|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
Hoofartikel
DIE LES VAN DIE GESKIEDENIS
Enkele maande gelede was dit in die openbare media en op televisie dat die minister van onderwys, Kader Asmal, die geskiedenis van Suid-Afrika wil laat herskryf vir die leerplanne op skool. 'n Reeks boeke oor die "ware Afrika-geskiedenis" is reeds beskikbaar. Daarmee saam word stelselmatig die bakens van gedenktekens en plekname van die verlede weggeneem of vervang soos die ANC-oorheersde Regering dit goeddunk. Hierin kom tot uitdrukking dat ons in twee onversoenbare wêrelde verkeer. Is dit moontlik om die spore van die verlede uit te wis en te vervang met 'n ander vertolking daarvan? Is die beskrywing asook die aanbieding daarvan (sillabusse in die skole) 'n neutrale saak? Is dit niks meer of minder as die vermelding van feite en omstandighede, oorsake en gevolge nie? Is dit bloot empiries, sonder kennisname van die aandrywende faktor, die skepping en onderhouding van die wêreld, soos dit in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus uitgedruk is: "Die almagtige en alomteenwoordige krag van God, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en ... regeer ..." en dat dit "alles ons nie per toeval nie maar uit sy vaderhand toekom"?Die geskiedenis van die bestaan op aarde begin by die skepping daarvan, soos dit in Genesis 1 onder inspirasie van die Heilige Gees geopenbaar is. Die geskiedenis begin by God wat Hom as die almagtige Skepper bekendstel. "In die begin het God die hemel en die aarde geskape". Die aarde is dus nie die gevolg van toevallige gebeurtenisse in 'n onbekende heelal waar 'n "oerknal" die uiteindelike oorsprong van die planeet aarde geword het nie. Maar dit is wél die teorie wat deel is van die huidige leerplan volgens die departement van onderwys.
Die geskiedenis van die menslike bestaan begin by die skepping van die eerste mensepaar, Adam en Eva in die paradys, as sluitstuk en kroon van God se skepping: "En God het gesê: ... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape" (Gen 1:26 en 27). Hier begin die antitese in die geskiedenisbeskouing, enersyds die geloof aan die Goddelike skepping van dié een mensepaar waaruit die hele menslike geslag tot vandag toe voortgekom het, andersyds die teorie dat in 'n geleidelike proses van ontwikkeling (evolusie), mense uit lewelose materie en komplekse biochemiese stelsels stap-vir-stap, op 'n Darwinistiese wyse, ontstaan het. Dit word as "wetenskaplik" aanvaar. Laasgenoemde hipotese vind neerslag in die sillabe van die sogenaamde "neutrale" onderwys.
Die openbaring van die heilshistorie vermeld die ongehoorsaamheid van die eerste mensepaar aan die verbondseis wat God gestel het en die voortspruitende straf as gevolg waarvan die aarde vervloek is en nou "dorings en distels" voortbring (Gen 3:17 en 18). Die rasionele geskiedbeskrywing bring dit nie in rekening wanneer oor oorsake en gevolge besin en uitspraak gelewer word nie. God speel geen rol in die "neutrale" leerplan van geskiedenis nie. Godsdiens? Ja, dit is daar, maar dan as 'n vrug van die ontwikkeling van menslike denke. Die evolusie van die menslike brein het aanvanklik in die "primitiewe stadium" angste en onsekerheid oor die onbekende bonatuurlike ondervind en gevolglik het die behoefte na geborgenheid ontstaan. So het godsdiens 'n produk van die menslike rede geword wat gaandeweg geëvalueer het vanaf animisme tot aanvanklik politeïsme (veelgodedom) en weer later, in die geval van die Joodse en Moslem gelowe, tot monoteïsme (eengodedom). Hoe dit ook al sy, so gesien is dit 'n voortbrengsel van menslike behoefte vir religieuse ervaring en verklaring van die bonatuurlike, van dit waarvan die mens geen kennis en fisiese beheer oor gehad het nie.
As ons die beleid ten opsigte van godsdiensonderwys, wat deur die Suid-Afrikaanse departement van onderwys voorgeskryf word, ontleed, dan is dit onweerlegbaar te herlei tot wat genoem word die "Godsdienshistoriese Skool". Dit is 'n kwasie-wetenskaplike bedryf wat die openbaringsinhoud van die Bybel aangaande die Goddelike waarheid en verordeninge, derhalwe dus ook met betrekking tot die Christendom, sy geloofsoortuigings en belydenisse, toeskryf aan nie-Israelitiese, buite-Bybelse religies, mites, gebruike, wysgerige beskouings, ensovoorts. Dié skool aanvaar 'n verwantskap van die vroeë Egiptiese, Assiriese, en Oosterse godsdienste met dié van Israel en skryf laasgenoemde se Goddelike openbaring en voorskrifte toe aan die ander se beïnvloeding en sinkretistiese verbinding. Dit geld in vandag se tyd en omstandighede nie net vir die Christelike godsdiens(te) nie, maar vir alle religies wat as sodanig in die samelewing funksioneer. Volgens die godsdienshistoriese skool spruit almal voort uit dieselfde bron van menslike vergestalting tot religieuse omgang. Vandaar die opvatting dat alle godsdienste wesenlik "een is en dieselfde god aanbid". Dit vorm ook deel van Kader Asmal se herskrywing van die geskiedenis wat hy voorstaan en hanteer. Ons nasie is nou immers nie net multi-kultureel nie maar ook multi-religieus! Waarheen lei dit kinders wat daarvolgens in die skole onderrig word? Wat van Verbondskinders uit Christelike huisgesinne wat op dié wyse beïnvloed word en as gevolg daarvan die pad van die Christelike geloof byster raak?
Volgens heidense opvattings, wat in die voorouerverering van die swart bevolking in ons land aangetref word, heers die noodlot oor sake van teenspoed, siekte en dood. Dit kan in 'n mate teengewerk word deur die gemeenskap met die afgestorwe voorouers te beoefen en hulle tevrede te stem. Dit begin reeds met die wyse van begrafnis, maar meer nog in die erkenning van toordokters wat offergawes en kontakte bewerkstellig. Ook op dié wyse is die onderwys nou "hervorm" sodat almal bewus gemaak sal word van hoe dié versoening bewerk kan word. Gebruike en gewoontes van die diverse swart gemeenskappe word op skole in die leerplanne van godsdiens en lewensoriëntering bekendgestel en gedemonstreer. Leerlinge word feitlik verplig om daaraan deel te neem.
Vaderlandse geskiedenis word op 'n ander wyse benader waarby die blanke voorgeslag voorgestel word as onderdrukkers van die inheemse swart bevolking. Dat saam met die koms van Jan van Riebeeck en sy mense die begin van ekonomiese ontwikkeling te weeg gebring is, word nie na waarde geskat nie. Nog minder dat die Here daarmee die pad geopen het om die Bybelse geloof, die gereformeerde religie, op die Suidpunt van Afrika te plant. Die Kaap was vir die Hottentotte bedoel en dit is die Hollanders wat hulle daar verjaag en uitgemoor het! So staan dit in die geskiedenisboeke wat die goedkeuring wegdra van die huidige Regering van ons land.
Die verloop van die geskiedenis word totaal herskryf, gerig op die lotgevalle van die swart bevolking wat deur die blankes "onderdruk" is. Die hoofmomente van die blankes se bydraes vir ontwikkeling word verbygegaan of gerelativeer in die lig van uitbuiting, kolonialisering en verontregting van die swartes, wat as "minderwaardig" beskou is. Die beleid van afsonderlike ontwikkeling wat, sedert die Nasionale Party in 1948 aan die bewind gekom het prakties toegepas is, is in terminologie van die Nazisme as rassisties voorgestel. In die geskiedbeskrywing van die vorige eeu is die verloop van die "struggle" die belangrikste aspek waarop gefokus word. Dit vind sy bekroning in die "bevryding" en "demokratisering" van ons land wat in 1994 onder die bewind van president FW de Klerk voltrek is. Nelson Mandela word as die groot figuur in hierdie stryd erken en gevolglik 'n amper goddelike eer aan betoon.
Die "nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van nasies en volkere; wat ons voorgeslagte uit baie lande byeengebring en hulle hier in hul eie gevestig het; wat hul weë deur geslagte bepaal het; wat hulle so wonderbaarlik deur gevare gelei het" is nie meer van toepassing in die nuwe sillabusse van geskiedenis en lewensoriëntering nie. Dis nie meer God wat regeer nie, maar die mens wat homself daartoe verhef.
Die geskiedenis van die bestaan op aarde begin by die skepping daarvan, soos dit in Genesis 1 onder inspirasie van die Heilige Gees geopenbaar is. Die geskiedenis begin by God wat Hom as die almagtige Skepper bekendstel. "In die begin het God die hemel en die aarde geskape". Die aarde is dus nie die gevolg van toevallige gebeurtenisse in 'n onbekende heelal waar 'n "oerknal" die uiteindelike oorsprong van die planeet aarde geword het nie. Maar dit is wél die teorie wat deel is van die huidige leerplan volgens die departement van onderwys.