank dáár louheid oor bestaan, is 'n beroep op volksverootmoediging maar 'n skynvertoon van vroomheid. Die Here vra om erns te maak met die saak van sy Kerk en Koninkryk. Die Kerkpad het onophoudelik daarop gewys waar dit verkeerd gaan, wáárin van die Here se pad afgewyk word.

Hierdie oproep van dr Marais sluit nie daarby aan nie. Dit is geen opregte oproep tot daadwerklike reformasie in die kerk- en volksbestaan nie; dit is maar weer 'n poging om 'n geestelike herlewing te bewerkstellig en Afrikaners te verenig rondom die tradisionele bestaan van huisgesinne, volk en kerk, sonder 'n dieper betekenis daaraan te heg.

Ek is Willie Marais, ‘n afgetrede predikant van die Ned Geref Kerk. Vir baie jare al is ek bekommerd oor die voortbestaan van die Christendom in Suid-Afrika en oor die voortbestaan van die Afrikanervolk as ‘n geloftevolk. Ek glo dat dit nie toevallig is dat dit Christene was wat aan die suidpunt van Afrika voet aan wal gesit het nie. Ons as Christene het van God ‘n roeping en ‘n opdrag om die evangelie "in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde" (Hand 1:8) te verkondig. Ek glo dat ons dit as ‘n teken kan neem dat God sodoende ook aan Afrika ‘n geleentheid gee om gered te kan word. So het die Christene dit ook verstaan, en is daar verskeie kerke in Afrika gevestig.

Ek glo dus dat God die Afrikanervolk aan die suidpunt van Afrika met ‘n doel gevestig het; dit is om die evangelie aan Afrika te bring. In hierdie opsig het die kerke van die Afrikaner geen geringe bydrae gelewer nie. Talle kerke is deur die inisiatief van die kerke in Suid-Afrika tot diep in Afrika en tot selfs in Portugal gestig.

Met die slag van Bloedrivier het ons volk ‘n geloftevolk geword waar ons, soos Israel van ouds (vgl Neh 9:38:10:28-29), onsself tot bepaalde onderneminge voor God verplig het om te doen. Uit die Skrif is dit duidelik dat God ons geloftes ernstig opneem (vgl Gen 31:13; Pred 5:3-5). Hierdie onderneminge het ons as volk verwaarloos, en as gevolg van ons sondes het die hand van die Here swaar op ons afgekom (vgl Neh 9:37). Dit gaan nie goed met ons mense nie.

Terwyl ek met ‘n diensreeks besig was, het die plaaslike leraar vir my gese dat die Afrikanervolk gaan verdwyn; ons rol is uitgespeel. Daaroor was ek diep bekommerd en het die aand gebid en vir die Here gevra: "Here, praat my kollega die waarheid?" Ek was tuis in sy pastorie. Die oggend vroeg word ek helder wakker en dit was asof ek in die teenwoordigheid van die Here gekom het, en asof die Here vir my sê: Ek het ‘n saak teen die Afrikanervolk. Hulle het hulle Gelofte teenoor My verwaarloos. Daarom het Ek vir hulle soos ‘n vyand geword. Ek gaan hulle nog verder verneder en verarm totdat hulle hulle voor My verneder het. Dan sal Ek my weer oor hulle ontferm. Maar gaan jy en versamel hulle op een plek, sodat hulle hulle voor my kan verneder, want Ek het ‘n saak teen hulle. Ek het onmiddellik aan 1 Petrus 5:6 gedink: "Verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

Toe ek tuis kom, het ek die ervaring wat ek met die Here gehad het met my vrou bespreek en het sy gesê: "As dit die Here was wat met jou gepraat het, dan het jy ’n opdrag om uit te voer." Die een gebeurtenis na die ander het bevestig dat die opdrag van die Here was. Toe het ek 125 leiers vanuit die verskillende kerke, kultuuraksies, politieke partye en ander instansies op 19 Januarie 2002 in Pretoria saamgeroep en my ondervinding en die opdrag om die Afrikanervolk vir verootmoediging op een plek saam te bring, met hulle gedeel. Geen nuwe kerk, kultuuraksie of politieke party word gestig nie, maar die samewerking van al die instansies moet vir die saak gesoek word. Dit is ‘n samewerkingsooreenkoms waarin al die instansies gelyke vennote is om die Afrikanervolk by God uit te bring en hulle te beywer vir die sake wat die voortbestaan van die Christendom en van die Afrikanervolk sal waarborg. Die bestaan van geen kerk, politieke party, kultuuraksie of instansie word vervang of bedreig nie. Ons is ‘n volksbeweging.

By die byeenkoms is toe eenparig besluit om aan my versoek uitvoering te gee. Daar is ‘n komitee van 10 benoem en ek is gevra om die leiding te neem. Ons het onsself "Afrikaner Alliansie" genoem omdat die naam juis uitdrukking gee aan die gedagte dat dit ‘n samewerkingsooreenkoms tussen al die instansies is.

Ons aanvanklike gedagte was om die byeenkoms by Bloedrivier te hou, omdat ons dan as volk daar waar die Gelofte gesluit was, die Gelofte teenoor God kan herbevestig. Maar allerlei probleme het ons oortuig dat dit nie wenslik en ook nie prakties moontlik is om die byeenkoms daar te hou nie. Toe het die gedagte ontstaan om dit op 10 Oktober 2003 om 14.30 in die rugbystadion in Bloemfontein, as die mees sentrale plek, te hou. Die komitee het my gevra om as prediker op te tree.

Die dagbestuur van ons komitee het begin om met die dagbesture van verskeie instansies ‘n samespreking te hou. Die gesprekke was openhartig en sinvol. Almal, tot dusver, was dit met ons eens dat ‘n dag van verootmoediging vir die Afrikanervolk dringend nodig is. God het ‘n saak om met ons uit te maak, soos wat Hy destyds met Israel van ouds ‘n saak gehad het om uit te maak. Daarom het hulle hul op ‘n bepaalde dag afgesonder en as volk hulle voor God verootmoedig (vgl Neh 9:1-3). Hulle het die erns van hulle verootmoediging bevestig deur die leiers te vra om die onderneming om die Here te dien, te onderteken (Neh 9:38).

Ons glo dat ons uit hierdie voorbeeld mag leer om dieselfde te doen (Rom 15:4). Hierdie begeerte het niks met rassisme te doen nie. Op hierdie wyse wil ons ook aan die ander volke in ons land die voorbeeld stel om dieselfde te doen. Ons glo dat God vir Hom ‘n kerk versamel uit elke taal, stam, volk en nasie (vgl Hand 15:15-17; Op 5:9). Niks verhinder ons om vorentoe ‘n dag van verootmoediging vir al die gelowiges van al die volke te reël nie. Ons moet net eers ons eie huis in orde kry. Om vir jou eie volk te bid en daarvoor te ywer, is presies wat Paulus gedoen het (Rom 10:1). Wie die goeie reg om as eie volk te wil bestaan, veroordeel, plaas God in die beskuldigdebank, want Hy het die mense in volke opgedeel (Deut 32:8). Ons glo dat al die ander volke, al die Christelike kerke, al die instansies en al die gelowiges in ons land en oor die hele wêreld hulle daaroor behoort te verheug dat die Afrikanervolk die behoefte het om die voorbeeld van Israel te volg om hulle voor God te verootmoedig.

Dit gee ons vrymoedigheid om u beleefd te vra om u seën oor hierdie poging uit te spreek en die lidmate van u kerk te vra om vir hierdie byeenkoms te bid en dit by te woon. Ons dank u byvoorbaat vir u welwillende aandag en ondersteuning.

Die Afrikanervolk sal bly wees om te vemeem dat u Kerk hulle in hierdie saak ondersteun het. Die seën van die Here word u toegebid van U broer in Christus.

Willie Marais (Voorsitter/ Leier Afrikaner Alliansie).