Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die les van die geskiedenis

AKTUEEL: Hulde aan die vrou en moeder

Tutu : Die plofkrag van die Bybel       

SKRIFOORDENKING:
Verwyder vreemde gode....

Oproep vir 'n Verootmoediging....

Sonde van kerkskeuring?

Reformatoriese verset

Die hartklop van die verlossing

Besinning oor Sinode 2003: Vrou in die diakenamp

KERKLIKE JOERNAAL: 
Handelinge van Nasionale Sinode 2003

Onenigheid in kerkverband

Kerkrade GKSA Bloemhof en Christiana reageer

Klag van leerdwaling teen Spanenbergagterweë gehou

NG Kerk se affiliasies

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Sinode GKSA: Standpunt teenoor evolusionisme

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Bybel in Afrikaans - Sewentig Jaar

Gereformeerde Skrifverklaring Openbaringsgeskiedenis of Sosio-histories

PERSRUBRIEK: 
Gesprek met Ronel Pieterse

Sistematiese beïnvloeding van twyfelagtiges in die Kerk

Versoening en Naasteliefde

Feminisme en die huisgesin

Hervorming

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van Kantianisme

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 4 September 2003

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

BYBEL IN AFRIKAANS  -  SEWENTIG JAAR

'n Feestelike geleentheid wat nie gevier is nei

-  Gert Kruger  -  Verwoerdburg  -

Baie datums van belang gaan dikwels by die Afrikanervolk verby sonder dat daar enigiets daaroor vermeld word of sonder dat daar enige kommentaar daaroor gelewer word. Aan die ander kant kan daar van baie datums melding gemaak word en herdenkings oor gehou word maar oor dié datum nl 27 Augustus 1933, toe die Afrikaanse vertaling van die Woord van God amptelik in die hande van die Afrika-nervolk geplaas is, word byna stilswyend aan verbygegaan!

Tydens hierdie geleentheid wat in die Marksaal te Bloemfontein plaasgevind het, het ds P S van Heerden, die feesredenaar, onder andere gemeld: "Ons begroet hierdie feesdag as een van die skoonste en mees gedenkwaardige in ons hele geskiedenis. Dit is betaamlik dat die verskyning en ingebruikneming van die Bybel in Afrikaans gevier sal word as ‘n volksfees. Hier is nie sprake van tydelike of politieke belange nie, maar die hoogste, die geestelike belange van die volk...."

Die 1933-vertaling het ingrypende invloed op die godsdienstige en ander terreine van die Afrikanervolk uitgeoefen. Veral in die alledaagse taalgebruik is Bybelse uitdrukkings en idiome gehoor wat tot vandag toe in
die volksmond vasgelê is. In dié Bybel waaraan sestien jaar gearbei is, verskyn geen Voorwoord nie. Dit is of die vertalers swygend hul werk aan die Afrikanervolk oorhandig het. Die hersiening en verbetering van die 1933-vertaling het egter steeds voortgeduur sodat daar in 1953 ‘n hersiende en verbeterde vertaling verskyn het. Hierdie vertaling het steeds gerus op die oorspronklike grondtekste van die 1933-vertaling.

Miskien is dit verstaanbaar dat daar geen kommentaar oor hierdie dag gelewer word nie want sedert die verskyning van die 1983-"bybel" het daar nie net in kerklike kringe nie maar ook op ander gebiede van die volkslewe groot meningsverskille oor die aanvaarbaarheid al dan nie van dié "bybel" na vore gekom. Soveel so, dat gemeentes al daardeur geskeur is en dat daar vandag verskeie gemeentes bestaan wat slegs die 1933/’53-Bybel gebruik. Die Afrikaanse Protestantse Kerk is, sover bekend, die enigste kerk wat ‘n Sinodebesluit geneem het om slegs die 1933/’53-Bybel tydens hul eredienste te gebruik.

In die Gereformeerde Kerke in SA het daaromtrent tien jaar gelede ‘n groep ontstaan wat hulleself die Bekommerde Gereformeerdes genoem het en wat onder andere ontstaan het as gevolg van die kwessie van die 1983-"bybel" sowel as ander omstandighede binne die kerk wat groot beroeringe gebring het. Alhoewel dié groep nie meer byeenkomste hou nie, word die mondstuk wat daaruit ontstaan het, naamlik Die Kerkpad wyd onder regsinnige geloofsgenote oor Gereformeerde kerklike spektrum versprei. Daarin word gepoog om op broederlike dog ferme wyse die afwykings van die Gereformeerde belydenisse, geloofsreëls en kerkorde in die kringe van die Hervormings- en Reformatoriese kerke te bespreek en uit te wys.

Verskeie boeke en geskrifte oor dié "bybel" het ook al die lig gesien waarin daar veral oor die grondtekste wat vreemd aan die Reformasie is en die dinamies-ekwivalente vertalingsmetode, ernstige kommer uitgespreek is. Verskeie beswaarskrifte is ook reeds by Sinodes van verskillende kerke ingedien en behandel.

Tog behoort dit nie ‘n saak te wees waaroor daar baie verskille hoef te wees nie, want die Masoretiese teks (Ou Testament) en die Textus Receptus (Nuwe Testament) van die 1933/’53-vertalings vorm die grondslag van die Bybels van die Hervormingsgemeentes soos onder andere die Nederlandse Statenvertaling en die Engelse King James. Al hierdie Bybels se grondtekste volg ‘n vaste bewaringsgeskiedenis deur die hand van die drieënige Verbondsgod en kan terug gevoer na die Waldensiese Bybels wat weer teruggevoer kan word na die eerste gemeentes van die apostels. In teenstelling hiermee is grondtekste vir die "nuwe vertaling" gebruik wat vreemd aan die Reformasie is en ‘n Rooms Katolieke inslag het. In teologiese kringe word dit natuurlik dikwels hewig ontken maar hierdie ontkennings is by nadere bestudering gegrond op onkunde en ‘n gebrek aan kennis van die geskiedenis van moderne Bybelvertalings en die invloed van die Rooms Katolieke kerk, daarop. Indien teoloë daarop gewys word kan hulle dit nie glo as afkomstig van die "Moeder van die kerk" nie! Hierdie houding vind mens selfs by "groot professore" midde-in die teologiese wetenskap en hulle eweknieë by teologiese kweekskole, en is ‘n bewys van hoever die Rooms Katolieke kerk al in sy kontra-reformasie geslaag het. Baie kerke van die Reformasie het al so vrysinnig geraak dat hulle nie meer die naam "Gereformeerd" of "Hervormd" werd is nie en kan net sowel daarvan afstand doen!

Vóór die koms van die 1983-vertaling is die 1933/’53-Bybel vir 50 jaar lank as die Woord van God aanvaar. In Afrikaanse kerke het dit permanent op die preekstoele gelê en is as ‘n kanselbybel deur predikante gebruik. By die aanvang van die erediens het die dominee gesê: "Ons lees vanoggend/vanaand uit die Woord van God, die of daardie gedeelte". Nooit, maar nooit, hetsy in die kerk of in die openbaar, was daar enige twyfel oor die herkoms van dié Bybel wat op die kansels gelê het nie. So is ook die gesag van die Statenvertaling waarvan die grondtekste van lank voor die Hervorming dateer en wat deur Jan van Riebeeck na die Kaap gebring is; welke Bybel in die wakiste van ons voorvaders die binneland ingedra is en wat uiteindelik in die 1933/’53-vertalings vergestalt is, nooit betwyfel nie. Die gesag van hierdie Bybels is ook deur die drie Afrikaanse kerke wat erfgename van die Hervorming is, nooit betwyfel nie.

Maar toe die 1983-vertaling verskyn, is die 1933/’53-Bybel onmiddellik deur by verre die meeste Afrikaanse kerke summier van hul kansels af verwyder en met die 1983-vertaling vervang. By weinige van hierdie kerke word daar ooit uit die waarheidsgetroue 1933/’53-Bybel gelees of gepreek. Weinig van die predikante wat die "nuwe vertaling" gebruik kan vir jou werklik sê waarom hy voorkeur aan dié vertaling verleen behalwe om te sê dat die kerkraad so besluit het en omdat die grootste persentasie van die gemeente dit verkies. Indien jy as lidmaat wat ‘n studie van die agtergrond en die ontstaan daarvan gemaak het met jou predikant daaroor praat is dit duidelik dat julle geen aanknopingspunt het nie omdat jou predikant geen kennis van die geskiedenis en herkoms van hierdie "bybel" het nie! Dit geld ook by uitstek al die gemeentelede wat so lief is vir die "nuwe vertaling"!

’n Studie van die herkoms van die "nuwe vertaling" sal uitwys dat die grondtekste wat daarvoor gebruik is van Rooms Katolieke oorsprong is! In hierdie verband skryf ds Johan Gouws in sy boek "Die Stryd om die Waarheid" die volgende:

"Die deurbraak is gemaak! ‘n Nuwe Roomse vertaling in Afrikaans kon die lig sien. Die UBS-teks (United Bible Society) en die nuwe vertaalmetode (dinamies-ekwivalente vertalingsmetode) is deur die vertalers aanvaar. In 1970 het dr Nida die vertalingskoördineerder van die UBS geword. Al drie die "kerke" van Gereformeerde belydenis het hierdie "bybel" aanvaar as die waarheid. Nooit is gelet op die gevare nie. Nooit is dieper ingegaan op die ware herkoms van die "nuwe" metodes en tekste nie. Die persone wat dit wel gedoen het, is met bittere venyn begroet en is doodgeswyg. Die ystere aansprake van die "Algemene Sino-des" is op ‘n klakkelose, Roomse wyse op die niksver-moedende lidmate afgedwing. In dieselfde gees van Rome het die Sinodes van die "kerke" besluite geneem en dit was finaal. Ten spyte van waarskuwings het ‘n "nuwe Afrikaanse ‘bybel’" begin indring om die Woord van God in ons land te probeer versmoor." (bl 557). Verder sê hy: "Predikante het
geweet, maar het verkies om te swyg. Professore, doktore allerhande ... geleerdes en staatsmanne het geweet maar skaamteloos toegesien hoe die kosbaarste erfenis van die jong geslag van hulle beroof word. Die waarheid het gestruikel op die markpleine van hul eie welluste en begeertes. Die jong bloed op hulle hande roep luid." bl 600).

So moet ons ook daagliks oor godsdiensuitsendings van radiostasies hoor (helaas ook op ons volkseie Radio Pretoria) hoe hierdie waarheidsgetroue 1933/’53- vertaling tydens kerkdienste, huisgodsdienste en oordenkings, deur die "nuwe vertaling" verdring word.

Hierdie "bybel" is net soos die politiek, naamlik die volk besef nie en sal waarskynlik ook nooit besef nie. Dit wil die Afrikaner van sy Hervormingserfenis beroof. In hierdie verband sê ds Johan Gouws: "Die ‘nuwe Afrikaanse bybel’ staan in die teken van die okkultiese aanslag op die Woord van God uit die hart van die Satan. Die wyse waarop Rome ineengestrengel is met die Satansmagte agter die skerms in sy ywer om die Waarheid te verwoes, is bo alle twyfel in hierdie boek aangetoon. Op grond van die Woord van God en die geskiedenis agter die ‘nuwe Afrikaanse bybel’ moet hierdie ‘bybel’ as gevaarlik, vals okkulties in lyn met die Nuwe Wêreldorde en die grootste enkele aanslag op die Hervormingserfenis verwerp word!" (bl 567-568).

Dr Hendrik Verwoerd het as Eerste Minister by geleentheid van die Eeufeesviering van die Gereformeerde Kerke op Rustenburg, 28 Maart 1959, die volgende gesê: "Ons en ons kinders en ons kindskinders wat ons nou in liefde dra, sal die toekoms welgemoed kan betree. Maar die voorwaarde daarvoor is dat ons ons ankers moet behou: ons volksverband en, wat meer is en die liefde vir ons volk vanself inhou: God se Woord, en die Kerk wat op die rots van die belydenis gegrond is."

Hierdie verwysing na die Woord van God kon alleen die Waarheidsgetroue Hervormingserfenis 1933/’53-vertaling gewees het. Die belydenis waarna hy verwys het kon alleen die belydenisskrifte van die Hervormingserfenis gewees het. In hierdie verband sê ds Johan Gouws: "Indien die belydenisskrifte aan die Woord van God getoets word, dan vind ons dat dit wel die toets van die Waldensiese Bybels, die King James-Bybel, die Statenbybel en die 1933/’53 Afrikaanse Bybel kan deurstaan. Dit slaag egter nie die toets van die ‘nuwe Afrikaanse Bybel nie ... . Dit trek dus ... ‘n streep deur die belydenis van die Dordtse Leerreëls ......".

Ten spyte van bogenoemde inligting sowel as die talle kommentare in geskrifte en boeke ens., word daar steeds deur geleerdes, soos dominees, professore, lektore, doktore, diegene met hul titels, tossels en togas, voortgegaan om hierdie "nuwe vertaling" met sy Rooms Katolieke inslag, op kansels en tydens eredienste sowel as by ander godsdienstige byeenkomste, as die "Woord van God" te gebruik.

Soos die dolksteek na die hart van wyle dr H F Verwoerd, ‘n dolksteek na die hart van die Afrikanervolk was, so is hierdie "bybel" inderdaad ook ‘n dolksteek na die hart van die Afrikanervolk en sy Hervormingserfenis. Hieroor sê die Ware Woord van God: "Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, en die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee, dat hy God is". "En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid." (2 Tim 2:3-4 en 2 Tim 2:11-12 onderskeidelik).