Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 5 September 1999
KOMMENTAAR "Die 'politieke, kerklike en morele sonde' van apartheid"SKULDBELYDENIS IN TEOLOGIESE PERSPEKTIEF
- Artikel van prof Amie van Wyk in: "In die Skriflig" van Junie 1999, bl 203 - 224 -In "
In die Skriflig" van Junie 1999 (bl 203 - 224), lewer prof JH (Amie) van Wyk (hierna Van Wyk) sy motivering vir die openbare skuldbelydenis(se) oor die "politieke, kerklike en morele sonde" van apartheid. Dit word aangebied onder die titel: "Skuldbelydenis in teologiese perspektief.""Die vraag is uiters belangrik of daar oor die ideologie en praktyk van apartheid openbare skuldbelydenis gedoen behoort te word. Wie van mening is dat hierdie vraagstelling geïgnoreer, omseil of vermy kan word, leef in 'n vreemde wêreld van isolasie en wêreldmyding. So iemand vergeet dat, net soos die 'teologie ná Auschwitz' ... 'n ander aard vertoon, die 'teologie ná apartheid' in baie opsigte nie meer dieselfde kan wees nie. Die vraag kan immers nie vermy word nie hoe dit moontlik kon wees dat 'n land wat oorwegend uit Christene bestaan en waar die Reformatoriese teologie so 'n sterk invloed uitoefen, 'n slagoffer kon word van 'n politieke ideologie van onreg", aldus die inleidende paragraaf (bl 203).
Dit blyk al dadelik dat die noodsaak van skuldbelydenis gemotiveer word in die perspektief van horisontale versoening oor 'n politieke ideologie en "soveel grusame misdade" wat "in die naam van apartheid" gepleeg is, "dat daaroor eenvoudig nie geswyg mag of kon word nie. Dit was 'n misdaad teen die mense van Suid-Afrika", (bl 208). Hy regverdig dit op grond van Ou en Nuwe Testamentiese gegewens (bl 206) wat 'n betwisbare 'is gelyk aan ...' eksegese betref. "Die konklusie is onvermydelik dat apartheid sonde was en wel van sodanige aard en omvang dat daaroor eenvoudig in die openbaar skuld bely moes word. Sonde kan in politieke strukture vasgroei en so onsigbaar raak dat dit byna nie opgemerk word nie. Daar kan geen twyfel daaroor bestaan nie dat apartheid 'n sisteem van gewettigde sosiale onreg was ...", aldus Van Wyk (bl 208). Dat die Bybel sowel in die Ou as Nuwe Testament oorlog en geweld as reële omstandighede aanvaar en dat die Here self dit toelaat en selfs daaroor beskik om sy vyande voor Hom uit te verdelg (Deut 2 : 12; Ps 144 : 1, 2), om sy ongehoorsame (verbonds-)volk te tugtig (2 Kon 24 : 2, 3), en prinsipiële verdeeldheid te bewerkstellig (Matt 10 : 34 - 36; Luk 12 : 51 - 53), word nie eksegeties verantwoord nie.
Van Wyk se vertrekpunt is 'n bevooroordeelde standpunt teen die voormalige politieke beleid van afsonderlike ontwikkeling wat in die Suid-Afrikaanse konteks die praktiese toepassing van nasionale staatkundige onafhanklikheid en selfbeskikking was. Dr J Albert Coetzee beskryf dit as volg:
"Die politieke rekonstruksie in Suid-Afrika sedert die Anglo-Boere-oorlog was dié van 'n demokrasie en was toegespits op die herstel van staatkundige onafhanklikheid en die organisering van 'n Afrikanerdom om dit te kan verwesenlik - eers in die vorm van Soewereine Onafhanklikheid met die gemeenskaplike Britse Kroon in die Britse Statebond en daarna in die vorm van 'n onafhanklike Republiek . ... Wat die Swartmense (Bantoe) betref, is 'n oplossing gesoek in Tuislande wat kan ontwikkel tot onafhanklike state, wat dan ook met Transkei en Boputhatswana gebeur het. ...
"Terwyl dit die Afrikanerdom is wat die nasionale sentiment en onafhanklikheidsideaal ontwikkel en verwesenlik het en wat, menslik gesproke, ook Blank en Nie-Blank beveilig met sy wetenskaplike beleid van differensiasie, Blank sowel as Nie-Blank gered het van uitdelging deur barbaarse tiranne soos Dingaan en Silkaats, en almal se waarborg is vir 'n eiesoortige en beskaafde toekoms, sou dit dwaas wees om die Afrikanerdom op te los in 'n losse, onsamehorige, kunsmatige 'volk' van 'Suid-Afrikaners'. As daar geen Afrikanerdom gewees het nie, sou daar geen beskawing in Suid-Afrika gewees het nie. In die handhawing van die Afrikanerdom geld die woorde wat dr JD du Toit (Totius) in 1903 gebruik het, vandag nog - dat in die 'isolement van ons beginsel' die krag van ons volk geleë is. Sowel in die konfrontasie as in die dialoogsituasie is 'n sterk nasionale sentiment en 'n sterk nasionale wil noodsaaklik - ook in die Blanke Parlement en Uitvoerende gesag in die kompromiesituasie wat die voorgestelde veelvolkige grondwet meebring indien dit wet word", aldus dr J Albert Coetzee (In: 1978. VOLKSIDEE EN NASIEBOU IN POLITIEKE REKONSTRUKSIE 1899 - 1978. Pretoria: Transvaalse Uitgewersmaatskappy. Bpk. bl 178 - 181).
Dit is deel van die eeuelange, wêreldwye en nimmer-eindigende stryd vir territoriale, etniese en nasionale vryheid en onafhanklikheid met, aan die ander kant, dié van diktatoriale oorheersing wat deur middel van geweld of volgens die beginsels van die Franse Revolusie, deur algemene stemreg oftewel vrywillige instemming, realiseer. Hierdie stryd spruit voort uit die Goddelike beskikking van kulturele en territoriale verdeeldheid teenoor die menslike hoogmoed van mag en eenheid (Gen 11: 1 - 9). Van Wyk gaan sommerso aan hierdie Skrifgegewe verby en tipeer die beleid van afsonderlike ontwikkeling. in ons situasie, as "sonde en vervloeking" waaroor 'n skuldbelydenis noodsaaklik is.
"In die bekende Nagmaalsformulier resoneer die motief dat elkeen oor sy sonde en vervloeking moet nadink, sodat hy homself kan mishaag en hom voor God kan verootmoedig. Die sondes waarvan die Formulier praat, is seker nie net beperk tot persoonlike en kerklike sondes nie, maar sluit inderdaad ook sosio-politieke, ja, alle denkbare sondes in. Die gereformeerde tradisie ken geen selektiewe sondebegrip nie" (Van Wyk, bl 207).
Van Wyk se siening berus op 'n mensbeskouing wat hy huldig en breedvoerig beskryf het in 'n uitgawe van "In die Skriflig", Supplementum 1, 1993.
"Ten einde egter verantwoord oor antropologie te praat, moet ten minste op die volgende belangrike fasette gewys word: die mens is mens van God en buite sy relasie tot God om kan daar slegs oor die mens gespekuleer word; die mens is mens deur 'n mens en sonder medemenslikheid verloor die mens sy menslikheid; die mens is as mens op die toekoms gerig en hy is op weg na 'n nuwe aarde waar alles reg is" (Van Wyk, bl 93).
Weerklink hierin nie die klank van die eksistensialis-tiese filosofie en dié van die dialektiese teologie, wat die mens sentraal stel in die benadering van die samelewing nie? Seker, Van Wyk beskryf dit in 'n Christologiese perspektief. Maar verantwoord hy dit in 'n gesaghebbende skriftuurlike konteks? Die aardse geregtig-heid en die behoefte aan lewensruimte en leeftog word al te maklik gelykgestel aan die liefde van God vir die sondaars en sy vergewende genade deur die soenbloed van Jesus Christus. Die onderskeid tussen die verbondskinders van die Here en die ongelowiges word nie antiteties toegepas en toepaslik gekontrasteer nie.
"Die mens kan nie in isolasie van God maar ook nie in isolasie van sy medemens reg verstaan word nie. In die kerk (as liggaam) van Christus en as liefdesgemeenskap ontvang hierdie gedagte (koinonia) natuurlik 'n besondere toespitsing en aksent.
"Dat die mens, in navolging van God (Tit 3 : 4) dus 'n filantroop sal wees - en dat alle misantropie dus onaanvaarbaar is - spreek eintlik vanself. In die bybelse mensbeskouing word die mens as mens volledig ernstig geneem en word sy lewe en bestaan ook deur Goddelike wetgewing in die sesde gebod beskerm. Mense beskik nie inherent oor menseregte nie, maar wel oor Godgegewe regte ten einde hulle Godgegewe potensiaal te kan realiseer.
"'n Humane mensbeskouing sal 'n besondere ope oog en hand vir die randfigure in die samelewing hê: die misdeeldes, die verontregtes, die gestremdes. veral ten opsigte van die armes, die swartes en vrouens sal 'n groot mate van sensitiwiteit geopenbaar word. Nié dat hiermee aan al die argumente van die Teologie van die Rewolusie en die Feministiese Teologie toegegee hoef te word nie, nee, daarvoor ontbreek daar in hierdie teologieë te veel goeie teologiese begronding. Wel leer ons God in die Skrif ken as die God van volmaakte filantropie wat na sy vyande uitreik en wat sy son oor goeies en slegtes laat skyn en wat oor regverdiges en onregverdiges laat reën (Matt 5 : 45) - en dis die beeld van hierdie God wat die mens moet weerspieël" (Van Wyk, bl 95).
So gesien huldig Van Wyk 'n filantropiese gods- en mensbeskouing wat 'n bepaalde filosofiese denkrigting verteenwoordig. Maar sonder om aan die Christelike verpligting om barmhartigheid in die samelewing tot uitdrukking te bring iets af te doen, bestaan daar ook ander skriftuurlike perspektiewe met die oog op die samelewing, die verlede, die hede en die toekoms, wat geldingskrag geniet. Dit raak dan ook die wêreldlike regering ten opsigte waarvan goddelike verordeninge gestel is. Dit betref onder andere die beteueling van die kwaad, die bestraffing van kwaaddoeners en die daarstelling van 'n orde waarbinne die onderdane in rus en veiligheid hulle goddelike amp en roeping kan vervul. Daardie orde is kortweg omskryf in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.
Dit is hierdie orde wat in die gedrang is met dié van die "Nuwe Suid-Afrika", met sy basiese grondslag van menseregte in plaas van die erkenning van die drie-enige God se almag en leiding in die geskiedenis van lande en volke en in die individuele persoonlike bestaan. Dié Goddelike orde vir die samelewing word versteur omdat die Bybel en die riglyne en gebooie wat daarin vervat is, nie dien as norme waaraan die wetgewing onderhewig gestel en aan getoets word nie.
Skuldbelydenis oor die beleid van apartheid van die verlede? Was dit 'n misdaad teen die mensheid en sonde teenoor die lewende God om lewensruimte wat die Here geskenk het te gebruik in sy diens? "In die openbaar het die sonde gedy, in die openbaar was dit nodig om te bely", so besluit Van Wyk sy artikel. Hierdie skuldgevoel en die gevolglike skuldbelydenis is subjektief gemotiveerd en dus nie gesaghebbend om algemeen (kerklik) aanvaar en nagevolg te word nie. Om God lief te hê bo alles en die naaste soos jouself, was ook in die verlede 'n gebiedende eis wat Skrifgelowig gehoorsaam, òf moralisties nagestreef, òf in ongehoorsaamheid weerstreef is. ®