Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 5 September 1999
DR ABRAHAM KUYPER SE PLURIFORMITEITSLEER
Eenheid in die Verskeidenheid
Met die behandeling van die gedeelte uit dr AP Treurnicht se (nie gepubliseerde) akademiese proefskrif oor "Die Verhouding van die Kerk tot die Staat by dr Abraham Kuyper ...", in die vorige uitgawe van ons blad (bl 13), het ons ons op dun ys gewaag met die beskrywing van Kuyper se pluriformiteitsleer. Dit verskaf die motief en geleentheid vir 'n kritiese kommentaar en sinvolle bespreking van 'n saak wat enersyds betwis en andersyds as 'n "gangbare mening" in Gereformeerde kerke geleer en toegepas word. |
Dr AP Treurnicht vertolk Kuyper se sienings anders as Schilder s'n, in die konteks van die Nederlandse kerklike omstandighede en teologiese geskille wat dáár toe geheers het. "In het algemeen ligt achter de debatten en de gehele sfeer van verdachtmaking de vraag naar de gangbare mening. Op de Sinode van 1936 is verondersteld, dat over alle toen behandelde 6 punten een gangbare mening zou zijn, dus ook wat betreft de kerk. En omdat heel het kerkdebat ontstaan is in verband met de pluriformiteitsleer, zou er dus ook een gangbare mening bestaan inzake de pluriformiteit der kerk", aldus K Schilder (1942:3).
Die saak van die gangbare menings en die behandeling daarvan in die meerdere vergaderings van Gereformeerde Kerken in Nederland (GKN) het aan Treurnicht verbygegaan omdat hy nie in Nederland gestudeer en kennis gedra het nie van die stryd rondom prof Schilder en ander se skorsing en afsetting, wat gelei het tot die "vrymaking", die ontstaan van die (vrygemaakte) Gereformeerde Kerken in Nederland (onderhoudende artikel 31 KO). Dr Treurnicht gaan in sy beskrywing van Kuyper verby aan talle sake wat in dié tyd in die GKN 'n twispunt was. Soos wat hy dit in die verwerking van sy verhandeling (DIE KERKPAD, Julie 1999, bl 13) stel, sluit dit aan by wat prof Greydanus in "Friesch Kerkblad" geponeer het: "Wil men de pluriformiteit, dat is best, maar dan binnen de ware kerk".
Kuyper is dalk nie in alle gevalle suiwer vertolk nie want hy het hom in sy "Tractaat van de Reformatie der Kerken" (1884) as volg uitgelaat oor die eenheid en verskeidenheid van die kerk: "Met het onderscheid van volk en volk, van land en land, van gewest en gewest, ja van dorp en dorp heeft de gelovige dus wel terdege te rekenen. ... De ordinantie van Gods voorzienig bestek en bestel deelt de kerk in plaatselijke en gewestelijke en nationale kerken, maar ook de eenheid van het lichaam Christi houdt deze onderscheidene deelen in organisch verband saam (bl 33). ...En evenzoo moet ontkend, dat naar den eisch van het beginsel meerdere kerkformatiën naast elkander op hetzelfde terrein mogen aanwezig zijn. Een Luthersche of (af)geskeidene Gereformeerde kerk in één zelfde stad, haar leden in dezelfde straten tellende, is niet gelijk het behoort, ook al moet het om 't gebrekkige van den toestand, soms tijdelijk geduld. Slechts wat in Belydenis der waarheid prinsipiëel uiteenloopt mag zich afzonderlijk formeren; wat daarentegen één in belijdenis is, hoort saam" (bl 37).
Dr Treurnicht oordeel nie oor wat in Nederland ten aansien van hierdie saak gedien het nie. Hy versamel en verwerk die gegewens wat hy in Kuyper se werke aangetref het, objektief sonder om in die kerklike debat oor gangbare menings betrokke te wees, en andersyds subjektief omdat hy dit doen in die konteks van die besondere omstandighede van die Suid-Afrikaanse samelewing en die stryd van die Afrikanervolk vir sy voortbestaan op die kontinentale bodem van (swart) Afrika.
Die bespreking van albei kante van dié saak, die Nederlandse in die perspektief van leergeskille oor gangbare menings en die Afrikaanse in die konteks van die nasionale bestaan en die stryd vir die behoud van die Gereformeerde geloof en lewensbeskouing, skep die geleentheid om dit krities te oorweeg met die oog op die gesag wat daaraan verleen is en (mag?) word.
Dr Treurnicht verwys, subjektief, na die tweërlei oorwegings in Kuyper se denke, na "die meervoudigheidsbeginsel in verband met kerklike pluriformiteit". Allereers die Skeppingsmotief en sekondêr sy motivering uit historiese gesigspunt. Daarby is dit opvallend dat Treurnicht geen skriftuurlike bewyslewering of leerstellige verwysing na die inhoud van die belydenisskrifte aanvoer nie. Daaruit blyk dus duidelik dat die "pluriformiteitsleer" meer op filosofiese beskouing en spekulasie as op geformuleerde en algemeen aanvaarde geloofsoortuiging berus. Ewenwel hoef dit nie as waardeloos vir die geloof oor die samestelling en funksionering van die heilige, algemene, Christelike kerk, "wat nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot 'n sekere plek of sekere persone is nie, maar wat oor die hele wêreld versprei en verstrooi is" (NGB, art 27), beskou en afgewys te word nie.
Kuyper se teorie is wél bybels gemotiveerd dat "God as Skepper die mensewêreld in veelvormigheid geskape het, 'n veelvormigheid wat nie deur die herskepping opgehef (Afr: beëindig; afgeskaf) word nie, maar in suiwerheid herstel word."
Kuyper is ook skriftuurlik-behoudend en aanvaarbaar soos Treurnicht daarop wys, "dat die veelvormigheid waarin die Christelike kerk in die geskiedenis ontplooi het, aan die godgegewe natuur van dinge sou korrespondeer, mits die ekumeniese inslag by wyse van wêreldkonsilies openbaar kon word. Ook die wese van belydenis, erediens en regering sou één moes bly, met ruimte vir eie openbaringsvorms in elke land en onder elke volk, volgens die ontwikkeling van die eie aard van die volk. ... Op grond van ons menslike beperktheid moet daar dus verskille ontstaan, al sou by normale ontwikkeling die ekumeniese besef bewaar bly. Die teenstrydighede in belydenis kom egter deur eensydige toespitsing op die verskille, en vloei voort uit die sonde in denke en handel, en nie uit die natuurlike verskille as sodanig nie."
Daarteenoor staan Schilder se argument: "Indien de onderscheiden volksaard de pluraliteit van kerkinstituten wettigt, dan is het hek van den dam; want dán mogen óók andere onderscheidingen in de levenskringen met precies hetzelfde "recht" verlangen, oorzaak van pluraliteit van kerkinstituten te zijn. Waarom zou men wél een Duitse kerk tegenover een Nederlandse mogen hebben, op grond van het feit, dat de volksaard hier en ginds telkens een andere is, en waarom zou men dan niet een negerkerk verlangen tegenover een kerk van blanken? Een kerk van intellectuelen tegenover een kerk van niet-intellectuelen? ... De onderskeiding naar den volksaard is er maar éne onder zovele!" (K Schilder, 1960:433)
Dit is hier waar prof Schilder die kulturele verskeidenheid wat ontstaan het en gelei is, onder andere ook deur die Goddelike beskikking met die spraakverwarring (
Gen 11: 1-9), onderskat. Daar is onaanvaarbare en - laat dit so wees - ook aanvaarbare plurale verdelingslyne wat (in die kerklike samelewing) in rekening gebring moet word. 'n Professor, 'n boer en 'n messelaar wat gemeenskaplik Gereformeerd is, kan in een gemeenskap saam verkeer en die Here dien. Dit hang tog nie van intellek of klasseverskille af nie? Maar dit staan heeltemal anders wanneer dit die taal- en kultuurverskeidenheid raak. Dan verstaan en begryp mense mekaar nie. Dan speel die historiese, omgewings- en omstandigheidsfaktore 'n rol sodat sinvolle en ware eenheid op grondvlak nie ervaar word nie. Die geforseerde eenheid sou iets dwangmatigs word. In die uiterste geval lei dit dán, soos dr Treurnicht dit stel, dat die kerk 'n "gedwonge samekoppeling van ongelyksoortiges word. ... Dit is fataal vir die eenheid in Christus."JW Beerekamp (1952:103) motiveer dat dit beter is om "zusterlijk naast elkaar te leven dan gespannen met elkaar ... Zulk een gescheidenheid, hoezeer ook een uiting van een tekort aan aanpassingsvermogen, wil men van christelijke verdraagzaamheid, is toch nog beter dan dat een groep gedwongen wordt zich volledig te schikken naar de stijl en levenssfeer van de andere groep, of dat het voortbestaan van de spanning een voortdurende bedreiging vormt van de blijdschap van het christen-zijn."
Daarop reageer Schilder met die argument: "... als men zulk een doorvoering van de onderskeiden in de levenskrin-gen in de kerk niet aandurft, vanwege de al te wonderbaarlijke gevolgen, die men op deze wijze zelf te voorschijn roept, laat men dán eenvoudig vasthouden aan de gedachte, dat de 'pluriformiteit' van het leven niet ontaarden mag in 'pluriformiteit' van levenskringen, welke zich van elkander losmaken en tegenover elkaar gaan staan" (1960:433) en elders, dat dié pluriformiteit beslis nie 'n veelsydigheid van die Goddelike waarheid behels waarvan elke kerkformasie op homself 'n eiesoortige deel verteenwoordig nie. "De pluriformiteit, opgevat in den normalen zin van het woord (...) heeft dus wél ten gevolge, dat er bijvoorbeeld classicale vergaderingen kunnen zijn op IJsland en in Holland, op Java en in Japan, maar is NIET een juiste of ongeoorloofde kwalifikatie van het feit, dat op de éne plaats men 'ja' zegt, en op de andere 'neen' tot een bepaalde leer van dogmatischen of ook kerkrechtelijken aard", aldus prof K Schilder (1965:285). In sy "Wat is de Hemel"
1954 (Tweede Druk) bl 162, stel hy, "onder 't voorbehoud" na wat hy vooraf daaroor geskryf het: "Daarom zal dat Lam dan ook de eenheid in de verscheidenheid, de 'uniformiteit' in de 'pluriformiteit' garanderen, ginds in de eeuwige bruiloft."
Die studie wat dr Treurnicht ten aansien hiervan onderneem het, verskaf 'n teoretiese en praktiese perspektief op kerklike verdelingslyne wat sowel die Goddelike skeppingswerk, die veelsydigheid daarvan, die gebrokenheid van die lewe as gevolg van die sonde, asook die verlossingswerk van Christus in rekening bring. Die pluriformiteit van die kerk wat dr Treurnicht van Abraham Kuyper beskryf, bedoel nie die sondige verskeurdheid van die kerk en die verskynsels van talle sektes en ongeoorloofde afskeidings te verklaar en te vergoelik nie. Maar juis omdat dié "pluriformiteitsleer" op 'n bepaalde wyse 'n aanpassing aan die feitlike omstandighede betref, skep dit wel 'n gevaar vir die geloof aan die eenheid van die ene heilige algemene Christelike kerk, wat in ag geneem moet word. Dus moet dit met die noodsaaklike onderskeiding van waar en vals (volgens NGB, art 29) aanvaar en beleef word. Beslis ook in die komplekse omstandighede en die konstatering van die verskeidenheid van die (Gereformeerde) kerklike bestaansvorme in ons land. ®
" Die Kerk openbaar hom op 'n bepaalde manier ... Eerstens is daar die kerklike instituut met 'n bepaalde belydenisgrondslag, handelinge en kerkregering, met bediening van die Woord en die sakramente en met eie ampte en bestuur. En in die feit dat verskillende kerke hulle verskillend verantwoord ten opsigte van Gods geopenbaarde waarheid, en ook die regering van die kerke verskillend inrig, lê die verklaring van die pluriformiteit van die kerk. Dis goed om dit hier reeds in gedagte te hou, omdat al te onnadenkend gepraat word van Die Kerk, sonder om die implikasies te bereken van die feit dat die Christelike kerk hom nie net in 'n enkele instituut openbaar nie en oor teologiese, maatskaplike en staatkundige aangeleenthede nie uit een mond spreek nie. Daarom is dit 'n oorvereenvoudiging om te sê: die kerk moet aan die staat leiding gee.Deels is dit te wyte aan die gebroke werklikheid waarin ons lewe as gevolg van die sonde., en is die verskeurdheid van die kerk iets wat met smart bely moet word. Andersyds moet egter nie uit die oog verloor word nie dat uit die verskeurdheid van die kerk juis ook die protes van 'n deel daarvan teen die dwaling en ontaarding van 'n ander deel daarvan spreek. So gesien mag ons dus ook nie die pluriformiteit van die kerk sonder meer as sonde bestempel nie, terwyl dit juis gedeeltelik as protes teen die sonde en dwaling ontstaan het. Voorts is dit ook duidelik dat die kerk wat as 'n instelling onder mense gestalte kry, noodwendig die bedding sal volg van die natuurlike veelvormigheid waarin die volkerelewe en maatskaplike lewe uiteenval. Dié veelvormigheid het deur die sonde 'n kwaad-aardige inslag gekry en tot vyandskap gelei, maar die werking van die kerk is 'n korrektief op die kwaadaardige byprodukte van die veelvormigheid, nie op die veelvormigheid self nie. Onder ideale omstandighede sou ons dus nog met verskille in bestaanswyses en karakter van die kerk onder verskillende volke en in verskillende tye te doen hê." Dr AP Treurnicht in: GRENSE TUSSEN KERK EN STAAT Stellenbosch: Universiteits-uitgewers. 1961, bl 39 |