Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 5 September 1999
KINDERKOMMUNIE:DS T DANZFUSS - (NGK) WITFIELD
Slotaflewering
(Vierde
Aflewering)
(Derde Aflewering)
(Tweede Aflewering)
(Eerste Aflewering)
1. Die volledige besluit.
1.1 "Die Algemene Sinode besluit dat:
gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo
aan die vereistes van 1 Kor 11 voldoen, en
die begeerte het om nagmaal te gebruik, tot die nagmaal toegelaat mag word.
1.2. Die Algemene Sinode besluit, dat ter wille van die goeie orde en eenheid van die kerk, die toelating van kinders tot die nagmaal op die volgende wyse geskied:
1.2.1 Kerkrade besluit wanneer die gemeente daarvoor gereed is.
1.2.2 Dit is die verantwoordelikheid van elke kerkraad om spesifieke reëlings te tref oor die wyse waarop die toelating plaasvind.
1.3. Die Algemene Sinode besluit om kerkrade te versoek om die gemeentes te begelei en toe te rus, en so tot gereedheid te voer vir toelating van kinders tot die gebruik van nagmaal as n gesinsmaal. Hierdie leiding moet op n pastorale wyse met groot liefde en toewyding gedoen word.
1.4. Ouers het die verantwoordelikheid om hulle kinders voortdurend te begelei en te onderrig in die volle rykdom van die betekenis van die nagmaal, net soos kerkrade die plig het om volwassenes te begelei.
1.5. Die Algemene Sinode beklemtoon dat ouers hulle kinders moet begelei met die oog op die kinders se deelname aan die nagmaal en om die besondere geleentheid te benut om saam met hulle kinders die nagmaal te gebruik.
1.6. Die Algemene Sinode versoek kerkrade om deurlopend aandag te gee aan die toerusting en begeleiding van ouers sodat hulle hulle kinders kan begelei in die deelname aan die nagmaal.
2. Kommentaar:
2.1 Die konteks van hierdie besluit is belangrik.
Ds. A.M. Lindeboom het n uitstekende boek geskrywe oor die totale verval van die Gereformeerde Kerken in Nederland. Die boek (van 500 bladsye) se naam is: "De theologen gingen voorop" met die subtitel "Eenvoudig verhaal van de ontmanteling van de Gereformeerde Kerken." In hierdie boek maak hy die volgende baie insiggewende stelling: "Als eerste symptoom van deze achteruitgang zou ik dan willen wijzen op de toelating van kinderen tot de maaltijd des Heeren.".1 Die kindernagmaal in Nederland was dus nie n geïsoleerde saak nie, maar deel van n proses van algehele kerklike verval. Die NG Kerk bevind hom op dieselfde noodlottige pad. Iemand het onlangs die NG Kerk vergelyk met die groot skip die "Titanic" wat reeds die groot ysberg getref het, en nou vinnig besig is om te sink. Hoe dieper die skip sink, hoe meer moet die musikante speel om die passasiers rustig te hou, sodat hulle nie kan sien wat besig is om te gebeur en paniekerig te word nie Wat die nagmaal aanbetref het die skip reeds diep gesink. Die NG Kerk is lankal verby die stryd van die beker of kelkies en van die tafel of banke. Die proses van kerkverval het so ver gevorder dat die skip ná elke sinode nog 'n bietjie dieper sink.
Eers is daar, in stryd met die ou Gereformeerde tradisies, gekies vir n oop nagmaalstafel in plaas van n geslote nagmaal. Die volgende stap was toe daar gevolglik besluit is dat die teken nie net wyn hoef te wees nie, maar dat druiwesap en wyn gesamentlik bedien kan word, volgens elke lidmaat se persoonlike keuse. Dus is daar twee verskillende tekens in een nagmaalsdiens.
In 1998 het die skip nog dieper gesink toe daar besluit is op kindernagmaal. Nou is deeglike kategese en openbare geloofsbelydenis, wat vir eeue lank die enigste toegangsweg tot die nagmaalstafel was, ook weggeneem. As daar nog hier en daar moontlik nog n waaksame lidmaat is wat wakker skrik en met n skok besef dat die skip besig is om te sink, dan word hy vinnig aan die slaap gesus deur die bedrieglike musiek van die kerklike musikante wat roep vrede, vrede, terwyl daar geen vrede is nie.
Terwyl ons nog besig is om hierdie skok te probeer verwerk onder die bedrieglike rustige musiek van die kerklike musikante, is die volgende voorstel alreeds op die agenda van die sinode. Die nuutste voorstel is dat die nagmaal nou ook in kleingroepies, selgroepe, omgeegroepe en Bybelstudiegroepies bedien moet word. Dit word selfs voorgehou as die ideaal.2
2.2 Die besluit van die sinode was baie duidelik n kompromie.
Daar was n aansienlike aantal sinodegangers wat selfs gepleit het dat die nagmaal aan alle gedoopte kinders bedien moet word. Dus ook suigelingsnagmaal, soos die Oosterse kerke! Vir hulle is die sinode se huidige besluit net n oorgangsfase, ter wille van die swakker broeders wat nog nie gereed is vir suigelingsnagmaal. Hierdie besluit is dus nie die einde van die chaos nie, maar die begin daarvan.
2.3 Die besluit is misleidend.
Aangesien dit n poging tot kompromie tussen verskeie onversoenbare standpunte was, is dit so geformuleer dat dit almal moet probeer tevrede stel. Vir diegene wat die vereistes van 1 Kor. 11 nog só verstaan, soos wat dit tradisioneel deur die Gereformeerde kerke verstaan was, kan die besluit selfs beteken dat nagmaal eers ná openbare geloofsbelydenis gebruik mag word. Op grond hiervan het die kerkraad van Levubu, byvoorbeeld, besluit om die ou gebruik te handhaaf van éérs kategese en openbare geloofsbelydenis en dán toelating tot die nagmaal. Hulle beroep hulle dan op hierdie besluite van die sinode.3 Ander kerkrade bedien die nagmaal egter selfs aan voorskoolse kleuters, en óók hulle, beroep hulle op hierdie besluite. Solank die maksimum vrede net gehandhaaf kan word, kan die waarheid maar heen en weer gebuig word. Dit is eenheid ten koste van die waarheid. Oor die eintlike verskilpunt, naamlik die regte interpretasie van 1 Kor. 11, het die sinode geswyg.
2.4 Die NG Kerke het in effek hiermee n nuwe nagmaalsteologie aanvaar.
Daardeur skei hy homself af van die ander Gereformeerde kerke in Suid-Afrika.
2.5 Twee standaarde vir toegang tot die nagmaal.
Kinders word nou toegelaat op grond van hulle doop, maar volwassenes op grond van hul geloofsbelydenis.
2.6 Die gebruik van nagmaal word nou n willekeurige en opsionele saak.
Slegs hulle wat die begeerte het, hoef nou die nagmaal te gebruik. Die is nie meer n Bybelse opdrag nie. Nalating daarvan is nie meer n tugwaardige sonde nie. Gedoopte kinders kan maar self besluit of hulle nagmaal wil gebruik of nie.
2.7 Die gemeentekinders word nou in twee groepe verdeel.
Aan die een kant is daar die gelowige kinders wat saam nagmaal gebruik. Aan die ander kant is daar die onbekeerde of ongelowige kinders wat nog nie die nagmaal gebruik nie. Dit plaas baie vroeg al ongesonde emosionele druk op (algemeen) die kinders en hulle ouers.
2.8 Die sinode ontkoppel dinge wat onlosmaaklik bymekaar hoort naamlik doop, kategese, openbare geloofsbelydenis en nagmaal.
2.9 Die openbare geloofsbelydenis word losgemaak van sy Gereformeerde betekenis, as die brug wat die doop en nagmaal verbind. Daar word nou weer terugbeweeg na die ou Roomse gebruik van die konformasie as n losstaande sakrament. Baie kinders en ouers sal heeltemal tereg vra: Wat is dan nog die sin van openbare geloofsbelydenis as die kinders reeds volle toegang tot die nagmaalstafel verkry het?
2.10 Die Gereformeerde definisie van ware geloof as n seker kennis en n vaste vertroue, moet nou plek maak vir n onbybelse soort "geloof", wat van sy inhoud beroof is. Dit is n paaseiergeloof: Buite, pragtig blink!, maar binne-in, slegs n leë dop en n diep donker gat.
2.11 Die sinode ontken die belangrike rol van die hele gemeente by die toesig rondom en die toelating tot die nagmaalstafel. Die verantwoordelikheid van amptelike opsig en tug, word nou uitgerangeer na die ouers toe.
2.12 Die gemeentemaal word verander in n gesinsmaal.
Die Bybelse klem van die nagmaal as gemeentemaal word n onbybelse "nagmaal as gesinsmaal."
2.13 Die ryke belydenis van "wat ons glo" word vervang met n oppervlakkige erkenning "dat ons glo".
Aan die nagmaalstafel bely ons nie net dat ons glo nie, maar ook (veral) dit wát ons glo! Hiervoor is kategese en geloofsbelydenis nodig.
2.14 Wat se logika is dit? Toegang tot die nagmaal maar nie tot die doop nie?!
Gedooptes wat al van kindsbeen af die nagmaal gebruik het, maar wat nie sover kom om openbare geloofsbelydenis te doen voordat hulle hul eie kinders het nie, het dus toegang tot die nagmaal, maar nie tot die doopvont nie. Hulle kan nie hul kinders doop, alvorens hulle openbare geloofsbelydenis afgelê het nie. Tog gebruik hulle vir jare lank al die nagmaal!
2.15 Kerklike opsig en tug rondom die nagmaalstafel word nou byna onmoontlik.
Die instelling van openbare geloofsbelydenis was nog altyd die enigste sinvolle wyse waarop die hele gemeente kon toesig hou oor die eerste toegang tot die nagmaal. Deur toegang tot die nagmaalstafel los te maak van openbare geloofsbelydenis, word die pad vir totale nagmaalsmisbruik wyd oopgemaak. Lindeboom haal Overduin aan, wat die verval in die nagmaal só beskrywe: "De avondmaalsangst is verdwenen en heeft nu plaats gemaaakt voor avondmaalsbrutalitiet." 4
3. Wees gewaarsku!
In die lig van bogenoemde opmerkings sal al die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika baie nugter en wakker moet wees. Die kindernagmaal is nie n geïsoleerde verskynsel in die kerk nie. Dit is n teken van kerklike verval, al word dit soms met goeie bedoelings ingevoer. Dit is en bly n saak wat nie uit die Bybel verdedig kan word nie, en wat teenstrydig is met die duidelike bedoeling van al ons Gereformeerde belydenisse. Kindernagmaal is deel van n proses van profanisering van die Heilige Nagmaal. Dit is net maar nog n teken in die rigting van wat Overduin noem: "Avondmaalsbrutaliteit". Mag die Here óns bewaar van die huidige Nagmaalsbrutaliteit!
|