|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
GEREFORMEERDE SKRIFVERKLARING
Openbaringshistories of Sosio-histories?
- PROF GJC JORDAAN - TEOLOGIESE SKOOL POTCHEFSTROOM -
TOTIUS-GEDENKLESING - POTCHEFSTROOM, 11 SEPTEMBER 2003
1. INLEIDING
"My gedagtes is nie julle gedagtes nie en julle weë is nie my weë nie, sê die H
ERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes."Hierdie woorde van Jesaja 55: 8,9 is aan ons almal baie goed bekend. Ook die woorde van die volgende vers (verse 10 en 11):
"Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie so sal die woord wees wat uit my mond uitgaan."
Na my mening gee hierdie verse n samevatting van die problematiek en die wonder van die Bybel as Woord van God.
Dit sê dat God die dinge wat vir ons sondaarmense onbekend en onbegryplik is (God se weë en gedagtes wat te hoog is vir ons om by te kom), tog in sy Woord aan ons bekendmaak.
Dit stel die onverstaanbaarheid van God se weë en gedagtes wat Hy in sy Woord tog verstaanbaar aan ons meedeel.
Die wonder van die Bybel is dan dat dit vir die mens helder, duidelik, verstaanbaar is én tegelykertyd n rykdom besit van gedagtes wat vir die mens onbegryplik, onpeilbaar is - God se weë en sý gedagtes). n Verdere wonder is dat dié twee - die helderheid en die onbegryplikheid van die Bybel nie teenoor mekaar staan nie, maar mekaar aanvul.
Hierdie wonder van die Bybel bring ons te staan voor die noodsaak van Skrifverklaring. Al is die Bybel vir elkeen helder en duidelik verstaanbaar, is dit soos n onuitputlike goudmyn waarin die gelowige moet delf om die diepe rykdom daarvan beter te probeer begryp. Weer eens: hierdie twee staan nie teenoor mekaar nie, maar is aanvullend op mekaar.
2. GRAMMATIES-HISTORIESE GRONDSLAG
Die vraag deur die eeue is dus nie óf Skrifverklaring vir die gelowige nodig is nie, maar hóé dit gedoen moet word. Oor die hóé van Skrifverklaring word daar deur die eeue debat gevoer - bekend as die hermeneutiese debat - tot vandag toe. Om u nie met al die besonderhede te vermoei nie, vat ek die debat deur die eeue in twee hooflyne saam. Van die begin af was daar in die Christelike kerk twee hoofstandpunte oor hoe die Bybel gelees en verklaar moet word. Ek verwys na die tyd van die kerkvaders van die 4e en 5e eeu n.C. Die een standpunt kan ons noem die grammaties-historiese benadering, die ander die allegoriese benadering.
Die grammaties-historiese benadering het gesê dat ons dit wat daar geskryf staan ("grammaties-") as uitgangspunt moet neem en dit moet lees binne die historiese verband waarin dit gegee is ("-histories"). Die allegoriese benadering het gesê dat ons n ander (dieper, verborge) betekenis aan die teks moet heg as dit wat daar geskryf staan.
Onnodig om te sê, die Gereformeerde teologie se Skrifverklaring het die grammaties-historiese rigting nagevolg. By die hervorming het Calvyn die allegoriese benadering verwerp omdat dit n spanning plaas tussen die duidelikheid (dit wat daar geskrywe staan) en die diepe betekenis van die teks. Die diepe betekenis van die teks is nêrens elders te vinde nie as in die teks self. Juis deur dit wat daar geskrywe staan as uitgangspunt te neem en dit noukeurig te lees binne die konteks waarin God dit gegee het, kom n mens daartoe om God se openbaring van sy hoë weë en onbegryplike gedagtes te verstaan. Natuurlik deur die krag van die Heilige Gees, wat immers in en deur die Woord werk.
Van die hervorming af tot vandag toe het die gereformeerde kerke die grammaties-historiese manier van Skrifverklaring gevolg. Met verloop van tyd het daar egter bepaalde aksente na vore gekom wat bepaalde eensydighede in die Skrifverklaring tot gevolg gehad het en die wonderlike balans van die Skrif versteur het. Die gevolg was dikwels n eksegese wat meer verduister as wat dit verduidelik.
3. N BLOTE HISTORIESE LEES VAN DIE BYBEL
Kort na die Reformasie het n groep teoloë begin om die Bybel as n bloot historiese geskrif te lees. Dit het gebeur op aandrang van geleerdes van die 17e en 18e eeu wat onder invloed van die filosofie van die Rasionalisme en die Historisme gestaan het. As uitvloeisel hiervan het daar in Duitsland gedurende 19
e eeu die sogenaamde histories-kritiese skool van denke ontstaan. Die Historiese Kritiek beskou die Bybel as
n blote historiese boek (nie Woord van God nie),
wat bloot deur mense tot stand gekom het (nie geïnspireer deur die Heilige Gees nie)
en wat vandag gebruik moet word as niks meer nie as n bron vir geskiedskrywing (nie God se openbaring met n boodskap aan die mens nie).
Met so n beskouing word die Bybel tot tydgebonde boek gereduseer en word die uniekheid en die gesag van die Bybel - en daarmee ook die uniekheid en die gesag van God - verwerp. Daarom het die Gereformeerde teologie van die begin af die histories-kritiese benadering verwerp. Die Gereformeerde antwoord op die Historiese Kritiek is kortliks:
Die Bybel is nie n menslike produk nie aangesien die Heilige Gees die Bybelskrywers geïnspireer het sodat dit uiteindelik n boek van God is.
Die Bybel is n unieke boek aangesien dit die Woord van God is waarin Hy met Goddelike gesag sy openbaring aan mense bekend maak.
God het sy Woord in n spesifieke tyd in die geskiedenis gegee en daarop gerig, maar dit nie daartoe beperk nie (dit is tydgerig maar nie tydgebonde nie).
Die bekende Duitse teoloog van die eerste helfte van die 20e eeu, Rudolf Bultmann, is as student geskool in die Historiese Kritiek. Hy het egter daarteen gerebelleer, aange-sien hy nie kon vrede maak met die gedagte van n boodskaplose Bybel nie. Soos die Bybel daar geskrywe is, het Bultmann (getrou aan sy histories-kritiese skoling) geredeneer, is dit in die geskiedenis vasgevang en is dit vir die moderne mens betekenisloos. Om by die (eintlike) betekenis daarvan uit te kom, sê hy, moet die Bybelboodskap uit sy historiese omhulsel uitgehaal word, daarvan "bevry" word en moet die boodskap gesoek word "agter" dit wat daar geskrywe staan. Hiermee het Bultmann die grammaties-historiese benadering vaarwel toegeroep en hom as t ware by die allegoriese metode van Skrifverklaring geskaar, wat n boodskap soek nie in dit wat daar geskrywe staan nie, maar verborge êrens agter die teks.
4. N GESKIEDENISLOSE LEES VAN DIE BYBEL
n Ander reaksie teen die histories-kritiese benadering het gekom van teoloë wat die historiese aspek van Bybel eenkant geskuif het en n oormatige klem op bloot grammatiese analise geplaas het. Daarmee het hulle in praktyk die grammaties-historiese metode omskep in n grammaties (-historiese) metode. Hierdie manier van uitleg, wat myns insiens tipies is van die beskouings wat as "fundamentalisme" bekend staan, hanteer die grammatiese besonderhede van die geskrewe teks geskiedenisloos (a-histories), dit wil sê buite konteks. Dit hou nie rekening met die historiese gerigtheid van die Bybel nie. Enkele voorbeelde:
ERE in die Ou Testament.
Die Here se opdrag aan Moses en Israel om uit Egipte te trek word net so op die roeping van gelowiges vandag oorgeplaas, sonder inagneming van Israel se besondere omstandighede en hulle buitengewone roeping as verbondsvolk van die H
Jesus se opdrag aan die melaatse wat Hy gesond gemaak het: "Gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging" (Luk 5:14) kan nie begryp word as dit net so sonder inagneming van die destydse Joodse gebruike gelees word nie.
As n mens Openbaring 12:3 lees asof dit blote geskiedenis is sonder om rekening te hou met die aard van die Openbaringboek, kan jy tot die gevolgtrekking kom dat daar regtig n draak in die hemel sal verskyn wat met sy stert n derde van die sterre van die hemel sal wegsleep aarde toe.
Teenoor so n benadering wat die Bybel buite sy (historiese) konteks lees, staan die Gereformeerde Skrifverklaring op n grammaties-historiese Skrifverklaring.
5. SOSIO-HISTORIESE VERKLARING - N GOUE MIDDEWEG?
In n poging om die grammaties-historiese model te "bevry" van n fundamentalistiese a-historiese Skrifhantering, het verskeie teoloë tydens die twintigste eeu, veral in die laaste dekades, moeite gedoen om die historiese kant van die grammaties-historiese Skrifhantering weer tot sy reg te laat kom. In Suid-Afrika het teoloë soos Du Plessis (Applying the results of social-historical research to narrative exegesis. Neotestamentica 30(2), 1996: 335-385), Van Rensburg (""n Metodologiese verkenning na die verdiskontering van soio-historiese gegewens in die bestudering van vreem-delingskap in 1 Petrus, In die Skriflig 30(1), 1996:37-56), Combrinck (A social-scientific perspective on the parable of the `unjust steward, Neotestamentica 30(2), 1996:281-306) en Du Toit (Gods beloved in Rome (Rm 1:7). The genesis and socio-economic situation of the first generation Christian community in Rome, Neotestamentica 32(2), 1998:367-388) probeer om elemente van die sosio-historiese en sosiaal-wetenskaplike model van Skrifondersoek oor te neem en deel van grammaties-historiese eksegese te maak. Hierdie pogings is nie te versmaai nie aangesien dit daadwerklik probeer het om n saak in die kalklig te stel wat nog altyd n wesentlike komponent van die grammaties-historiese Skrifverklaring was maar wat as gevolg van weerstand teen die Historiese Kritiek in praktyk dikwels verwaarloos is. Dit is die sosio-historiese ondersoek.
Soos met elke nuwe onderneming, loop ook die sosio-historiese benadering egter die gevaar om eensydig te raak, sodat dit die grammaties-historiese model in praktyk as n (grammaties-)historiese model aanwend. Lategan, (Current issues in the hermeneutical debate. Neotestamentica 18 (1984): 1-16) waarsku teen n verdere eensydigheid waar-aan die sosio-historiese benadering blootgestel is. Dit is naamlik om die historiese aard van die Bybel te reduseer tot die historiese situasie waarin die boeke van die Bybel ontstaan het. Hierby inbegrepe is die volgende gevaarlike eensydighede:
Die eksegeet begin dink dat hy met die naspeuring van die sosio-historiese konteks van n Skrifdeel die eintlike historiese deel van sy eksegese afge-handel het.
Die eksegeet begin die sosio-historiese gegewens van die teks hanteer as die eintlike sleutel tot die verstaan van die teks.
Tot sy uiterste gevoer, word buite-Bybelse (sosio-historiese) gegewens dan ingevoer om die "eintlike" betekenis aan die teks te verleen en om selfs dit wat in die teks staan, te "veto" - in die lig van sosio-historiese gegewens is dit wat daar geskrywe staan nie geldig nie!
In sy heel uiterste vorm word die Bybel as blote produk van sy sosio-historiese konteks beskou. Die Heilige Gees as eerste Skrywer van die Bybel word in teorie miskien nog erken, maar in praktyk het die Bybel maar sy beslag gekry vanuit die destydse samelewing. Wat buite rekening gelaat word is die feit dat die Heilige Gees dikwels die Bybelskrywers laat skrywe het in weerwil van of as korrektief op die sosio-historiese situasie.
Soos met elke "goue middeweg"-poging, bevind die sosio-historiese Skrifverklaring hom op die ou einde op n vlakte waar dit nog kant nog wal raak. Hoogstens sou n mens daarvan kon sê dat dit die proses van grammaties-historiese Skrifverklaring onvoltooid laat en daarom nie in sy doel slaag nie. Dit vra immers net na die historiese konteks waarop God elke Skrifuitspraak gerig het en nie óók na die historiese konteks van God se openbaring nie. Dit ignoreer die openbaringshistoriese konteks van die Bybel.
6. WAT IS DIE OPENBARINGSHISTORIESE KONTEKS?
Die heel belangrikste en omvattende historiese konteks waarbinne God elke Skrifwoord gestel het, is die konteks van sy openbaring in en deur die geskiedenis. Die Duitse Gereformeerde teoloog Oscar Cullman (Christ and Time. SCM. 1952:27), wat n voorstander van die Heilshistoriese benadering is, sê uitdruklik dat "revelational history (Offenbarungsgeschichte) is still more comprehensive." Hoe so?
God het sy openbaring aan die mens in die geskiedenis gegee - tydgerig, soos die Gereformeerde Skrifbeskouing dit het. Maar daarmee word die Bybel nie tot n aantal los tydgerigte openbarings gereduseer nie. Nee, die afsonderlike boeke wat God in verloop van die geskiedenis gegee het om uiteindelik deel van sy Kanon uit te maak, is nie n aantal los, onsamehangende geskrifte nie. Nee, elke boek, elke Skrifwoord, vorm deel van die groot geheel van God se Skrifopenbaring aan die mens. In die Gereformeerde Skrifleer praat ons van die eenheid van die Skrif.
Die eenheid van die Skrif het tot gevolg dat die Skrifverklaarder duidelikheid moet kry oor hoe die voorhande Skrifwoord binne die geheel van die Godsopenbaring inpas. Dit moet onthou word dat God sy openbaring oor n lang historiese tydperk (ongeveer 3000 jaar) gegee het. Die openbaring het nie eensklaps volledig tot die mens gekom nie. Daar was voortgang. En Goddelike beplanning. Daarom kan n mens praat van groeiende openbaringslyne wat soos n goue draad deur al die boeke van die Bybel loop. En hoe verder die tyd aangestap het, hoe vollediger, duideliker het die openbaring geword - juis omdat die lig van die eerste dele die later dele ondersteun.
Die groeiende openbaringslyn kan vergelyk word met n gordyn voor n verhoog wat gelig word. Eers sien n mens net klein, oënskynlik onsamehangende dele van die dekor en die voete van die akteurs. Maar namate die gordyn verder gelig word, word alles al duideliker in konteks gesien en word die betekenis daarvan al duideliker. Die eerste dinge is nie minder belangrik nie, maar eers in die lig van die latere kry dit sy volle betekenis. Vergelyk Jesus se woorde in Matteus 5:17: "Ek het nie gekom om die wet en die profete te ontbind (kragteloos te maak nie), maar om dit te vervul (hulle volle betekenis te gee).Die taak van Openbaringshistoriese Skrifverklaring is dus om uiteindelik die vraag te beantwoord : Hoe pas hierdie besondere Skrifdeel binne die geheelgeskiedenis van God se openbaring in? Is dit die "voete"? Is dit die "hande"? Los daarvan staan dit nooit. Wat is dan die openbaringshistoriese verband ?
Die hermeneutiese sleutel tot die gereformeerde prediking is dus nie geleë in sosio-historiese gegewens of in enigiets anders nie as die openbarings-historiese lyn(e) van die Skrif. Dit bied immers die mees omvattende vertrekpunt, wat inklusief van sowel die verbondshistoriese en die heilshistoriese lyn is. Die Skrifboodskap kan dus voorgestel word as inklusiewe konsentriese sirkels, waarvan
- die heilsopenbaring van verlossing in Christus, wat in die sentrum staan,
- aangebied binne die ruimer raamwerk van God se verbond;
- maar in die mees omvattende sin is dit openbaring van God, wie Hy is, sy werke, sy wil, sy koninkryk (waarby sy verlossing en sy verbond van genade ingesluit is).
Coetzee (Kernmotiewe in die Godsopenbaring van die Nuwe Testament, 1982:48) stel dit soos volg: "Die term `Openbaringsgeskiedenis omvat God se Selfopenbaring, sy weg en sy werke met die ganse skepping, en - sover dit die mens aangaan - sowel sy heilswerk as sy oordeelswerk oor gelowiges én ongelowiges." Voeg hieraan toe: En hierdie weg wat God volg ontvou Hy van Genesis tot Openbaring soos n pragtige historiese tafereel voor die mens se oë.
7. PRINSIPIëLE VERTREKPUNTE VAN N OPENBARINGSHISTORIESE STUDIE
Skrif as Godsopenbaring
Hiermee word as prinsipiële vertrekpunt geneem die konfessie dat God Homself en sy dade in die Skrif openbaar. Die Bybel word dus bestudeer as Godsopenbaring. Hiermee word n bewuste keuse gemaak teenoor die histories-kritiese Skrifbeskouing wat die historiese karakter van die Bybel wel erken, maar wat die Godsopenbarende aard daarvan misken.
Die historiese karakter van die Godsopenbaring
Die benaming "Openbaringsgeskiedenis" gaan ook uit van die veronderstel-ling dat God sy openbaring in en deur die geskiedenis gee. Die doel van openbaringshistoriese studie is dan ook om die Skrifgeopenbaarde dade van God in die geskiedenis te bestudeer. Ook word hiermee n prinsipiële keuse gemaak teenoor n fundamentalistiese Skrifbeskouing wat die Skrif wel as Godsopenbaring erken maar die historiese aard daarvan misken. Deur die historiese karakter van die Godsopenbaring as uitgangspunt te neem, word openbaringshistoriese studie gegrond op die aanname dat daar in die Godsopenbaring n historiese voortgang is en dat hierdie voortgang ook in die te-boek-gestelde openbaring, die Bybel, weerspieël word.
Die eenheid van die Kanon
Dat daar n onderlinge samehang van die 66 boeke van die Bybel is en dat daar so-iets soos n geheel-prediking van hierdie 66 boeke bestaan, is - net soos die siening van die kanon as geskrewe Godsopenbaring - n konfessionele aangeleentheid. Die konfessie van die eenheid van die Kanon, soos dit in artikel 25 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sy neerslag vind, vind die fundamentele eenheid van die Ou en die Nuwe Testament in Jesus Christus. God se koninklike heerlikheid en gesag, sy geregtigheid en sy genade, sy wese en sy werk het as openbaringsmiddelpunt die persoon van Jesus Christus.
Die handhawing van die eenheid van die Kanon hang ten nouste saam met die erkenning van die Heilige Gees as Eerste Skrywer van die Kanon. Die aanvaarding dat al 66 boeke van die Kanon uiteindelik na die één Outeur toe terugherlei kan word, maak dit moontlik om van n onderlinge samehang en geheel-prediking te praat.
Verskeidenheid te midde van die eenheid
Terselfdertyd berus n openbaringshistoriese studie op die veronderstelling dat die Godsopenbaring in die Skrif - te midde van die inherente eenheid daarvan - ook n besliste diversiteit vertoon. Deel van die historiese diversiteit van die Skrifopenbaring, is dat God sy een Skrifopenbaring in 66 verskillende boeke laat opteken het deur n verskeidenheid van skrywers met verskillende invalshoeke, met gebruikmaking van verskillende literêre genres en tegnieke, onder verskillende sosio-historiese omstandighede. Die historiese karakter van God se geskrewe openbaring vind juis gestalte in die diversiteit van geskrifte waarin dit geboekstaaf is.
8. TEN SLOTTE
Heelwat sou nog gesê kon word oor die metodes van en vereistes vir die hantering van Openbaringshistoriese gegewens in die eksegese. Tyd en ruimte ontbreek egter. Die doel van hierdie voordrag is egter bloot om te verduidelik waarom Gereformeerde Skrifverklaring in die volle sin van die woord nie anders kan nie as om te kom tot n Openbaringshistoriese uitleg van die Skrif. Grammatiese (sintaktiese, stilistiese, strukturele, ens.) studie is onontbeerlik. Ook is die studie van die sosio-historiese omstandighede van die menslike skrywer en die eerste lesers uiters belangrik. Maar waarsonder die grammaties-historiese eksegese nie kan eindig nie, is om die verband van die Skrifwoord met die res van die Godsopenbaring te vind.
- Die verskillende stappe van Skrifverklaring kan vergelyk word met n huis wat gebou word.
- Die fondament wat gelê word, waarop alles berus, is die grammatikale ontleding.
- Die mure wat daarop gebou word, is die studie van die historiese situasie (sosio-historiese gegewens) waarop God deur die skrywer die Skrifwoord gerig het (ook bekend as die besondere kanoniek van die Bybelboek).
- Die dak waarin alles tot n eenheid saamkom, is die openbaringshistoriese studie.
Immers, uiteindelik is die belangrike vraag wat beantwoord moet word: Wat sê God vir ons hier, in hierdie Skrifwoord as deel van sy openbaring?