Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Geloofsverklaringe

AKTUEEL: Die Gesag van Meerdere Vergaderings

SKRIFOORDENKING: Waar staan jy?
Josua 5:13-15

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (Slot)

Vermensliking van die Bybel

Die nuwe Psalmberyming (Vergelykings Psalm 8)

God se plek vir die vrou in die gemeente

Totius oor "Aanbidding en Lofsang" in die Erediens

Emeritering van Prof Christ Coetzee

Die Wêreldorde van Babilon

Dr Abraham Kuyper se pluriformiteitsleer

KERKLIKE JOERNAAL: 
"Kindernagmaal 'n ernstige dwaling"
"Parlement van Wêreldgodsdienste"
Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Strominge in die Opvoedingsteorie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (1)

PERSRUBRIEK: 
Mense is sondig, nie stelsels nie

Die tien gebooie: Die wet van die enigste God
Skrifkritiek: Verklaring van Jesaja 53

KOMMENTAAR: 
(1) "Die 'politieke, kerklike en morele sonde' van apartheid"
(2)Die saak van "Menseregte" in Demokratiese Perspektief
(3)"Kloning: Konflik tussen wat kan en wat mag"

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (8)

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Kloning in die Perspektief van Geneeskunde

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 5  September  1999

SKRIFOORDENKING

WAAR STAAN JY?

(JOSUA 5:2 - 6:5)

-   DS SA CILLIERS  - GKSA: WATERBERG  -

En terwyl Josua by by Jérigo was , slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan 'n man teenoor hom met 'n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande? En Hy sê: nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. Toe val Josua met die aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê? Toe sê die leërowerste van die HERE vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen.
(Josua 5: 13 - 15)

 

Daar kom tye dat die ganse wêreld om jou in net twee dele uiteenval. Dit is die deel vir jou en die deel teen jou. Dit is vriend of vyand. Die Here Jesus het self hierdie onderskeiding gemaak toe hy aan sy dissipels gesê het: "want wie nie teen ons is nie, is vir ons" (Mark 9:40)

Dit is egter tragies dat ons baie keer hierdie tweedeling ook van toepassing wil maak op die Here onse God. Dan wil ons weet of die Here aan ons kant is of nie. Dit sou ook die vraag kon wees wat in Josua se hart geleef het toe hy die ommuurde stad Jerigo bespied het om te kyk waar die maklikste invalsplek sou wees. Hierdie stad kon hulle droom van ‘n eie vaderland totaal in skerwe laat spat.

So vind ons Josua hier, waarskynlik buite die laer naby Jerigo op soek na ‘n moontlike invalsplek. Dan gebeur iets besonders. Toe Josua sy oë opslaan sien hy skielik ‘n man teenoor hom staan met ‘n uitgestrekte swaard in sy hand, dit wil sê ‘n man wat gereed is om te veg. Oor wie hierdie man is, is geen twyfel nie. Dit is die Engel van die Here. Dit is dieselfde Engel wat Israel op die trekpad deur die woestyn gelei het, met ander woorde Jesus Christus, soos Hy Hom in die tyd van die Ou Verbond aan sy volk geopenbaar het. Hy is die leërowerste van die Here se leër, wat reeds daar in die grys verlede die weë vir sy volk en kerk gebaan het. Hy is van begin tot einde die WEG, die WAARHEID en die LEWE. Hy baan die weg tot die lewe. Later sou Hy Hom ook so aan Josua bekendmaak, maar nou was dit nog nie so ver nie. Wat vir Josua op hierdie oomblik van belang is, is dat dit ‘n krygsman is met ‘n uitgestrekte swaard in die hand. Josua wil dus dadelik van hom weet: "Behoort U by ons of by ons vyande?"

In ons hedendaagse stryd en worstelinge is dit ook die vraag waarmee ons elkeen om ons wil konfronteer: Behoort jy by ons of by ons vyande? En voor ons ons kan kry, is dit die vraag wat ons ook sonder meer aan die Here rig. Here, is U teen my of vir my? God se beskikkinge lyk soms dan so vreemd? Waarom hierdie felle aanslag op alles wat vir ons as volk heilig en dierbaar is?

Daar kom tye dat ons in die versoeking val om te wil sê: God is téén ons. Die teenoorgestelde is egter ook waar. Ons kan soms so gou wees met die veronderstelling dat God alleen aan óns kant is. Israel het dalk met dieselfde gedagte daar by Gilgal gesit. Hulle is tog sopas besny en hulle kon weer die pasga vier. In vandag se taal sou dit só kon klink: Ek is immers gedoop en ek gebruik gereeld Nagmaal. Dit kan dus nie anders nie: God moet aan ons kant wees. Ons kan baie keer God as 't ware wil annekseer vir ons eie planne, ons eie standpunte en vir ons eie gevegte.

Josua wil weet: "Behoort U by ons of by ons vyande?" Die antwoord hierop is kort en kragtig: "NEE!" Dit wil sê: Ek behoort nie by julle vyande nie, maar ek behoort ook nie sommerso by julle nie.

Hoe dan nou? "Ek is die leërowerste van die HERE"; Ek is dus nie in jou kamp of in jou vyand se kamp nie. Ek is hier met ‘n uitgestrekte swaard, gereed om die stryd te stry as aanvoerder van God se leër. Ek laat My nie sommerso betrek by jou skemas van vir of teen nie. Ek is die leërowerste van die Here. Ek behoort by God.

Josua het gedink dit is hy en hierdie woestynvolkie met hulle nietige wapens wat teen die Kanaäniete in Jerigo moet veg, maar nou staan hierdie man voor hom en laat hom goed verstaan: Dit is nie jou stryd hierdie nie, Josua. Dit is my stryd. Dit gaan tog nie hier om jou naam en eer nie, maar om die eer en die heilige Naam van die Here jou God. Die bewyse hiervoor sou Josua binnekort op talle maniere duidelik ontvang:

Daarom staan Ek hier as Leërowerste van die Here. Die stryd wat voor die deur lê, is nie julle saak nie. Dit is ‘n saak van die Here, dit is sy stryd. Daarom word daardie vraag wat jy so gemaklik vra: Behoort U by ons of by ons vyand?, heeltemal omgedraai. Ek wil nou van jou weet: Josua, waar staan jy? Aan watter kant veg jy?

Hierdie vrae vanuit Gods Woord staan vandag ook baie duidelik tot ons gerig. Afrikaner Quo Vadis? Waarheen is jy op pad? Waar staan jy in hierdie stryd? Is jy nie dalk besig om die Here te ignoreer en jou eie stryd hier te wil begin stry nie? Ons moet dit vandag weer duidelik en helder hoor: Die eintlike stryd behoort aan die Here. Dit is sy saak en daarmee wil Hy sy Koninkryk laat kom.

Toe Josua besef waaroor dit gaan, het hy diep neergebuig en gevra: "Wat wil my Here aan sy dienskneg sê?" Dit is die enigste korrekte houding in die stryd wat vir ons wag. Ons moet daarin as diensknegte van die Here optree – diensknegte wat aan Hom behoort, duur gekoop deur sy kosbare bloed aan die kruis. Ons moet onsself voor Hom verootmoedig en as 't ware ons voor Hom in die stof werp. Dit beteken dat ons ons eie ambisies, ons eie gedagtes, ons eie posisies eers op die agtergrond moet stel, want dit gaan hier om God se stryd en sy heerskappy. Sy Naam en sy eer is hier op die spel.

En al gaan dit om God se stryd dan is jy en ek nie daarvan uitgesluit nie. Die slagveld waarin God sy stryd beslis, is dikwels in ons eie lewensterrein. Dit is veral dikwels in omstandighede waarin jy aanvanklik sou dink dat jy jou teen ‘n muur gaan vasloop. Hierdie situasies kom voor in huwelike, in gesinne en families. Dit kom voor tussen vriende en by die werk. Ons ervaar dit ook as volk. Die vraag is net: Waar staan jy in dié situasie? Staan jy aan die kant van God se stryd? Is jy bereid en gewillig om sy wapens op te neem vir die stryd wat eintlik syne is? "Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel." (Ef. 6:11). En as Paulus as dienskneg van die Here ons só oproep om die volle wapenrusting aan te trek dan noem hy ook spesifiek die swaard. Hy sê: "En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God" (Ef 6:17).

Ken jy hierdie swaard? Oefen jy jou elke dag om hierdie swaard te kan hanteer? Wie aanspraak maak dat hy saam met God stry moet ook God se wapentuig kan gebruik!

Vandag ondervind ons die hewigste stryd teen die Woord van God. Dit word gedoen deur ‘n vraagteken te plaas agter die Skrifwaarheid, die Skrifgesag, die Skrifgeloof, en uiteindelik teen die God van die Skrif. Hierdie einste vraagteken word nou ook verder geneem en agter die geskiedenis, die roeping en voortbestaan van die Boere-Afrikaner geplaas.

Ons is geroepe om hierdie vraagtekens te verwerp en opnuut uitroeptekens daaragter te plaas. Dit kan ons alleen doen as ons weer terugkeer na ons huise en ons families en terug na ons volk sodat ons saam ook kan terugkeer na die Woord van God. Terug na ons huisaltare en terug na die ware kerk, waar steeds gevra word: Wat wil my Here vir sy dienskneg sê?

Hy met die uitgestrekte swaard, gereed vir die stryd, het nie een oomblik getalm om ons stryd syne te maak nie. Ja, jou stryd teen die bose magte in die lug; teen Satan en al sy versoekinge, jou stryd om lewe en teen die dood, het inderdaad sy stryd geword.

Daarom het Hy na hierdie wêreld gekom as Seun van die mens. In die woestyn is Hy deur die Satan versoek. Aan die kruis is Hy gepynig en gemartel. Hy is die dood en die graf in. Maar Hy, die vleesgeworde Woord, het die stryd enduit gestry en oorwin. Hy het die sterkste Jerigomure, dit is die magte van dood, graf en hel, vir jou en my uitmekaar laat tuimel.

In Jesus Christus het God sy volk reddend tegemoet getree. In Hom het God die stryd vir jou en my volstry. Ons kan nou die stryd ingaan as oorwinnaars, ja, méér as oorwinnaars. "Met my God loop ek nou bendes storm en spring ek oor ‘n muur" (vgl. 2 Sam 22: 30 en Ps 18: 29).

In Openb 19 sien Johannes hierdie krygsman weer. Die groot Oorwinnaar – die Ruiter op die wit perd. Uit sy mond het daar ‘n skerp swaard uitgekom waarmee Hy al sy vyande finaal oorwin het. Behoort jy aan Hom? Glo jy in Hom? Is jy ook deur sy bloed aan die kruis duurgekoop? Trek dan jou skoene uit, want jy staan op heilige grond: want kyk Hy is hier en Hy roep jou in sy goddelike diens.

As gelowige in Jesus Christus, is ook jy as soldaat ingesluit in sy leër voor wie elke vyandige vesting sal val. Dit is Hy, met die uitgestrekte swaard in die hand, die leërowerste van die Here: Jesus Christus is sy Naam.