Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Geloofsverklaringe

AKTUEEL: Die Gesag van Meerdere Vergaderings

SKRIFOORDENKING: Waar staan jy?
Josua 5:13-15

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (Slot)

Vermensliking van die Bybel

Die nuwe Psalmberyming (Vergelykings Psalm 8)

God se plek vir die vrou in die gemeente

Totius oor "Aanbidding en Lofsang" in die Erediens

Emeritering van Prof Christ Coetzee

Die Wêreldorde van Babilon

Dr Abraham Kuyper se pluriformiteitsleer

KERKLIKE JOERNAAL: 
"Kindernagmaal 'n ernstige dwaling"
"Parlement van Wêreldgodsdienste"
Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Strominge in die Opvoedingsteorie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (1)

PERSRUBRIEK: 
Mense is sondig, nie stelsels nie

Die tien gebooie: Die wet van die enigste God
Skrifkritiek: Verklaring van Jesaja 53

KOMMENTAAR: 
(1) "Die 'politieke, kerklike en morele sonde' van apartheid"
(2)Die saak van "Menseregte" in Demokratiese Perspektief
(3)"Kloning: Konflik tussen wat kan en wat mag"

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (8)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Kloning in die Perspektief van Geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 5  September  1999

AKTUEEL

DIE GESAG VAN MEERDERE VERGADERINGS

Die kwessie van die binding aan kerklike besluitneming, onderhewig aan die al dan nie ratifisering daarvan, is in diskussie na aanleiding van 'n brief van dr Jan Visser wat aanvoer dat die sogenaamde "ratifikasiereg" geen plek in die Gereformeerde kerkregering het nie. "Indien daar 'n oortuiging is dat 'n sekere besluit van 'n kerklike vergadering strydig is met Skrif en Kerkorde, moet dit volgens art 31 KO "bewys" word, en nie slegs subjektief "aangetoon" word nie. Hierdie bewyslewering kan in die praktyk op twee maniere gedoen word: òf by wyse van 'n beswaarskrif by dié vergadering wat die besluit geneem het, òf by wyse van 'n appèl by 'n meerdere vergadering. Slegs een van hierdie kerklike vergaderings het die bevoegdheid om te verklaar dat 'n bepaalde besluit in stryd is met Skrif en Kerkorde, en daarom geen regskrag meer het nie", aldus dr Visser. Ds Hennie Momberg antwoord hierop (onbetrokke m.b.t. die onderhawige saak) as volg:

Ek meen dat dit ons roeping is om op ‘n verantwoordelike manier die saak van ratifikasie voortaan deeglik te beredeneer. Die styl waarin dit teties gedoen behoort te word is hierin van kardinale belang, juis omdat die kerkreg van die GKSA blykbaar hoegenaamd nie die ratifikasiestandpunt ondersteun nie. Ek meen dat enkele pennestrepe hieronder voorlopig ons gedagtes aan die gang kan sit. As u wil kan u daarvan gebruik maak in u antwoord aan dr Visser.

  1. Volgens artikel 31 KO erken Gereformeerdes dat kerklike besluite gesag het. Verskillende verklaarders van hierdie artikel laat weet dat kerklike besluite op ‘n unieke manier regsgeldige gesag het: - omdat kerke wat met afgevaardigdes daar verteenwoordig is vooruit reeds per kredensiebrief verklaar dat hulle die besluite gesamentlik neem saam met die ander kerke asof hulleself daar teenwoordig is. Dit is dus gesag wat op gesamentlike afspraak berus volgens die parameters van art 31 KO; - omdat dit die veronderstelling is dat die besluite van kerklike vergaderings in ooreenstemming met die Skrif en belydenis geneem word. Dit is dus gesag wat veronderstel dat dit op die Skrif berus.
  2. Op bogenoemde manier wys die Gereformeerde kerkreg op ‘n grondige manier al die ander onwettige misbruike van gesag af, wat in die ander bekende kerkregeringstelsels (Rooms, kollegialisties, territoriaal, Luthers, independentisties, Kongregasionalisties, Presbiterialisties) gepleeg word en wat die eienskappe van die valse kerk in die hand werk. Ons weet ook dat meerdere kerklike vergaderings as sulks geen uitvoerende gesag het nie, slegs besluitnemende gesag. In alle sake, selfs in tugsake, het die meerdere vergaderings slegs besluitnemende gesag. Die plaaslike kerkraad is die enigste vergadering wat oor die uitvoerende gesag en verantwoordelikhede beskik. Die punt is dat daar bepaalde gesag ter sprake is in die besluite van meerdere vergaderings, soos wat ook art 36KO dit tot uitdrukking bring met die term "dieselfde seggenskap".
  3. Terwyl die konsep van gesag ter sprake is, by art 31 KO, volg dan die belangrike beginsels wat by alle gesagsuitoefening en die onderwerping daaraan ter sprake is. Die beginsels word baie helder na aanleiding van die 5e gebod verduidelik in die HK Sondag 39, NGB art 32, 36, in die huweliksformulier, in die bevestigingsformulier vir ampsdraers en in die doopsformulier. Dit is besonder opmerklik hoedat in al bogenoemde verwysings met pertinente kwalifikasies en beperkings geleer word aangaande die wyse waarop aan gesagsuitoefening gevolg gegee mag word, naamlik vir sover dit nie in stryd met die Woord van God is nie.
  4. Die wyse waarop die gesag van besluite van kerklike vergaderings geld, word ook gekwalifiseer en beperk met die uitdrukking: "tensy bewys word dat dit in stryd is...." In 1944 het die (sinodaal) Gereformeerde Kerken in Nederland die "tensy bewys word" so verklaar dat dit beteken "totdat bewys erken word." En daarmee het hulle sinodokrasie - en per implikasie die pous - weer in die Gereformeerde godsdiens soos die Trojaanse perd ingebring.
  5. Die vraag is: hoe moet mededeelnemers handel met besluite wat gesamentlik vir uitvoering geneem is? Die antwoord is: Dat hulle die besluite moet ontvang in die veronderstelling van die gesag waarmee bedoel was om dit te neem, met die voorneme om dit in onderdanigheid aan die Hoogste gesag tot uitvoer te bring. Daarom is dit (soos met alle persone wat onder gesag staan) die verantwoordelikheid van die uitvoerders om die besluite self in hulle persoonlike verantwoordelikheid en gewete voor God aan sy Woord te toets. Die vrou moet dit doen wanneer van haar verwag word om aan haar man se wil uitvoer te gee. ‘n Kind moet dit doen wanneer van hom verwag word om aan sy ouer se opdrag uitvoering te gee. ‘n Burger moet dit doen wanneer van hom verwag word om aan die owerheid se wet uitvoering te gee. Wanneer die stem van die goeie Herder in die opdrag/besluit gehoor word, moet daaraan uitvoer gegee word. Maar wanneer dit nie ooreenstem met die stem van die goeie Herder nie, mag daaraan nie uitvoer gegee word nie, en mag die besluit nie as vas en bindend beskou word nie.
  6. Die vraag is: aan wie moet die bewys gelewer word wanneer besluite in stryd met Goddelike gesag geneem is? En die antwoord is dat dit onmiddellik, sodra die teenstrydigheid ontdek word, aan almal wat die besluit geneem het, bekend gemaak moet word. Die bewyslewering is nie van die erkenning daarvan afhanklik nie, alhoewel die betrokke kerklike vergadering dan wel moet besluit wat hy met die bewyslewering en ook wat hy met die bewysvoerder/s gaan maak/besluit, soos enige gesagsinstansie maak.
  7. Die vraag is: van wanneer af het ‘n ongeldige besluit nie meer regsgeldigheid nie, en hoef dit nie vir vas en bindend gehou te word nie? Die antwoord is: van die oomblik af dat dit oorspronklik besluit is.
  8. Die vraag is: van wanneer af hoef ‘n ongeldige besluit ook nie meer uitgevoer te word nie? En die antwoord is: metterdaad. (Hand 4: 15 - 20).
  9. Die vraag is: wat is die verskil tussen hierdie optrede en independentisme? Die verskil met independentisme is, dat op dié wyse(s) stilswyend, afspraakverbrekend, en dus op oneerlike en leuenagtige wyse eie dinge gedoen word, sonder dat mede-besluitnemers daarvan in kennis gestel word nie, maar erger, onder die suspisie dat tog wel onder die besluite wat nie erken word nie, gebuig word. Die ratifikasieplig en die gevolge daarvan is ‘n daad van nederige gehoorsaamheid in persoonlike verantwoordelikheid aan die Hoogste gesag wat bo-oor alle besluite gesag voer.