Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die les van die geskiedenis

AKTUEEL: Hulde aan die vrou en moeder

Tutu : Die plofkrag van die Bybel       

SKRIFOORDENKING:
Verwyder vreemde gode....

Oproep vir 'n Verootmoediging....

Sonde van kerkskeuring?

Reformatoriese verset

Die hartklop van die verlossing

Besinning oor Sinode 2003: Vrou in die diakenamp

KERKLIKE JOERNAAL: 
Handelinge van Nasionale Sinode 2003

Onenigheid in kerkverband

Kerkrade GKSA Bloemhof en Christiana reageer

Klag van leerdwaling teen Spanenbergagterweë gehou

NG Kerk se affiliasies

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Sinode GKSA: Standpunt teenoor evolusionisme

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Bybel in Afrikaans - Sewentig Jaar

Gereformeerde Skrifverklaring Openbaringsgeskiedenis of Sosio-histories

PERSRUBRIEK: 
Gesprek met Ronel Pieterse

Sistematiese beïnvloeding van twyfelagtiges in die Kerk

Versoening en Naasteliefde

Feminisme en die huisgesin

Hervorming

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van Kantianisme

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 4 September 2003

DIE HARTKLOP VAN DIE VERLOSSINGSEVANGELIE

-  DS (EM) LS KRUGER  -   JOHANNESBURG  -

Wat is die kortste hoofstuk van die Bybel? - Psalm 117

Wat is die langste hoofstuk van die Bybel? - Psalm 119

Watter hoofstuk is in die middel van die Bybel? - Psalm 118

Daar is 594 hoofstukke vóór Psalm 118

Daar is 594 hoofstukke ná Psalm 118

Tel ons die hoofstukke bymekaar kry ons 1188

Met Psalm 118 in die middel is die aantal hoofstukke in die Bybel dus 1189

Wat is die middelste vers van die Bybel? - Psalm 118:8 

Psalm 118:8; daar staan geskrywe: "Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou".

(Tot sover die data uit Die Kerkpad - Mei 2003, bl 6).

Aanvullend:

Hoe word hierdie middelste vers van die Bybel in die kerk se psalmgesang verklank? Twee moontlikhede is nou beskikbaar, naamlik die 1936 (Totius) beryming en die 2001 (Cloete) omdigting.

Die Totiusberymings wat uit die grondteks van die Bybel berym en vir meer as sestig jaar diens in God se kerk gedoen het, is egter deur sowel die NG Kerk as die NH Kerk uit hulle eredienste verban synde as verouderd, onpoëties in taal en styl met 'n gebrek aan spiritualiteit (Voorwoord in die Liedboek).

Cloete se omdigting, wat nou die amptelike kerklied van die twee genoemde Kerke is, wortel nie soos die Totiusberymings in die waarheid van die Bybel nie. Dit is ontleen aan 'n vrysinnige parafrase van die Bybel (NAV). Nogtans word dit deur die Voorwoord in die Liedboek met Goddelike gesag beklee wat vleuels aan die Godservaring gee.

Intussen het 'n Sinode van die GKSA (2003) met 'n verdeelde stem die Cloeteliedere die Gereformeerde Kerke ingebring om so sistematies die Totiusberyming uit die deformerende Gereformeerde Kerke te verdring. Of die APK dit dalk sal aanvaar, weet ons op hierdie stadium nog nie.

In die verklanking van die bogenoemde middelste teks van die Bybel (Psalm 118:8 - "Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou") besing die Totiusberyming die Godsbehoue van geloofsvertroue in die skoonste Bybeltaal:

"Dis beter by ons bidde en wense

dat ons vertrou op God se mag,

as dat ons ooit vertrou op mense, 

of selfs van prinse hulp verwag." (Ps 118:4b)

Cloete het dié orde egter omgekeer. In sy omdigting staan God in diens van die mens en tot bevordering van hul (menslike) belange. Hy besing in Psalm 118:2, wat oor die betrokke Bybelteks gaan, God se diensbaarheid aan die mens aldus:

"God staan my by ... . Want God is altyd aan my sy."

Dan die tussenfrase:

"Vertrou jy op 'n mens 'n hoë, Vra jy dat hy jou hulp verskaf?"

En die Bybelvers: "Dit is beter om by die HERE te skuil", word deur Cloete omgedig tot lofverheffing van die menslike belange:

"Wie God vertrou, staan nooit bedroë, kom altyd beter daarvan af".

Die Godsvertroue is hier geen opstyg van die siel na die hemelhoë nie. Dit is die inroep van God self in diens van mensbelange. Met God "altyd aan my sy", sê die Cloetelied, is die mens "nooit bedroë" en kom hy "altyd beter daarvan af".

Die nooit bedroë dui daarop dat hierdie mens nooit gekul, mislei of gefop sal word nie (sien HAT woordeboek). Dit gaan oor die etiek van die menslike bestaan. Daarvan meld die Skrifteks niks.

Die daarvan waarvan die mens altyd beter af sal kom, is by Cloete onverklank. Onbeperk. Die altyd beter van die Cloeteteks gaan om die onbeperkte verabsolutering van die mensbelange. Hiervolgens staan God (met heilige respek gesê) in diens van die verheerliking van die mens. In die Cloetelied is hier geen verklanking van die grondteks nie. Dit is 'n selfgemaakte lied. Hiermee word 'n nuwe klank die kerke ingedra wat vreemd is aan die Woord van God.

Wat is die middelste vers van die middelste hoofstuk van die Bybel? - Psalm 118:14. Daar staan geskrywe:

"Die HERE is my sterkte en psalm, en Hy het my tot heil geword."

Dit gaan hier om die verlossingslied van die geloof. In hierdie middelste Bybelhoofstuk (Ps 118) openbaar die Heilige Gees dat die Verbond van God die hartklop van die hele verlos-singsevangelie is.

Opmerklik dat die New International Version (1978), wat die mees wetenskaplik nagevorste vertaling van die Bybel is, se vertaling van Psalm 118:14 feitlik woord vir woord dieselfde is as ons OAV. "The LORD is my strenght and song, He has become my salvation."

Ook opmerklik dat die NIV die Goddelike naam Jahwe vertaal met "LORD" (vier hoofletters) in onderskeid met die naam Adonai wat vertaal word met "Lord" (kleinletters).

God se Verbondsnaam Jahwe / HERE (vier hoofletters) (Eng: LORD, Ned: HEERE) word deur die Heilige Gees in hierdie sleutelpsalm se 29 verse, 28 keer gebruik. Hierdie Naam kom in die Cloete-omdigting egter geheel en al nie voor nie. Daarteenoor word God se titelnaam Adonai / Here (kleinletters) (Eng Lord; Ned: Here) in hierdie psalm nie een keer gebruik nie. Nogtans word in die Cloete-liedere hierdie Naam besing. By Cloete kom die naam Here in die plek van die Verbondsnaam HERE ERE en die naam Adonai in die plek van Jahwe. Hierin skuil 'n waarheidsdwaling.

In die Bybel het name 'n betekenis. Wie God is en wat Hy wil, word geopenbaar in die betekenisse van die Name wat Hy dra.

God het Homself met 'n nuwe Naam aan Moses bekend gestel: Die Verbondsnaam HERE en die betekenis daarvan is deur God self aan Moses geopenbaar: EK IS WAT EK IS. EK is (Eks 3:14,15).

EK IS, is God se eie Ewigheidsverlossingsnaam Wie durf om hierdie Verbondsnaam van God uit te wis, of selfs die naam Jahwe met Adonai te vervang, tas daarmee God se waarheidswese aan. Hierdie Naam soos deur Moses bekend gemaak, is dan ook die tema en die inhoud van hierdie keervers (Psalm 118:14) in die hartklop van die Bybel: Die HERE is is. Hy is my sterkte: Hy is my psalm. 'n Jubelklank van verlossingsdank.

Hierdie dank- en waarheidsklank word in die Cloetelied nie verneem nie. Sy voedingsbron is 'n interpretasie van die Heilige Gees se Skrifinspirasie (2 Tim 3:16; 2 Pet 1:21) soos dit in die NAV tot ons kom. Interpretasie in die plek van Skrifinspirasie? Ook hierin skuil 'n waarheidsdwaling. 'n Interpretasie het geen waarheidswaarborg nie.

Met die Verbondsnaam HERE, wat ook God se Verlossingsnaam in Christus is, volledig weggedig, is daarmee saam God se Verbondsbestel van 'n ewigheidsherstel soos in die Messiaskoms in die Psalm reeds voorspel, deur Cloete verban. Al sal dit die naam "psalm" dra, gaan dit in die Cloetelied se inhoudsklank (in die vertolking van die sleutelvers: Die HERE isERE is, se jubelklank van verlossingsdank) om 'n saamgeflansde woordespel, tuisgemaak na eie smaak wat die waarheid van die Bybel mis:

"Hoor net hoe juig ons in die Heer" (2001 omdigting: Psalm 118:4).

Wie die hoorders is en wat die inhoud van die juiging is, bly by Cloete onverklank. En die HERE is word deur hom geïnterpreteer is in die Heer. Alles net 'n woordgeskarrel wat die verlossingswaarheid mis. Daarteenoor styg die verlossingslied van die geloof in die Totiusberyming op na hemelsfere:

"Dit is die HEER wat my gesterk het. 

Hy is my lied my psalmgesang. 

Hy was dit wat my heil bewerk het, 

Dus loof ek Hom my lewe lang."

Stel hierteenoor die Cloeteklank - "Hoor net hoe juig ons in die Heer" en vergelyk dit met mekaar.

Die vraag kom op of Cloete, na inhoud en na waarheidsklank, na ewigheidshoop en verlossingsdank, werklik Totius geheel en al vervang of selfs naas hom kan gereken word in die verklanking van die waarheid van die Woord van God? Die antwoord hierop kom in 'n tweede vraag:

Hoe is dit moontlik dat hulle wat die draers van die Gereformeerd-Calvinistiese waarheidsleer moet wees ooit die Cloeteliedere kon approbeer, sanksioneer en in hulle eredienste implementeer? Die sleutelwoord is in die derde vraag:

Gaan dit by al hierdie approbeerders van die Cloetelied nie om 'n totaliteitsgebrek aan 'n Skrifgefundeerde prin-sipiële onderskeidings-vermoë van wat die Woord van God is en wat nie?

Oordeel self.