|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
GESPREK MET DIE LESERS
Dit is al weer die voorlaaste uitgawe van hierdie, die sewende jaargang. Met dank aan die Here kan ons vermeld dat dit nog steeds goed gaan met die publisering van ons blad. Morele ondersteuning is daar volop en die middele vir finansiering is altyd daar, ook wanneer dit soms lyk of daar 'n tekort gaan wees.Ons wil graag almal hartlik bedank wat op die een of ander wyse bygedra het om ons as redaksie by te staan, adviese verskaf, nuwe intekenare gewerf of andersins die saak wat ons voorstaan met die verskyning van Die Kerkpad, bevorder het.
Binne die verband van die Gereformeerde Kerke vind tans 'n skiftingsproses plaas as gevolg van betwisbare besluite wat deur die Sinode 2003, in Januarie vanjaar geneem is. In hierdie uitgawe het ons nie daaraan verby gegaan nie. Ons poog steeds om op 'n aktuele wyse die koers aan te wys wat volgens ons oortuiging in ooreenstemming met die Skrif, belydenis en kerkorde is.
Ons probeer ook om samebinding te bewerkstellig met beswaarde, gereformeerd-denkende lidmate in die AP, NG en NH Kerke. Daar is in die beswaardwees talle gemeenskaplike strydpunte waarin ons mekaar vind en kan saamstaan. Daar is egter ook sake waarin ons, helaas, verskil van mekaar. Ons poog om dit met redelike argumente aan te spreek en te oorbrug. Per slot van sake gaan dit om die eer van die Here en die voortbestaan van sy Kerk en Koninkryk op aarde. Die laaste woord daaroor is in die Here se Woord geopenbaar en ons kan slegs diensbaar wees. Ons stry nie teen hulle nie maar teen dié teoloë en lidmate van kerke wat moedswillig die norme en waardes aftakel en 'n nuwe orde probeer skep waaraan die gelowiges moet voldoen.
Die kerkgeskiedenis lewer voldoende getuienis van stryd wat deur die Here bekroon is met seën. Dit is wat die kernspreuk op die embleem van die Gereformeerde Kerke verwoord: "Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie." Dit is God wat vir ons stry en oorwin.