|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
MEDIESE ETIEKDIE PROBLEEM VAN KANTIANISME
- DR MC DURAND -
Een van die grootste probleme in die sekulêre wêreld (soos wat ook maar die probleem in enige deformerende kerk is), is die probleem van reëls. Wie se reëls is reg? Jou reëls of my reëls? Ons reëls of julle reëls? Vandag se reëls of gister se reëls? Oplossing van hierdie onenigheid is nie maklik nie. Indien ons n eindelose (en selfs n bloederige) geveg wil vermy moet ons óf reëls probeer maak wat algemeen genoeg is om almal tevrede te stel, óf ons moet niks meer vir mekaar oor reg en verkeerdvertel nie, en verval in n hopelose relativisme.
Die relativisme stel selde tevrede. Dit vererger individualisme, sekte- en groepvorming. Terselfdertyd veroorsaak relativisme n hopeloosheid - want hoe weet jy, jy is reg of verkeerd. Dit is maar n skrale troos om te sê dat almal jou en jy almal sal verdra. (soms word selfs n vergryp aan Romeine 14 gebruik om troos te bied vir hierdie hopeloosheid). Selfs in n relativistiese opset sal die individu, groep of sekte nie dié knaende vraag kan vermy nie: "Is ek/ons reg of verkeerd?"
Relativisme dien slegs as tydelike oplossing vir die probleem van die konflik van reëls.
Die ander "oplossing" van die eindelose konflik is om algemene oorkoepelende reëls op te stel. Diegene wat hierdie taktiek poog vind soms aanklank by Kant.
Immanuel Kant (1724-1804) was n filosoof wat oplossings van morele reëls (maksims) gebied het deur die beginsel van universaliteit (die kategoriese emperatief). Hy het enige nie-universaliseerbare handeling verwerp.
Vandag word hierdie Kantiaanse tegniek steeds gebruik om die krisis van geskille in reëls op te los. Partikuliere reëls moet derhalwe op eg Kantiaanse wyse getoets word aan die beginsel van die universaliseerbaarheid. Dit beteken dat elke ding wat ek wil doen moet almal ter eniger tyd en plek ook kan doen. Byvoorbeeld: Ek mag lieg slegs indien almal altyd en oral mag lieg. Indien almal oral en altyd mag lieg, sal daar egter geen waarheid of vertroue meer kan wees nie. Gesprek en verhou-dings sal betekenisloos word, en daar sal niks van die
same-lewing oorbly nie. Aangesien leuens derhalwe nie aan die universaliseerbaarheid beginsel kan voldoen nie, weet ons dat dit moreel verkeerd is om te lieg.Die oplossing dan vir al ons konflikte oor reëls word opgelos deur om n abstrakte oorkoepelende beginsel te vind waarmee almal in die groep kan saamstem. Meeste mense sal byvoorbeeld kan saamstem met n beginsel soos: Liefde, Respek of Veg teen lyding. Die meer godsdienstiges sal byvoorbeeld kan saamstem met: Eer aan God of Herinnering aan verlossing. Ons kan selfs kombinasies van sulke abstraktes uitdink. Die gedagte is dan dat enige partikuliere reël aan een van hierdie abstrakte beginsels getoets word. Indien die partikuliere reël die toets slaag, dan is dit n geldige reël. Maar indien dit nie die toets slaag nie, dan is die reël ongeldig.
Daar is egter twee onmiddelike probleme by die abstrahering van morele beginsels:
Alles kan universaliseerbaar gemaak word . Die eerste probleem is dat enige partikuliere reël (met n bietjie verbeelding soms) die toets van die abstrakte beginsel sal kan slaag. Daarom sal n partikuliere reël soos: "Aborsies en aktiewe eutanasie kan reg wees" ook die toets aan die abstrakte beginsels van Liefde, Respek of Veg teen lyding kan slaag.
Indien n pasiënt in erge lyding verkeer kan die "Veg teen lyding" gesien word in die oordosering morfien wat die arts vir die pasiënt gee. Indien n vrou n ongewense swangerskap het, kan die "Liefde" vir die vrou en die ongebore kind getoon word deur die pleging van naborsie. Want so kan die arts die moontlike ellende van n-ongewense-kind-wees voorkom en die vrou uit haar emosionele /psigiese / ekonomiese nood help.
Die verloëning van die Woord van God
Die tweede en ernstiger probleem van die abstrahering van morele beginsels is dat dit die Woord van God verloën. God openbaar in sy Woord nie net abstrakte beginsels (soos Liefde, Respek, Verdraagsaamheid, Eenheid, ens) nie. God openbaar ook heel konkreet wat gehoorsaamheid behels. Hy beveel nie net liefde nie, Hy verbied ook doodslag, Hy leer ons dat kinders n seëning is. Daarom sal aborsie terwyl dit (met n bietjie verbeelding) aan die abstrakte beginsel van "Liefde" kan voldoen, nie kan voldoen aan alles wat God in sy Woord vir ons oor kinders en die lewe van mense leer nie. Die geabtraheerde "Liefde" (al word dit met n paar teksverse uit die Skrif verdedig) wat aborsies regverdig nie die liefde wat God ons die Skrif beveel nie. (In n deformerende kerk is hierdie abstrahering van moraliteit n gunstelingpoging om onenigheid op te los oor byvoorbeeld liedere, sogenaamde Christelike feesdae en sport op Sondae. Dink maar aan aanmerkings soos: "Wees eensgesind", "Broeders mag mekaar nie oordeel nie", "Wees verdraagsaam", "Solank jy die Here daarmee wil eer", "Wees lief", of "Solank jy dink aan jou verlossing"). Abstrahering van beginsels (al kom dit met teksverse uit die Skrif) is derhalwe steeds die verloëning van die Woord van God - en is derhalwe 'n leuen.
Gelowiges sal by die beoordeling oor aktiewe eutanasie, aborsie, kremasie, voorbehoeding, orgaanoorplanting, dissektering van kadavers, nie oplossing probeer verkry deur abstrahering uit die Skrif nie. Gelowiges word geroep om die ganse Skrif in oorweging te neem - Dit is die Waarheid en die Lewe.