|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
FEMINISME EN DIE HUISGESIN
- Marié Bosman -
Met toestemming oorgeneem uit DIE BOODSKAPPER (AP Kerk) September 2003 (bl 9 en 10)
Heel aan die begin het die Here man en vrou geskape, na sy beeld het hy hulle geskape. Hy het hulle apart geskape, eers die man en daarna die vrou. Die Here het hulle ook as gelykes geskape, die een nie meerderwaardig bo die ander nie. Verskillende rolle en take wat by elkeen se aard pas, word van die begin af aan man en vrou toegeken. Aan die man word die verantwoordelikheid opgelê om sy woonplek, die tuin van Eden, te bewerk en bewaak. Die vrou moet met haar eiesoortige eienskappe hom ondersteun. Die struktuur van hierdie samevoegings is deur God self bepaal. Die man is die leier en die hoof van sy gesin wat hy moet be-skerm en onderhou. Die vrou is sy hulp en metgesel, asook die versorger van die gesin.Die sondeval bring egter 'n spoedige einde aan die harmonieuse samesyn. Die man verruil sy leierskap vir 'n heersersrol. Die vrou se gelykwaardigheid word misken. Minagting en mishandeling word, veral in die heidense gemeenskap, haar lot. Die vrou begin egter daarna strewe om die man verby te steek. In die twintigste eeu het die vrou se sondige begeerte na die dominante posisie 'n hoogtepunt bereik met die ontstaan van die feministiese beweging.
Feministiese doelwitte
Feminisme is 'n radikale beweging. Die vroue aan die spits daarvan strewe na die verandering van alle vasgestelde verhoudingstrukture. Feministe bepleit nie slegs die gelykwaardigheid van die vrou nie. Hulle wil 'n nuwe gemeenskap daarstel waarin die gesagsposisie van die man oor die vrou vir goed verby is. In die onlangse jare was die feministe besonder suksesvol met die werksprogram vir hulle sosiale revolusie op alle terreine van die samelewing - kerk, regering, leër, universiteit, skool en media. Dié welslae is nie slegs aan die ywer van die militante vroue op die voorpunt te danke nie, maar ook aan die medewerking van die talle vroue in die agterhoede wat dikwels weens hulle onkunde saamgesleep word. So beywer baie gelowige Christenvroue hulle vir die doelwitte van feminisme as gevolg van hulle beperkte kennis van die Here se skeppingsplan met man en vrou. Vrouens laat hulle veral meevoer deur die valse leer van die twee bedelings wat verkondig dat ons tans in die tyd van die sogenaamde nuwe bedeling, waarin die Ou Testamentiese wette en reëls nie meer geld nie, leef. So word Paulus, wat die Ou Testamentiese opdragte in verband met die posisie van die vrou in Nuwe Testamentiese briewe bevestig het, dan afgemaak as 'n toonbeeld van manlike chauvinisme.
Die huisgesin as teiken
"Die maatskaplike instelling van wat feministe as een van die onderdrukkendste vir vrouens geteiken het, is die tradisionele huisgesin, die gesinstruktuur soos dit in die Westerse samelewing onder die invloed van die Christendom en die Bybel ontwikkel; het", skryf William Einwechter in sy artikel, "The Feminization of the Family". In so 'n gesin is die man hoof van die huis en die gesinslid verantwoordelik vir die voorsiening van alles wat nodig is vir lewensonderhoud. Die vrou is die huishoudster, die tuisteversorger, en die een wat veral verantwoordelik is vir die versorging van die kinders. So 'n gesin funksioneer in ooreenstemming met Bybelse voorskrifte. Omdat feministe alles wat volgens die Woord van God gestruktureer is, verwerp, beoog hulle die vervanging van die tradisionele gesin met 'n volkome andersoortige maatskaplike instelling volgens feministiese opvattings. In die Westerse samelewing en in die huise van Afrikaners het feminisme helaas al die afgelope dertig jaar oorweldigende welslae behaal met die vernietiging van die tradisionele huisgesin - en tragies genoeg sonder veel teenstand van die mans.
Die huwelik is eerstens ontwrig en egskeiding is aan die orde van die dag. Saamblyery is deur dié soort redenasie bevorder. Ten tweede word die man as hoof van die gesin uitgeskakel deur 'n gelykmakende reëling waarin man en vrou die leierskapspligte in die huishouding "deel". Die Bybelse begrip van die man as hoof van sy gesin en heer van sy huishouding word deesdae as baasspelery en barbaars afgemaak en die idee van vroulike onderdanigheid word bespot. Daarby word die beginsel van die man as voorsiener en onderhouer van die huisgesin opsy geskuif ten gunste van die nuwe model van gesamentlike verantwoordelikheid vir die gesin.
Die vrou wat haar voltyds aan haar gesin en huis toewy, word geminag. Die kultuurstandaard is tans die van n werkende vrou wat vervulling vind in werk buite haar huis. n Loopbaan is die aangewese weg vir die vrou en moeder van ons tyd en die Bybelse opdrag dat die vrou haar huis moet versorg, word verontagsaam. Daarom word die verantwoordelikheid van moederskap ook in n nuwe lig gesien. Die Bybelse roeping van die moeder wat by haar kinders is, hulle liefhet, opvoed, oplei en beskerm, word verwerp ten gunste van die feministiese idee dat sy, bevry van sulke beperkinge, met belangriker, selfverwesenlikende dinge besig moet wees.Die tradisionele gedagte dat n groot gesin n genadegawe van die Here is, word afgewys ten gunste van die sogenaamde ideale gesin met slegs een of twee kinders (of uit eie keuse geen kinders nie). Die feministiese beskouing dat ons self besluit en self beskik oor die kindertal in ons huise het geseëvier oor die Bybelse leer dat n groot gesin uit die beskikking en seën van die Here kom. Gevolglik het gesinsbeplanning, gerig op die vermindering van die kindertal, in die gesin algemene praktyk geword. Die veronderstelling dat die mens oor lewe en dood beskik, bied ook regverdiging aan aborsie, die uiterste vorm van geboortebeperking.
Bydraende faktore
Daar is belangrike bydraende faktore tot die sukses van die feministe met hulle vernietiging van die tradisionele Christelike huisgesin soos ons Calvinistiese vadere dit eeuelank in stand gehou het. Die eerste faktor is die lafhartige houding van mans, ja, ook Christenmans, wat nie hulle man wou staan teen die feministiese aanslag teen hulle en teen die tradisionele huisgesin nie. Die verkleinering van die patriarg en die verwyte oor manlike "oorheersing" het mans in hulle dop laat kruip. Die Here het mans geroep om sy waarheid in die wêreld te verdedig en sy voorskrifte uit te leef, maar Christenmans wat die eise van die Woord ken, het ongelukkig ook gekapituleer.
Mans het ook in n groot mate die weg berei vir die feministiese aanslag weens hulle halsstarrigheid om leiding te neem en die verantwoordelikheid wat die Here aan hulle toegeken het, te aanvaar. Die vader is geroep om sy kinders geestelik te lei en te onderrig, maar wie in die huis lees vir die kinders uit die Bybel? Dis vir mans gerieflik as die vrou die leiersrol deel, finansieel help om te voorsien en tot die kerklike ampte toetree.
n Tweede faktor wat die vervrouliking van die huisgesin n groot hupstoot gegee het, is die swygsaamheid van die kerk. In plaas daarvan om die aanslag van feminisme met die swaard van die Woord te beveg, het die kerk teruggeval en baie van die vreemde feministiese idees gesteun en geleer. Predikante was skrikkerig om die waarheid oor die gesin soos geopenbaar in die Woord te verkondig en kerke se versuim om die leuens van die feministe te openbaar, veroordeel en weerlê, het die weg vir die feministe geopen om die gesinstruktuur te verander.
Herstel van die gesin
Die invloed van die feminisme op die gesin is n voldonge feit. Herstel is slegs moontlik as elke gelowige huisgesin onder aanvoering van die vader, volgens sy Bybelse opdrag, die taak aanpak. Om sake weer reg te stel, moet mans alle feministiese invloed in hulle huise uitroei en hulle volgens Bybelse riglyne herstel. Mans moet die volle verantwoordelikheid wat die Here op hulle geplaas het, dra en onbevrees die Here se gesinsorde bevorder. Met die heropbou van die gesin volgens die wet van die Here sal die kerk ook getrou alles wat die Bybel oor die gesin leer, moet verkondig.