Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Geloofsverklaringe

AKTUEEL: Die Gesag van Meerdere Vergaderings

SKRIFOORDENKING: Waar staan jy?
Josua 5:13-15

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (Slot)

Vermensliking van die Bybel

Die nuwe Psalmberyming (Vergelykings Psalm 8)

God se plek vir die vrou in die gemeente

Totius oor "Aanbidding en Lofsang" in die Erediens

Emeritering van Prof Christ Coetzee

Die Wêreldorde van Babilon

Dr Abraham Kuyper se pluriformiteitsleer

KERKLIKE JOERNAAL: 
"Kindernagmaal 'n ernstige dwaling"
"Parlement van Wêreldgodsdienste"
Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Strominge in die Opvoedingsteorie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (1)

PERSRUBRIEK: 
Mense is sondig, nie stelsels nie

Die tien gebooie: Die wet van die enigste God
Skrifkritiek: Verklaring van Jesaja 53

KOMMENTAAR: 
(1) "Die 'politieke, kerklike en morele sonde' van apartheid"
(2)Die saak van "Menseregte" in Demokratiese Perspektief
(3)"Kloning: Konflik tussen wat kan en wat mag"

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (8)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Kloning in die Perspektief van Geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 5  September  1999

Hoofartikel

GELOOFSVERKLARINGE

Behels die "Geloofsverklaring 2000" wat later vanjaar binne NG Kerkverband gefinaliseer sal word, die vervanging van die belydenisskrifte van die sestiende en sewentiende eeuse Reformasie: die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls? Vanwaar 'n behoefte vir die publikasie van 'n "eietydse geloofsverklaring" in plaas van die handhawing en binding aan die genoemde belydenisskrifte? DIE KERKBODE van 2 Julie 1999 bevat die konsep-verklaring waaraan nog geskaaf kan word "voordat dit as Geloofsverklaring 2000 presies genoeg sal sê wat ons aan die begin van die nuwe millennium glo", aldus die redaksionele rubriek.

Is die NG Kerk op pad om te breek met die Gereformeerde geloof soos dit in die Drie Formuliere van Eenheid bely word? Dit is opmerklik dat in die twintig afsonderlike konsep-geloofsverklarings wat bekendgestel is, geen Skrifbewyse of verwysings na die belydenisskrifte gevind word nie. Dit is bloot beredenerings van wat "Ons glo" en "Ons glo nié". Om naas die Gereformeerde belydenisskrifte geloofsverklarings sonder kruisverwysings te aanvaar, skep die gevaar vir relativering van onbetwyfelbare waarhede van die Christelike geloof en die konfessionele binding daaraan. Die genoemde belydenisskrifte is die leerstellige verantwoording van die Heilige Skrif, soos dit in die loop van die geskiedenis noodsaaklik geword het om dit uiteen te sit en te bely. Dit bevat sowel die positiewe aspekte van wat ons op grond van die Skrif glo en bely asook die negatiewe, die verwerping van dwalings. Die kenmerkende eienskap van die Gereformeerde belydenisskrifte, die Drie Formuliere van Eenheid, is dat dit dwarsdeur kruisverwys na die skriftuurlike bewys. Die grond van die Christelike geloof vertolk, aan die hand van dié belydenisskrifte, nie die menslike denke en rasionele geloofsoortuigings nie, maar die openbaring van God se onfeilbare Woord.

Indien die "Verklaring 2000" verskyn in die vorm van die konsep wat nou bekendgestel is, gaan dit mank aan die eksegetiese en leerstellige verwysing na die Bybel en die belydenisskrifte. Dit is soos 'n preek wat sonder die vertrekpunt van die Heilige Skrif en 'n behoorlike eksegese nie gesaghebbend is nie. Die basis van die Christelike geloof is die Goddelike spreke in die Bybel wat in die belydenisskrifte geformuleer en deur die Gereformeerde kerke as onderling bindend aanvaar is. 'n Geloofsverklaring sonder skriftuurlike bewysgronde klink op die gehoor pragtig maar is in die praktyk 'n bron van geestelike infeksie en kettery. Dit was die geval met allereers die Wederdopers en later die Remonstrante in die sestiende en sewentiende eeu in Nederland. Die geloof is volgens die menslike gevoel, ervaring of rasionaliteit verklaar sonder deeglike skriftuurlike begronding. Dit het ten slotte gelei tot ernstige geloofsverskille wat slegs deur die formulering van die belydenisskrifte en die binding daaraan beteuel is. Dit is soos die Gereformeerde kerke sy beslag gekry het deur vas te staan by die waarheid van die Skrif teenoor die menslike redenasies en willekeur oor die geloof.

Dit is opmerklik dat die onderskeidende kenmerk van die Gereformeerde geloof nie beredeneer word nie, naamlik die leer van die Goddelike verkiesing en verwerping soos dit veral in die Dordtse Leerreëls bely word teenoor die dwalings "waardeur die Nederlandse kerke 'n tyd lank in beroering gebring is". Beteken dit dat die remonstrantisme nou weer by die voordeur van die Kerk ingelaat word, waar dit in die jare 1618 - 1619 veroordeel en die deur uitgewys is? Die vermaan in die besluit van die Dordtse Leerreëls (HW Simpson) is besonder van toepassing:

"Verder vermaan hierdie agbare sinode al die kerklike vergaderings om met die grootste versigtigheid toesig te hou oor al die kuddes wat aan hulle toevertrou is om betyds teen al die nuwighede wat in die kerk te voorskyn kan kom, op te tree en dit soos onkruid uit die land van die Here uit te roei. Hulle moet op skole en onderwysers let om te voorkom dat vir die kerk en staat later opnuut verderf geskep sou word vanweë persoonlike opvattings en verwronge gedagtes wat by die jeug ingeplant word."

Die konsep-verklaring vertoon 'n rasionalistiese tendens om oor die Bybel, oor God, oor die Vader, oor die Seun, oor die Heilige Gees te diskusseer alvorens te glo. Dit begin daarmee om die gesag van die Bybel nie op die Goddelike inspirasie te fundeer nie. Dit verskaf die ruimte om die Here se Woord dialekties en Skrifkrities te vertolk en op dié wyse die geloofsekerheid te betwyfel. God en sy Woord staan onderhewig aan die menslike diskussie. Dit lei 'n mens tot die betwyfeling van die geloof.

Die volgende veertien verklarings handel oor die geloof oor die mens, oor die mens, medemens en omgewing, oor lewe, oor dood, oor die kerk na binne en oor die kerk na buite, oor die doop en nagmaal, oor kerk en owerheid, oor armoede, rykdom en arbeid, oor die huwelik, oor vrede, oor die Christendom en ander godsdienste, oor die koninkryk van God en, as afsluiting, oor die toekoms. Hoewel dit beslis ook goeie standpunte verteenwoordig, is dit in sy geheel, vanweë die gebrek aan skriftuurlike kruisverwysing, moralisties gemotiveerd. Dit is net soos dit in die Rooms-Katolieke kerk die geval is om deur middel van die pouslike ensiklieke, aan die lekelidmate van die kerk gesaghebbende leiding te verskaf: die woord van die pous staan op 'n gelyke vlak as die Woord van God.

Met die oog op die omstandighede van toenemende betwyfeling van die Christelike geloof in vandag se tyd, is daarteenoor 'n forum gestig vir die hou van 'n simposium om die gesag van die Heilige Skrif te beklemtoon. Dié forum staan op die grondslag: "Die Bybel is God se onfeilbare Woord". Teenoor die "Geloofsverklaring 2000" staan sy "Geloofsverklaring oor die gesag van God se Woord en handhawing van die Gereformeerde belydenisskrifte". Dit is 'n bevestiging van die Gereformeerde geloof soos dit vanaf die vroegste jare ná die apostoliese tyd bely is. Dit lui as volg:

"As Christen-gelowiges bely ons opnuut ons geloof in God Drieënig, Vader, Seun en Heilige Gees, wat Homself in sy Heilige Woord, wat deur die Heilige Gees geïnspireer is, as die Enige en Almagtige God van hemel en aarde geopenbaar het.

Ons aanvaar die Bybel as die gesaghebbende en onfeilbare Woord van God vir ons persoonlike bestaan, asook met betrekking tot alle terreine van die lewe.

Ons glo dat daar geen ding toevallig geskied nie, maar dat God Drieënig deur sy Woord en Gees die wêreld geskep het en deur sy voorsienigheid in stand hou, daaroor regeer en alles beheer tot die jongste dag, waarop die ewige Seun van God weer sal kom om hierdie tydelike (aardse) bedeling volgens God se wil te beëindig. Daar is wel baie dinge wat teen God se geopenbaarde wil gebeur, nogtans geskied niks sonder sy verborge wil en toelating nie.

Ons bely ons Christelike geloof soos dit in die gereformeerde belydenisskrifte, die drie Algemene Belydenisskrifte (die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Belydenis van Nicea, die Geloofsbelydenis van Athanasius) en die Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus, Dordtse Leerreëls) geformuleer is en ons verbind ons opnuut om die volle inhoud hiervan te aanvaar as die suiwer leerstellige samevatting, verklaring en toepassing van God se Woord.

Ons verwerp die aanslae wat geloods word om die gesag van die Skrif te ondermyn deur die waarheid en die gesag van die Bybel te betwyfel en te relativeer asook om dit gelyk te stel aan ander religieuse geskrifte van wêreldgodsdienste, wat ontstaan het uit die sogenaamde "ewolusionêre ontwikkeling" van die menslike denke. ®