Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 5 September 1999
KERKLIKE JOERNAAL"KINDERNAGMAAL 'N ERNSTIGE DWALING"
Onder die bogenoemde opskrif vermeld Neels Jackson in BEELD, 13 Augustus 1999, dat " 'n groep NG predikante en lidmate wat gekant is teen die toelating van kinders tot die Nagmaal 'n ernstige beroep op lidmate, kerke en gemeentes gedoen het om eers deeglik te besin voordat hulle mense wat nog nie belydenis afgelê het nie tot die Nagmaal toelaat. ... Navrae by die onderskeie streeksinodes wat binnekort vergader, het gister aan die lig gebring dat die meeste van hulle geen beswaarskrifte of beskrywingspunte teen die kindernagmaal ontvang het nie. Die meeste beskrywingspunte wat wel ontvang is, vra vir verdere gesprek oor die saak of vir duideliker riglyne oor die toe-passing van die kindernagmaal", aldus die berig in BEELD.Dr Sampie van Vuuren verteenwoordig die "Gespreksgroep vir die handhawing van die Gereformeerde Nagmaalbeskouing in die Nederduitse Gereformeerde Kerk". Saam met hom word die name genoem van di H Hefer en T Danzfuss, dr JAE Adendorf en oudl NJ Mosterd. Hulle vyf is die Komitee van dié Gespreksgroep.
Die volgende persverklaring is uitgereik insake die toelating van nie-belydendes tot die Nagmaaltafel:
"Die Gespreksgroep vir die handhawing van die Gereformeerde Nagmaalbeskouing in die Nederduitse Gereformeerde kerk verklaar hiermee openlik dat ons ernstige probleme het met die besluit van die Algemene Sinode van 1998 om kinders wat nog nie openbare belydenis van geloof afgelê het nie, toe te laat om volle deel te hê aan die Tafel van die Here.
"Ons belangrikste gewetensbesware kan baie kortliks opgesom word soos volg:
EERSTENS is die besluit na ons oortuiging in stryd met die Heilige Skrif, asook met die Gereformeerde belydenisskrifte, wat die samevatting is van wat die Skrif leer;
TWEEDENS bring die besluit die heiligheid van die sakramente in gedrang;
DERDENS gaan dit nie in hierdie besluit om 'n b;oot praktiese aangeleentheid wat deur elke kerkraad gereël kan word nie, maar oor 'n saak wat die hart van die evangelie aantas.
"In die lig van die erns van die saak, roep ons lidmate, kerkrade en gemeentes op om eers deeglik te besin voor hulle besluit om persone wat nog nie openbare geloofsbelydenis afgelê het nie, toe te laat tot die Tafel van die Here."
Volgens Neels Jackson het dr Van Vuuren vir hom gesê, dat hulle nog probeer om hulle steun te bepaal en dat hulle agtergekom het dat daar "wydverspreide" ongelukkigheid oor dié saak is. Die groep wil nie "skeibreek of skeur" nie, maar wil die algemene sinode oortuig dat hy 'n ernstige dwaling begaan het met sy besluit, Voorts wil hulle die kerk help om die sakramente weer met nuwe erns en eerbied te benader.