|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
SKRIFOORDENKING
Verwyder die vreemde gode en die Astartes onder julle uit ...
1 Samuel 7:2-12
- DS GUSTAV OPPERMAN - DELAREYVILLE EN SANNIESHOF -
As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig jullehart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne. (1 Samuel 7:3)
Broers en susters in die volk van die verbond, hoor u ook die gehuil, die geweeklaag van die volk ? Die gees van moedelose trane Dit skreeu partykeer ten hemele! Misdaad, geweld, plaasmoorde
"So kan dit nie aangaan nie", het party al gesê. En dan gaan dit so aan net al hoe erger Die regering sê dit het afgeneem, maar niemand is oortuig nie. Dis net die teenoorgestelde, so voel dit. Dit het eerder toegeneem.
Daar is nog n ding wat toegeneem het onder ons mense in ons tyd. Feeste. Feeste van allerhande soorte. Elke week n ander fees. Dis asof n feesgees ons mense beetgepak het: kunsfeeste, lentefeeste, bierfeeste, mampoerfeeste, rockfeeste, vloekfeeste en seksfeeste vir die hardebaard manne en vroue Die een sokkie- oppie-koppie na ander Hoe sê die een liedjie ? Wikkel daai boude, wikkel daai boude
En nou is dit moeilik vir my om te verklaar hoe ons hierdie twee geeste met mekaar moet versoen - hierdie huilgees en hierdie feesgees. Ons kan maar net opmerk: Hulle is altwee dáár vir meer as tien jaar lank .
Miskien het ons nog tien jaar nodig - die volle twintig jaar wat die huis van Israel geweeklaag het, voordat daar n verandering kom; voordat ons volk ryp is om te hoor:
As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, rig julle hart op die HERE dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne
Hoofstukke 7 en 8 van 1 Samuel sluit die Rigterperiode af. Dit was n periode wat gekenmerk was deur drie verskynsels:
Die woord van die HERE was skaars in die dae (1 Sam 3:1).
In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë (Rig 21:25).
n Treurige toestand n Treurige toestand met treurige gevolge! In hoofstuk 2 van die Rigterboek sien ons dit reeds:
Hulle het die HERE, die God van hulle vaders, verlaat en die Baäl en die Astartes gedien, die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam, Hy het hulle oorgegee in die hand van rowers wat hulle beroof het; Hy het hulle verkoop in die hand van hulle vyande rondom, sodat hulle nie meer kon standhou voor hulle vyande nie.
By Baäl en die Astartes moet ons net so n oomblikkie stilstaan, want ons sal hierdie name nog baie in die Bybel teenkom. Wie was Baäl en Astarte? En hoe is hulle gedien? Baäl en Astarte was die verpersoonliking van n energie in die natuur wat die heidendom waargeneem het. Dis die energie van die wisselwerking tussen son en aarde, reën en groei; die energie van seisoene wat kom en gaan. Dis die energie van vrugbaarheid en voortplanting. Dis n seksuele energie
Baäl is die songod; hy bring die reën. In die beeldjies van hom wat in Palestina opgegrawe is, staan hy met weerligstraal in sy hand. Die Goue Kalf, wat eintlik n bul was, én Baäl én Dagon - Hulle is al drie baie naby familie. Hulle doen dieselfde werk. Hulle bevrug die aarde.
Astarte is die Moeder-aarde Godin. Sy word bevrug, sy lewer die oes, sy word gedank vir die seksuele plesier Sy word aanbid vir die voorspoed wat sy bring. Haar spore lê vêr en wyd in die wêreldgeskiedenis. In Egipte was sy Isis genoem. In Assirië was sy Ishtar; sy is die grote Diana van die Efesiërs; sy vind haar plek in elke heidense godsdiens. Die Rooms Katolieke het n plekkie vir haar in die vorm van Moeder Maria. Haar profetes in Elia se tyd was Isébel en in die boek Openbaring is Isébel steeds haar profetes In die boek Openbaring het Astarte n ander naam. Daar leer ons haar ken as die Hoer van Babilon Sy is die moeder van alle heksery en towery. Sy is die moeder van alle hoerery en afgodery. Vir die moderne westerling is haar slagspreuk: "Red moeder aarde!" Vir die moderne westerling trek sy n feministiese ge-waad aan; soek sy bemagtiging vir die vrou op elke terrein.
Haar godsdiens het n feeskarakter Nie n Christusfees nie, maar n heidenfees met dronkenskap en seksuele uitbundigheid n Fees met vroulike én manlike tempelprostitute. Ons sien dit reeds tydens die episode met die Goue Kalf in Eks 32:6.
Daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.
Sy is die een wat sê: Die huweliksbed is nie ook n pligbed nie. "Nee," sê sy, "die huweliksbed is net n plesierbed "
En die één ding wat Astarte en haar profete deur al die eeue dryf, die een ding wat haar al die tyd dring, is haar haat vir die Here Jesus Christus, die enige ware Here, en sy kinders. As daar nou één ding is wat sy wil verhoed, dan is dit dat daar n nageslag sal wees wat die Here vereer!
Hoe reageer die Here teenoor sy volk wat Astarte naloop ? Ons lees dit in die boek Deuteronomium 28. Die volk sal op drie maniere getref word: Sy bakskottel en sy mandjie sal getref word; sy vrugbaarheid sal vervloek word en die volk sal nie kan standhou voor sy vyande nie.
Al drie hierdie onheile kom oor die volk Israel tydens die Rigterperiode. Ons lees van die hongersnood in Naomi en Rut se tyd, van die onvrugbaarheid van Simson se ouers, van die onvrugbaarheid van Hanna, die moeder van Samuel. Ons lees van Naomi se kinderloosheid En hierdie was die volk wie so talryk soos die sand van die see sou wees, so het die Here aan Abraham belowe!
Nou tas dieselfde Here hierdie volk aan. Die Here tas die volk aan juis op daardie gebiede waar Astarte vir hulle sukses belowe: voorspoed en vrugbaarheid. So het die profeet Jesaja ook in sy tyd gewaarsku:
Hierdie twee dinge sal dan in n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe (Jes 47:9).
Die profeet Hosea maak dieselfde voorspelling:
Dan sal hulle eet, maar nie versadig word nie; hulle sal hoereer, maar nie uitbreek in menigte nie; want hulle het nagelaat om die HERE te vereer (Hos 4:10).
Die volk verarm en hulle kinders word al hoe minder. Daarom kan hulle nie meer voor hulle vyande stand hou nie. Die Spreukedigter sê tog immers:
In die menigte van die volk lê die heerlikheid van die koning, maar in die gebrek aan mense die ondergang van die vors. (Spr 14:28)
En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte (1 Sam 13:5)
Teenoor Israel was die Filistyne nie net baie nie - hulle was ook n supermoondheid. Hulle het die kuns van die ysterwapen, die perd en die strydwa bemeester. Hulle was in vandag se terme die manne met die vliegdekskepe en bunkerbrekerbomme.
Teenoor die Filistyne staan die volk magteloos, verarm en kinderloos. Hulle kan nie met die vyand in die poort onderhandel soos die held in Psalm 27 nie, want hulle hét nie seuns nie. Daar is nie pyle in hulle koker nie. Hulle staan verleë
Hulle het hulle saad vermors op die altare van Astarte! Hulle het gesokkie, geboogie en gepaartie. En hulle het daardie boude gewikkel, maar hulle het nie uitgebreek in n menigte nie.
Hulle besit nog die beloofde land. Die Here het hulle mos kaart en transport gegee, maar hulle het nie meer die kinders om die land te beset nie. Hulle besit nog die plase, maar hulle kan nie meer die plase beset nie
Grondonteiening, plaasbesetting en plaasmoorde dis hulle voorland! Hulle het hulle saad vermors op die altare van Astarte! En wat kry hulle daarvoor? Skole loop leeg. Kerke bloei bleek. En al die plae waarvan ons in die Rigterboek lees - geweld, wetteloosheid, stukkende huwelike, stukkende gesinne, verkragting en homoseksualiteit en in ons eie tyd: geslagsiektes wat skrik vir niks!
Iets gebeur hier aan die einde van die Rigterperiode. Ja, die volk het geweeklaag. Maar dis nie snaaks nie, want hulle huil al vir dekades lank.
Iets anders gebeur hier aan die einde van die Rigterperiode. Op die woord van Samuel verwyder die kinders van Israel die Baäls en die Astartes. Op die profetiese woord begin hulle om die Here alleen te dien: Hulle kom bymekaar by Mispa. Hulle wil die Een God met Een hart dien. Hulle stort hulle sondes soos water voor die Here uit. Die woorde wat in 1 Johannes vir ons opgeteken is, was waar in Samuel se tyd; net so waar as wat dit vandag is:
As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. (1Joh 1:9)
As ons ons sondes bely en dit opgee Die Baäls en die Astartes verwyder Die huis van Israel het gevas Hulle het iets opgeoffer
Wat het ons al opgeoffer om rein voor die Here te kan staan? " ... En vergewe al ons menigvuldige sondes ..." Dit kom so maklik in ons gebede! Watter sondes? Ek vra U? Watter sondes?
Toe die Filistyne hoor dat die kinders van Israel saamgekom het, het die vorste van die Filistyne teen Israel opgetrek
Dagon en sy kinders sal reformasie teenstaan. Astarte en haar profete en profetesse haat die woord van die Here, daarom sal hulle optrek. Dit moet ons te wagte wees. Daars niks wat die magte van die hel so wakker maak as ware reformasie nie.
Toe het Samuel n suiglam geneem en dit as n brandoffer in sy geheel aan die HERE geoffer
'n Lam in sy geheel aan God geoffer. Dis die geofferde lam wat die eintlike wending in die gebeure bring.
Want onderwyl Samuel die brandoffer bring en die Filistyne nader kom om teen Israel te veg, het die HERE dit dié dag met 'n groot geluid laat donder oor die Filistyne, en Hy het hulle in verwarring gebring, sodat hulle verslaan is voor Israel.
Die offer van die sondelose Lam word die ondergang van die heidendom.
Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom die wysheid en die sterkte die eer en die heerlikheid en die lof (Op 5:12).
Die Here tref die Baälaanbidders met donderweer. Die weerligstraal wat in Baälbeeldjies se hand is, word die instrument van oorlog in die hand van die ware God.
Daar sál ook 'n einde kom aan Astarte en haar feeste - ook haar kunsfeeste; aan die stad van Babilon en haar verleidinge. Ons lees dit in Openbaring 18:
En die stem van die siterspelers en sangers en fluitspelers en basuinblasers sal nooit meer in jou gehoor word nie, en geen kunstenaar van enige kuns sal ooit weer in jou gevind word nie, ... want deur jou towery is al die nasies verlei (Op 18:22vv).