|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 4 September 2003
HERVORMING
Die Hervorming het begin op die vooraand van Allersieledag, 31 Oktober 1517. Op dié dag het Martin Luther (1483-1546), hoogleraar in Bybelwetenskap aan die pas gestigte Universiteit van Wittenberg in Duitsland, sy teenkanting teen die aflaatstelsel te kenne gegee. Hy het sy argumente in sy 95 stellinge gestel. Hoewel hulle baie akademies en gematig bewoord was, het die nuus daaroor soos 'n veldbrand deur Europa versprei. Binne veertien dae was alle universiteite en godsdienstige sentrums die ene opgewondenheid. Almal was verstom dat 'n onbekende monnik uit 'n onbekende universiteit die hele Europa so kon omkrap.Die 95 stellinge was egter geensins bedoel as 'n oproep tot hervorming nie. Dit was eenvoudig die voorstelle van 'n ernstige universiteitsprofessor dat die teologie van die aflaatbriewe bespreek word, in die lig van die misbruike wat deur die eeue ontstaan het.
Martin Luther protesteer
Die handel in aflaatbriewe ("die heilige handel", soos dit onbeskaamd genoem is) het tot 'n skandaal ontwikkel. Luther was nie gekant teen aflaatbriewe in hul ware en oorspronklike betekenis nie - as die genadige verlossing van 'n berouvolle sondaar uit 'n boetedoening wat vroeër deur 'n priester opgelê is. Hy was wel teen al die bykomstighede en die buitensporighede wat daarmee saamgehang het, omdat dit skadelik was vir die redding van die mens, en die daaglikse gebruike van die kerk besoedel het.
Die Middeleeuse mens was verskriklik bang vir die tydperk van straf in die vagevuur wat in soveel besonderhede deur die kerk uitgespel is. Hulle was nie eintlik bang vir die hel nie want hulle het geglo dat as hulle gesterf het nadat die priesters hulle vergewe en geseën het, hulle toegang tot die hemel gewaarborg was, omdat die die kerk die sleutel tot die hemelpoorte behou het. Maar hulle het die pyn van die vagevuur gevrees; want die kerk het geleer dat voordat hulle die hemel bereik, hulle gereinig moes word van alle sondes wat hulle in hul lewe gedoen het. Vandat boetedoening 'n sakrament geword het, het die gewone man geglo (net soos Dante geglo het) dat 'n aflaatbrief verseker dat sy straf wat hy ná sy dood in die vagevuur moet verduur, verkort sal word. Daar is geglo dat die reklekwieë van die slotkerk waar Luther sy 95 stellinge op die deur vasgespyker het, vir pelgrims 'n afslag van 1 902 202 jaar en 270 dae sou verseker!
Luther het besef dat die handel in aflaatbriewe heeltemal onskriftuurlik is. Dit het die mense net in hul kwaad gesterk en het daartoe gelei dat hulle hul van Christus en God se vergiffenis weggekeer het. Op hierdie punt het Luther se teologie radikaal van dié van die kerk verskil. Die pous het daarop aanspraak gemaak dat hy oor die mag beskik om "die hekke van die hel te sluit en die poort na die paradys oop te maak". 'n Onbekende monnik het hierdie gesag uitgedaag. Sy tydgenote het dadelik besef dat Luther aan die ontblote senuwee van die kerkhiëragie sowel as die alledaagse praktyk van die Christendom geraak het. Christelike Europa was daarna nooit weer dieselfde nie.
Die Pous het Luther in 1520 geëkskommunikeer, en in 1521 het Keiser Karel V hom by Worms veroordeel. In daardie stadium het Luther reeds twisgesprekke met sy eie Augustynse Orde (in Heidelberg, 1518) en met pouslike amptenare (in Augsburg, 1518 en Leipzig, 1519) gevoer. Sy dramatiese standpuntinname teen die Pous sowel as die Keiser het Europa se verbeelding aangegryp. Sy enigste steun het hy gevind in sy geloof in God.
Oor die volgende 25 jaar het Luther die een boek na die ander gepubliseer. Dié wat vir die gewone Christen geskryf was in kragtige en duidelike Duits. Hy het die Bybel vertaal, en dit het die mense in staat gestel om self die waarheid van sy argumente in te sien. Hy het verslae gepubliseer van elkeen van sy geskille met Rome sodat die mense hulle eie oordeel kon vel. Hy het die gewone Christen, teologies gesproke, 'n staanplek gegee. Sy volgelinge het vinnig toegeneem. Al hierdie publikasies is uitgegee sonder om enige outeursgeld of eie voordeel te eis.
In 1529, by die Ryksdag van Spiers, het Keiser Karel V Luther se beweging met mag in toom probeer hou. Van die vorste van die Duitse staat het egter daarteen geprotesteer, vandaar die naam "Protestante" wat aan die volgelinge van die beweging gegee is. Van dié oomblik af het die beweging, wat nog die hele tyd daarop uit was om die katolisisme van binne af te hervorm, weggebreek en as die "Hervorming" bekend geraak.
James Atkinson. In: Die Geskiedenis van die Christendom
Struik Christelike Boeke. 1988. (bl 350-351)