Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 5 September 1999
KOMMENTAAR "KLONING: KONFLIK TUSSEN WAT KAN EN WAT MAG" Prof Amie van Wyk se teologies-etiese denke Kritiese opmerkings aangaande 'n artikel van prof Van WykIn: IN DIE SKRIFLIG van Maart 1999, bl 81 - 97
Etiek is die vakrigting wat besin en uitsprake lewer oor die behorenskwessie, oor dit wat in die menslike bestaan toelaatbaar of nie-toelaatbaar is nie. Dit is 'n filosofiese dissipline wat volgens verskillende skole of denkrigtings benader word. Dit is nie die bedoeling om dit breedvoerig te bespreek nie. In hierdie artikel wil ons kortweg verskil oor die konklusie van prof Van Wyk in sy voorlopige samevatting, dat hy soek "na 'n oplossing in die derde rigting" (bl 94). "Daar bestaan drie moontlike antwoorde op die vraag na kloning: eerstens: dit mag altyd; tweedens: dit mag nooit, en derdens: dit mag soms. Self soek ek na 'n oplossing in die derde rigting. Sodoende word gepoog om tussen die twee uiterstes van fundamentalisme/negativisme (niks mag) en relativisme/positivisme (alles mag) deur te stuur", aldus prof Van Wyk. Die etiese uitspaak dat dit nooit mag nie word as fundamentalisties/negativisties getipeer en dié dat dit geheel en al toelaatbaar is, as relativisties/positivisties.
Hoe moet nou die derde rigting wat prof Van Wyk as 'n oplossing voorstaan, getipeer word?
Volgens gesaghebbende Gereformeerde opvattings is die bron van etiek God se Woord. Daarom behoort Christelike etiek deur bybelse leerstellings, die dogmatiek, beheers te word. "Het spreekt wel vanzelf" dat wie dogmaties Gereformeerd is, hom ook in sy etiek deur sy Gereformeerde opvatting van God se openbaring in die Skrif laat lei. ... Daaronder het die afgeleide bronne soos die belijdenisskrifte, die dogmatiek, de sedeleer buite die Christendom, ensovoorts, ook wel betekenis, maar ons ontleen in die eerste plek die etiese beginsels ten diepste aan de Heilige Skrif. Dit beheers ook die metode van die etiek, wat daarom nie die goeie wil en die juiste optrede slegs menslik, volgens die gewete, bepaal nie maar deur uit die Woord van God aan te toon hoe ons eties behoort te lewe, aldus Dr K Dijk van die VU in Amsterdam.
Prof Van Wyk gaan nie verby aan die vereiste om die Skrif te betrek vir die motivering van sy denke nie. "Terwyl weggestuur word van 'n biblisisties-fundamentalistiese Skrifgebruik, word voluit gekies vir 'n Skrifgebruik wat erns maak met die gesag van die Skrif, maar daarmee ook met die spesifieke aard van daardie gesag. Moontlik kan die volgende onderskeiding hier van hulp wees: 'n Saak is Skriftuurlik wanneer dit direk in die Skrif bespreek en besleg word, maar dit is Skrifmatig wanneer dit nie direk nie, of in geheel nie, in die Skrif ter sprake kom maar tog korreleer met die gees en rigting van die Skrif" (bl 89). ... "Ongetwyfeld is naasteliefde die grondnorm in die etiek. Dit kan getipeer word as 'die matrix van alle normativiteit voor de mens' ... 'de hoofdzaak en de kern van alle moraliteit'" (bl 91). ... "Binne hierdie konteks kan kloning as daad van naasteliefde beskou word - aan kinderlose egpare. En daarmee het ons by 'n kernprobleem gekom", sê prof van Wyk (bl 93).
Die gebod van naasteliefde ten opsigte van kinderlose egpare verskaf die motief vir die uitsonderingsituasie: prof Van Wyk se soeke "na 'n oplosssing in die derde rigting". Die wil en weg van die Here in die lewe van bepaalde persone om hulle die kinderseën te onthou, word nie in rekening gebring nie. Nee, die tegnologie het tans sover gevorder dat op 'n abnormale wyse kinders gefabriseer kan word - binne huweliksverband - om te voldoen aan die hedonistiese behoeftes van die mens. In dié sin kan "die derde rigting" as akkomoderend aan die behoeftes van individuele egpare getipeer word. Die geopenbaarde en verborge wil van die Here, sy beskikking in die lewe van die mense wat deur Hom tot sy verheerliking geskape is, word buite rekening gelaat.
"Mag men onbeperkt sleutelen aan het leven, ook aan die fundamenten van het leven? Luiden sommigen terecht de noodklok bij datgene waartoe moderne biologie - heden of weldra - in staat stelt, bij het 'manipuleren' van het menselijk leven?" vra dr PJ Roscam Abbing. (In: TOEGENOMEN VERANTWOORDELIJKHEID, 1972. Inleiding bl 1). Op bl 151/152 word die saak konkreet afgewys as strydig met Gods bedoeling: As selfbevrugting moontlik en toegepas word, behels dit 'n ondermyning van die huwelik. Dit is by primitiewe vorme van die lewe moontlik dat een sel opdeel en sogenaamde klone van identiese tweelinge kan produseer. Dit is 'n feit dat elke sel van die menslike liggaam die volledige informasie bevat wat nodig is vir die totstandkoming van 'n nuwe orgaan of selfs van 'n liggaam. Dit is daarom moontlik dat uit een menslike sel 'n nuwe mens kan groei. Dus is dit van belang om by voorbaat daarop te wys dat kweking van mense op hierdie wyse, nie strook met God se bedoeling nie. Dat kinders gebore word uit die ontmoeting (saad en eier) van man en vrou is 'n uiters belangrike gegewe, 'n sinvolle feit, wat nie ondermyn mag word nie, sê dr Roscam Abbing.
Die selfsugtige belange van mense, met die morele motief van "naasteliefde", word as norm verhef om as uitsondering te laat dien vir 'n praktyk van genetiese manipulasie en te "sleutelen aan de fundamenten van het menselijke leven". Tereg wys die (NGK) konsep-"Geloofs-verklaring 2000" (sonder om in te stem met die geheel daarvan) dat "Eksperimente met diere daarop dui dat die fisiese risiko's vir kinders wat deur kloning verwek word, hoog sal wees en dat 'n besonder lae persentasie van die embrio's wat deur kloning bevrug word, tot normale geboortes lei. Daarbenewens sal die persoonlike waardigheid van die kinders wat wel met behulp van kloning gebore word, ernstig in die gedrang kom. Gekloonde kinders sal middele wees tot die verwesenliking van die doel van ouers om kinders volgens eie spesifikasies te hê. Die gevaar dat die Christelike opvatting van die huwelik deur die toepassing van kloning ondermyn sal word, is ook groot ..." (DIE KERKBODE, 2 Julie 1999, bl 8,9).®
| DOLLY IS DALK GENETIES DEFEKTIEF
Prof PJ van der Merwe skryf in DIE HERVORMER
van 15 Augustus (bl 8) oor die kloning van die skaapooi, Dolly, as
volg:
Drie jaar gelede het die Finn Dorset skaapooi, Dolly, opspraak verwek toe sy as die eerste kloonskaap gebore is. Dit het groot beroering in die wêreld veroorsaak, en lang besprekings is gevoer oor die eties-regverdigbaarheid van kloning. Sommige mense het selfs voorspel dat dit mense hulleself kan laat kloon. Nou blyk dit dat Dolly allerlei genetiese afwykings vertoon. Dolly is nou drie jaar oud, maar haar DNA lyk soos dié van 'n veel ouer dier - dalk so oud soos die skaap van wie die oorspronklike DNA verkry is. Dit kan beteken dat Dolly vatbaar is vir voortydige veroudering. Navorsers het vasgestel dat die punte van Dolly se chromosome wat die lewensduur van selle bepaal, korter is as normaalweg. Navorsers is nog nie seker waarom dit so is nie, maar dit is moontlik dat dit die ouderdom van Dolly se kloonmoeder weerspieël. Dit laat navorsers al meer tot die gevolgtrekking kom dat daar nie so iets soos 'n perfekte kloon is nie. Dit is waarskynlik dat 'n kloon altyd swakker sal wees, of defekte kan vertoon, in vergelyking met die oorspronklike kloonmoeder. Uiteraard beteken dit dat as daar 'n kloon van 'n kloon gemaak word, die kwaliteit van die kloon toenemend kan verswak. Dit skep ook die moontlikheid dat klone baie meer vatbaar vir siektes kan wees. Aan die positiewe kant het die eksperiment meer inligting na vore gebring oor hoe chromosome die ouderdom van individue beïnvloed. |