|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
SISTEMATIESE BEïNVLOEDING VAN TWYFELAGTIGES IN DIE KERK
Publikasie van 'n gesprek met Ronél Pieterse in Die Kerkblad, Augustus 2003
In die Persrubriek (hieronder) is die bogenoemde gesprek tussen prof Amie van Wyk en Ronél Pieterse, met die oog op die vrae en antwoorde waarop dit aankom, selektief vermeld.
As agtergrond is dit belangrik om kennis te dra van die metode wat aangewend is, vóór en tydens die Sinode Januarie 2003, om die Gereformeerde Kerke te beïnvloed om af te wyk van besluite wat deur voorafgaande sinodes geneem is met betrekking tot die toelating van vrouens tot die regeer- en leerampte in die kerk. In daardie opset het Ronél Pieterse 'n bydraende rol gespeel, wat ook nou die geval is waar die geleentheid aan haar gegee is deur die huidige redakteur van Die Kerkblad.
Kerklike sake behoort op kerklike wyse behandel te word (KO art 30). Op kerklike vergaderings en in amptelike organe van die kerk behoort God se Woord die eerste en laaste seggenskap uit te oefen. Die Heilige Skrif bly in alle gevalle die kriterium waaraan elke saak oorweeg en gemeet moet word. Dit geld ook ten aansien van hierdie gesprek wat plaasgevind het op die terrein van Die Kerkblad, wat deur die Deputate Publikasies van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika beheer en uitgegee word.
Die betrokke uitgawe van Die Kerkblad staan in die teken van "Die plek van die vrou", soos dit deur die redakteur op bladsy 5 aan die orde gestel is. Hy wys op "'n nuwe dimensie van vrouwees wat met Christus aangebreek het". Hierdie nuwe dimensie staan teenoor die voormalige, dat "die kerk vir eeue geoordeel het dat die vrou slegs 'n beperkte rol in die kerk en samelewing mag speel ...". "Die bevrydende werk van Jesus Christus het nuwe en ongekende dimensies van vrouwees geopen. Die manier waarop Hy met vrouens omgegaan en hulle lewe verander het en die wyse waarop Hy hulle by sy werk in die koninkryk van God betrek het, was in sy tyd ongehoord." aldus prof Van Wyk. Die Nuwe Testamentiese bedeling word sodoende kontrasterend teenoor die Ou Testamentiese gestel. Dis 'n teëstelling wat nie bestaan nie. In die Ou Testament was daar ook vrouens met besondere gawes wat deur die Here gebruik is in diens van sy Verbondsvolk. En daar is ook 'n hoofstuk in die boek Spreuke, wat die deugsame huisvrou beskryf: "Haar waarde is ver bo korale". Dis beslis nie so dat vrouens slegs 'n beperkte rol in die kerk en samelewing gespeel het nie. Die Nuwe Testament pas die verhouding tussen man en vrou in die huwelik toe volgens die skeppingsorde dat die vrou onderdanigheid aan die man verskuldig is. As dit uit liefde tot God en die naaste in die huwelik geskied , dan is daar harmonie soos dit van God afstraal.
Ronél Pieterse vermeld in haar antwoord op die eerste vraag dat sy as 'n dogtertjie van twaalf op 'n besondere wyse deur die Here geroep is om voltyds sy Woord te bedien. Sy vertel nie hoe die roeping tot haar gekom het nie. Was dit 'n inwendige of regstreekse roeping van die Here? Soos byvoorbeeld in die geval van Samuel? Of was dit 'n persoonlike gevoelsuiting en wens om op 'n bepaalde wyse diensbaar te wees? As Gereformeerdes glo ons nie dat die Here nog tot ons kom deur middel van 'n direkte inspraak nie. Nie meer nou nie. Die Woord van die Here dien as rigsnoer en leiding in ons lewe. Die hoër roeping tot besondere dienste is daaruit kontroleerbaar, soos wat dit bely word in die NGB, artikel 30 en die artikels van die KO wat daaroor handel. Hierdie argument van Pieterse is geheel en al charismaties en pas nie aan by die Gereformeerde geloofsbeskouing nie. Hierdie "roeping" bots ook met die Gerformeerde (kerkordelike) oortuiging dat vrouens nie behoort deel te neem aan die kerklike ampsbediening nie. Hierdie kerkordelike reëling is skriftuurlik verantwoord. Daar is geen teëstelling tussen die Woord, die kerkorde en die geloofsbelydenisse nie.
In die antwoord op die tweede vraag blyk Ronél Pieterse se misverstaan van die skeppingsorde. Die vrou is gemaak as "'n hulp" vir die man wat by hom sou pas (Gen 2:18). Sy plaas dit egter in die perspektief van die straf in Genesis 3. Nee, God self het die verhouding tussen man en vrou weer reggetrek toe Hy gestel het: "Na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers" (Gen 3:16). Dis nie 'n strafbedeling nie, maar deel van die belofte van verlossing wat deur Jesus Christus bewerkstellig is. Man en vrou is nie gelyk nie maar hulle is geskep as persone wat bymekaar pas en om mekaar aan te vul. In daardie verhouding is die man die meerdere, die verantwoordelike, en die vrou nie die "minderwaardige" nie, maar wel die behulpsame, "waar die hart van haar man op vertrou" (Spr 31:11).
Die derde vraag se antwoord is ontwykend. Die Feministiese Teologie vertolk die Bybel nie vanuit die geloof aan die inspirasie van die Heilige Gees nie. Die Feminisme huldig die opvatting van 'n evolusionêre ontstaan van religie en heilige geskrifte. Daarvolgens was daar 'n verkeerde wending in die Bybelbeskrywing, dat dit paternalisties gemotiveerd was in 'n paternalistiese tydperk. Vandaar dat die God van die Bybel as manlik (Hy) beskryf word. Hulle poog met die oog daarop om die Bybel te herskryf, waarin die manlike eienskappe van God vermeng word met vroulike om tegemoet te kom aan hulle begeerte en strewe van gelykstelling tussen man en vrou, binne en buite die huwelik, met matriargale momentum.
Pieterse sê dat sy haarself nie as 'n feminis beskou nie, maar "waar die waarheid deur een soort bril verdraai is, daar 'n reaksie en teenpool gebied moet word om weer by die waarheid uit te kom". Tog sluit sy in haar antwoord op die vierde vraag baie nou aan by die feministiese verdraaiing van die Bybel."Ek dink dus nie ons moet God as manlik voorstel nie, omdat dit nie is hoe die Woord God openbaar nie. God is 'n geestelike Wese wat openbaar word deur vroulike en manlike metafore om aan ons verstaanbaar te wees".
God voorsien sy kinders in alle behoeftes soos dit Hom behaag. Dit maak van Hom nie 'n onsydige Wese wat manlike en vroulike eienskappe vertoon nie. Nee. Hy sorg soos 'n moeder vir sy kinders en beskerm hulle soos 'n vader. Die belangrike aanspraak in die gebed wat Jesus Christus vir ons voorgebid en geleer het, lui immers: "Onse Vader wat in die hemel is". Die Heidelbergse Kategismus vr/antw 120 verklaar dit aldus: "Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dit moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het en dat Hy ons veel minder dit wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders aardse dinge vir ons ontsê." En in vr/antw 121: "Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie en van sy almag alles verwag wat vir ons liggaam en siel nodig is."
Pieterse is, as haar woorde sorgvuldig oorweeg word, gevaarlik in stryd met die inhoud van die Gereformeerde geloof soos dit bely word in die belydenisskrifte. Dis ook 'n vorm van Skrikritiek. Die NGB (art 8) vertolk die geïnspireerde Waarheid van die Skrif aldus: "Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader (let wel!) is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge."
In die elfde vraag praat Pieterse oor die gebeurde tydens die Sinode dat sy haar blootgestel het deur openlik te praat oor haar en ander vroue se roeping. Sy beweer dat "sommige sinodegangers hierdie roeping om die Woord te verkondig, gelykgestel het met 'n sondige begeerte ..." en sy dink dat "dit nogal gevaarlik is om vir mense te vertel dat 'n roeping wat die Gees op iemand se lewe plaas, eintlik afkomstig is van die duiwel."
Ook hierdie laaste antwoord is mistastend omdat dit nie voldoen aan 'n suiwer beoordeling nie. Eintlik moes Pieterse nie tydens die openbare vergadering van die Sinode opgetree het nie. Met die oog op die diepliggende verskil van opvattings oor hierdie saak was haar optrede tydens die sinode, net soos die betwiste vertoon van die video's, onwys met die gevolg dat daar dalk skerp en oorreageer is met kwetsende aanmerkings. Die saak waaroor dit gaan, het op talle wyses skade gely en is daarmee nie gedien nie.
Terug na die hoofsaak: Is daar sprake van 'n Goddelike (charismatiese) "roeping" vir Woordverkondiging in die geval van vrouens, terwyl dit in stryd met die geopenbaarde Woord van die Here is? Paulus het nie verniet geskrywe: "Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!" (Gal 1:8) Dus moet daar eers helderheid wees oor die werklike bedoeling, die leer, van die Skrif. Een van die gesaghebbende uitsprake wat op die Sinode gestel is, lui dat daar 'n "duidelike onduidelikheid" bestaan oor die toelating van die vrou in die besondere ampte in die kerk.
Hierdie kommentaar raak allereers die moderamen van die Sinode wat Ronél Pieterse toegelaat het om haar pleidooi tydens die amptelike sitting te lewer, dit raak ook die Redakteur van Die Kerkblad om hierdie vraaggesprek met haar te gevoer het en te publiseer en dit raak ten slotte die betrokkene vanweë haar ingesteldheid en gestelde standpunte en antwoorde wat betwisbaar is.