Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Geloofsverklaringe

AKTUEEL: Die Gesag van Meerdere Vergaderings

SKRIFOORDENKING: Waar staan jy?
Josua 5:13-15

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (Slot)

Vermensliking van die Bybel

Die nuwe Psalmberyming (Vergelykings Psalm 8)

God se plek vir die vrou in die gemeente

Totius oor "Aanbidding en Lofsang" in die Erediens

Emeritering van Prof Christ Coetzee

Die Wêreldorde van Babilon

Dr Abraham Kuyper se pluriformiteitsleer

KERKLIKE JOERNAAL: 
"Kindernagmaal 'n ernstige dwaling"
"Parlement van Wêreldgodsdienste"
Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Strominge in die Opvoedingsteorie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (1)

PERSRUBRIEK: 
Mense is sondig, nie stelsels nie

Die tien gebooie: Die wet van die enigste God
Skrifkritiek: Verklaring van Jesaja 53

KOMMENTAAR: 
(1) "Die 'politieke, kerklike en morele sonde' van apartheid"
(2)Die saak van "Menseregte" in Demokratiese Perspektief
(3)"Kloning: Konflik tussen wat kan en wat mag"

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (8)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Kloning in die Perspektief van Geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 5  September  1999

MEDIESE ETIEK

 

KLONING IN DIE PERSPEKTIEF VAN GENEESKUNDE

- DR MC DURAND -

Daar word baie menings oor kloning gehuldig. Die vraag wat nog nie beantwoord is nie, is of kloning enigsins al dan nie deel van genees-kunde is of kan wees.

Hoe word 'n kloning gemaak?

Dolly was die gekloonde skaap wat almal se gedagtes weer eens op hol oor dié saak gehad het. 'n Kort beskrywing hoe Dolly gekloon was: Eers was die selle van die sesjarige "moeder-"ooi se uier geneem. Hierdie selle was toegelaat om buite die liggaam van die ooi te groei. Daarna was die selle uitgehonger, sodat die gene in 'n onaktiewe fase kon ingaan. Daarna was die kerne van die uierselle verwyder en in 'n onbevrugte eiersel van dieselfde "moeder-"ooi geplaas. Na vele mislukte pogings (276 om presies te wees), is Dolly uit 'n uier-selkern bevrugte kernlose eiersel gebore. Die "moeder-"ooi was toe terselfdertyd ook Dolly se identiese tweelingsuster, met 'n ouderdomsverskil van ses jaar.

Waarmee hou die geneeskunde sig besig?

Voordat ons besluit of kloning al dan nie 'n mediese handeling kan wees, moet ons eers besin wat die beroep van die geneeskunde behels, of liewers behoort te behels.

Die hoofdoel van die mediese professie is om menslike lyding te verlig, Maar dit is nie waar dat alle lyding wat die mens ken, die bystand van die geneeskunde verg nie. Derhalwe is dit in die algemeen aanvaarbaar dat die medici hulle besig (kan) hou met pyn as 'n besondere vorm van lyding. Net so is dit aanvaarbaar dat die geneeskunde die lyding, in 'n algemene verband, kan aanspreek: Byvoorbeeld die lyding van angst en die lyding van onvrugbaarheid. Daarenteen is dit nie algemeen aanvaarbaar dat die geneeskunde as sulks, sig sal bemoei met die lyding van 'n volk wat deur 'n ongelowige regering onderdruk word nie. Die punt is: Lyding in sy breër begrip betref soms die terrein van die geneeskunde, maar andersins ook nie.

Is kloning 'n mediese ingreep?

Nee! Kloning het niks te doen met die geneeskunde nie. Die geneeskunde is 'n beroep wat te doen het met die verligting van pyn in die besonder, maar ook met die verligting daarvan in die breëre sin. Laasgenoemde betref die lyding wat iemand beleef omdat hy nie meer sy goddelike taak op aarde kan verrig nie. So is daar, byvoorbeeld, iemand wat onvrugbaar is, wat vir hom/haar 'n lyding beteken omdat die kinderseën ontbreek. Net so ly iemand wat gebreklik is omdat hy (tydelik of permanent) nie meer kan werk en al sy dinge kan doen nie. Dan is dit die dokter se taak om met al die middele tot sy beskikking dié lyding te verlig. Hy sal die pasiënt met 'n gebreekte been, so goed as moontlik probeer herstel. Hy sal die been spalk of dalk 'n plaat op die gebreekte gedeelte sit. Die dienste van 'n fisioterapeut, 'n arbeidsterapeut en selfs 'n maatskaplike werker mag dalk bykomend aangewend word.

Die doel van die mediese professie en die genesing is om die pasiënt, as dit moontlik is, terug te stuur na die samelewing, sodat hy/sy die werk (hetsy dieselfde of aangepas aan omstandighede), waartoe hy/sy deur God geroepe is, weer kan verrig. Die medikus het nie die taak en roeping om die werk van die pasiënt te gaan doen nie. Hy het slegs die verantwoordelikheid om die lydende so goed as moontlik te herstel sodat die pasiënt weer sy werk kan verrig. Pasiënte word genees om lyding te verlig en moontlike herstel te bewerkstellig. Genesing betref nie die funksie van die geneeshere om die werk van hulle pasiënte te gaan doen nie.

Dieselfde geld vir die gevalle waar 'n pasiënt onvrugbaar is. 'n Mediese bystand behels in dié geval om, met al die middele tot beskikking, soveel as moontlik hom/haar tot vrugbaarheid te herstel. Die mediese klagte (lyding) van die pasiënt handel oor die afwesigheid van vrugbaarheid. Derhalwe is dit slegs dié afwesigheid wat die dokter moet behandel. Hy het, duidelik genoeg, geen bevoegdheid om die bevrugting op sigself, te voltrek nie. Die medikus het dus nie die taak om die bevrugting, hetsy deur 'n tegniese kuns-greep, uit te voer nie. Kloning is 'n stap verder op daardie terrein. By kloning is daar voortplanting sonder bevrugting. As dit nie die taak van die behandelende geneesheer was om die bevrugting van 'n egpaar persoonlik te behartig nie, het hy net so min 'n plig om die voortplanting van 'n enkel persoon te behartig nie.

Genees kloning onvrugbaarheid?

Nee! Kloning genees nie onvrugbaarheid nie. Trouens, kloning kan onvrugbaarheid selfs vermeerder. 'n Persoon wat onvrugbaar is, kan per definisie nie vrugbaar gemaak word deur die ingreep van kloning nie. Kloning voorsien ook nie aan die pasiënt 'n kind nie. Wel kan dit 'n identiese anatomiese en fisiologiese replika aan die pasiënt voorsien. Kloning gee aan die onvrugbare persoon geen kinders (nasate) nie, maar wel identiese tweelinge. Nadat die kloning verrig is, is die onvrugbare persoon nog net so onvrugbaar soos voorheen. Kloning is feitlik onweerlegbaar geen genesing van onvrugbaarheid nie. Erger nog: Indien die onvrugbaarheid by die pasiënt 'n genetiese oorsaak het, sal die kloon ook onvrugbaar wees. Kloning sal in so 'n geval onvrugbaarheid selfs vermeerder omdat nie net die behandelde pasiënt onvrugbaar is nie, maar dat dan ook sy jonger gekloonde tweelingbroer/suster ook onvrugbaar sal wees.

Is kloning die beste verligting van die lyding van onvrugbaarheid?

Nee! Kloning bevestig die onvrugbaarheid van die betrokke persoon. Eers was die onvrugbaarheid van dié persoon diagnoseerbaar deur die afwesigheid van kinders. Kloning sal die onvrugbaarheid van dié betrokkene sigbaar maak deur die aanwesigheid van lewende replikas. Buitendien beantwoord kloning nie die vraag waarom iemand onvrugbaar is nie. Nog minder beantwoord dit die vraag wat God se (verborge) bedoeling met dié betrokkene se onvrugbaarheid is nie. Hierdie vrae kan slegs beantwoord word deur die gebed en die oordenking van die geopenbaarde wil van God. Die behandelende geneesheer speel hierin wel 'n rol. Die gelowige dokter kan sy pasiënt help op die weg van die geloof, in die sin van aanvaarding en verbetering. Hierdie werk sal 'n gelowige dokter met vreugde verrig, nie omdat hy in eerste instansie 'n geneesheer is nie, maar omdat hy allereers 'n medegelowige is.

Die plig van die medikus sluit nie in om sy pasiënt te (laat) bevrug nie. Ook is dit nie deel van sy mediese verantwoordelikheid om die mensdom te vermeerder nie. Kloning is nie deel van die geneeskunde nie. Dit kan nie onvrugbaarheid genees of pasiënte daarmee troos nie. Kloning is die inskakeling van tegnologie om replika-"kinders" op 'n kunsmatige wyse te verwek. Die vraag of die aanwending van kloning, in die lig van die Skrif, al dan nie toelaatbaar is en as sonde beskou moet word, sal DV in 'n volgende bydrae bespreek word.