|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
BESINNING OOR SINODE 2003: VROUE IN DIE DIAKENAMP
- Prof GJC Jordaan. In: Waarheid en Dwaling, Augustus 2003 (bl 4,5) -
'n Hartseer verhaal is die wyse waarop besluit is dat vroue tot die diakenamp toegelaat mag word. Die manier waarop hierdie saak op die sinode se tafel gekom het, laat die wenkbroue alreeds lig. Die sinode van 1988 het reeds op grond van diepgaande Skrifstudie besluit dat vroue nie tot die besondere ampte toegelaat behoort te word nie. In die lig van 1 Timoteus 5 is egter by daardie sinode aanbeveel om verder te besin oor hoe die dienswerk van vroue in die amp van die gelowige meer gestruktureerd ingerig kan word. Hierdie aanbeveling is toe deur die Sinode 2000 opgeneem en na studiedeputate verwys om by Sinode 2003 terug te rapporteer. Die deputaterapport by Sinode 2003 was egter nie 'n uitvoering van hierdie opdrag nie. In plaas daarvan het die deputate gekom met nuwe voorstelle oor vroue in die besondere ampte. Hierdie optrede was in stryd met artikel 46 van die Kerkorde, wat bepaal dat sake wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie tensy dit noodsaaklik geag word om dit te verander. Tog het Sinode 2003 die nuwe voorstelle ter tafel geneem.Was daar nuwe lig uit die Skrif wat nuwe voorstelle oor vroue in die kerklike ampte noodsaaklik gemaak het? Nee. Inteendeel. Beswaarskrifte wat (onsuksesvol) probeer het om die saak vir vroue in kerklike ampte op Skrifgronde uit te maak, is deur Sinode 2003 afgewys. 'n Mens sou verwag dat die sinode daarmee ook die saak, as gevolg van 'n gebrek aan Skrifgronde nie in behandeling sou neem nie. Tog, toe die voorstelle oor vroue in die diakenamp op tafel kom, het die sinode dit goedgekeur - en dit sonder enige Skrifgronde! Ter elfder ure het die sinode blykbaar besef dat dit darem nie 'n gereformeerde manier van doen is nie. 'n Kommissie is benoem om tydens die sinode na Skrifgronde te gaan soek. Wat 'n agterstevoor manier van werk! Neem eers die besluit en soek dan na Skrifgronde! Hierdie kommissie kon egter nie die nodige Skrifbewyse vind nie. Was die saak nou van die tafel af? Steeds nie. Die sinode het met die besluit volhard!
Waar sou die vreemde manier van doen vandaan kom? Was die sinodegangers in hierdie laaste ure van die sinode moeg en lus om klaar te maak? Was dit dalk die gevolg van ideologiese druk? Het die vergadering nie kans gesien om standpunt in te neem teen die feminisme en humanisme nie? Of was daar vrees vir hofsake indien iemand dalk klagtes van vrouediskriminasie sou lê. Weer eens kan 'n mens net bespiegel oor die moontlike beweegredes. Die droewige feit is dat die besluit nie op grond van die Skrif, belydenis en kerkorde geneem is nie.