|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
OPVOEDING EN ONDERWYS- SINODE GKSA 2003 -
STANDPUNTSTELLING TEEN EVOLUDIONISME IN SKOLE
Een van die sake wat op dié Sinode gedien het en reg oor besluit is, is dié aangaande die regering se invoer van die Darwinistiese evolusieleer as 'n verpligte deel van die skoolkurrikulum vanaf die volgende jaar. Ons vermeld enkele van die gestelde argumente, soos dit in die Handelinge van die Sinode (bl 424 vv) gepubiseer is. Wat is evolusie?Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het die woord evolusie in die biologie die betekenis van "Ontstaan of totstandkoming van plant- en diersoorte, hetsy geleidelik of sprongsgewyse, uit ouer vorme". Die WAT verduidelik verder: "Evolusie, soos ons tans verstaan, is 'n veelomvattende begrip, daar dit die studie behels van daardie ontsaglike kompleks van natuurverskynsels wat gelei het tot die vorming en ontwikkeling van sonnestelsels en veral van dié wat die aarde insluit, asook die ontwikkeling van alle vorme van plant- en dierelewe wat op aarde voorkom". Met ander woorde, evolusie behels vandag die wordingsgeskiedenis van die heelal, die aarde en alles wat op aarde is, ook van die mens en sy vaardighede, en sy verstandelike en geestelike gawes Dit is dan ook die betekenis van die woord evolusie in die algemene omgangstaal, ook in die natuurwetenskappe sowel as in die geesteswetenskappe. Vir evolusie binne 'n soort word die woord mikro-evolusie gebruik. Diegene wat nog die Bybelse skeppingsleer aanvaar, tipeer wat gewoonweg onder evolusie verstaan word, met evolusionisme of ook evolusieleer. Evolusieleer is in feite materialistiese naturalistiese ontstaansleer, met ander woorde, die geloof dat die natuur die moeder is van alles wat bestaan. ...
Die evolusiedebat
Op 11 Junie 2002 het daar in die Volksblad onder die opskrif: "Studie van evolusie in leerplan onmisbaar - die teorie van huidige biologiese kennis", verskyn waaruit enkele paragrawe weergegee word:
"Enigeen wat die huidige skoolhandboeke oor algemene wetenskap en biologie lees, kan sien waarom leerlinge dié onderwerpe so vervelig vind. Die woorde 'Darwin' en 'evolusie' is nie eens in een van die huidige hoërskool-biologiehandboeke te vinde nie".
Só het dr Jeffrey Lever, 'n konsultant van die navorsingsraad vir menslike wetenskappe (NRF), ... in Stellenbosch gesê op 'n konferensie oor onder meer die implikasies van menslike genoomnavorsing vir Afrika. "Ons skoolleerplan moet dringend gesuiwer word van die ergste apartheid-geïnspireerde materiaal. Die evolusie moet nie net 'n plek vind in die bilologie-onderrig nie, maar ook in geskiedenis- en selfs fisika- en aardrykskunde-onderrig."
Lever is in sy siening gesteun deur die minister van onderwys, mnr Kader Asmal. Laasgenoemde het in 'n toespraak wat op dié konferensie voorgelees is, gesê dat slegs "dogmatiese godsdienstiges" staan vyandig teenoor die evolusieteorie. Volgens Asmal vorm evolusie 'n sentrale deel van wat in die natuurwetenskappe onderrig behoort te word.
"Dié genetiese kennis kan kritieke gevolge hê vir die mens se begrip van wat hy is en waar hy vandaan kom",het prof Wilmot James van die navorsingsraad vir menslike wetenskappe (NRF) gesê. ...
Darwinistiese evolusie
Die evolusie wat gedebatteer word en wat nou in die skoolleerplan ingevoer dien te word, is die Darwinistiese evolu-sie. Vroeg in die negentiende eeu, toe geoloë al heelwat gegevens ter ondersteuning van opvolging van aardlae met fossiele van steeds meer gevorderde vorme van lewe na vore gebring het, het destydse voorpuntdenkers nie kon verklaar hoe evolusie kon plaasgevind het nie. Daar was geen voor die hand liggende wyse waarop een spesie tot 'n meer gevorderde spesie kon ontwikkel het nie. Darwin het dit alles verander deur sy teorie waarvolgens evolusie plaasvind deur die proses van natuurlike seleksie. Dit was goed bekend dat telers nuwe variëteite van honde, koeie, appels en rose teel uit klein veranderinge in opvolgende generasies. Darwin het voorgestel dat deur natuurlike seleksie klein veranderinge in opvolgende generasies sal groei tot groot afwykings vanaf 'n aanvanklike soort. Sodoende sou oor honderde miljoene jare elke soort (spesie) wat ons vandag op aarde waarneem, uit vroeëre spesies ontstaan het. Daarmee het Darwin die gedagte van evolusie aanvaarbaar gemaak, 'n teorie wat die samelewing vandag as 'n vanselfsprekende waarheid beskou, maar wat nie eksperimenteel vir geldigheid gekontroleer en bewys kan word nie. ...
Wat is die Gereformeerde antwoord?
In die Lewenswetenskappe word feite binne 'n Darwinisties-evolusionistiese raamwerk ingeklee, maar al hierdie feite kry ewe-eens betekenis binne 'n Bybelse skeppingsraamwerk. Wat moet ons keuse wees? Die Bybel getuig baie duidelik dat alles deur God geskape is en nog steeds deur sy voorsienigheid onderhou en bestier word tot voleinding. Dit word onder andere saamgevat in enkele artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis:, naamlik die artikels 2, 12, 13 en 14. ...
* Die Gereformeerde Kerke in SA maak beswaar by die regering teen die invoer van Darwinistiese evolusieleer as 'n verpligte deel van die skoolkurikulum vanaf 2004.