Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 5 September 1999
PersrubriekSKRIFKRITIEK:
Verklaring van Jesaja 53
Ds JG du Plessis van Da Gamaweg 59, Jeffreysbaai,
skryf in
DIE KERKBODE van 2 Julie oor die bogenoemde as volg:
Met skok en verbasing het ek in die uitgawe van Die Kerkbode van 21 Mei 1999 die verklaring van prof Fanie Snyman gelees oor wie nou eintlik die Kneg van die Here in Jesaja 53 is. Stellinge soos: "Die boodskap van Jesaja 53 sien nie op Jesus Christus nie ..." en "Jesaja 53 is dus geen voorspelling van Jesus Christus se geboorte nie ..." bring ernstige vrae na vore.
Is dit nie 'n direkte aantasting van die goddelike inspirasie van die Skrif nie? Sonder om te huiwer, word aan Moses die ereplek toegeken as kneg van die Here, omdat hy dan ook deur mense verag is en Israeliete baie oor hom gekla het. Terloops, prof Snyman verwys na Matteus 8 en Handelinge 8. Die Nuwe-Testamentiese kerk sou dan by wyse van terugskouing in die figuur van Jesaja 53, Jesus raakgesien het.
Sal prof Snyman asseblief vir ons sê wanneer Moses ter wille van ons deurboor is? Hoe kon daar deur Moses se wonde vir ons genesing gekom het? Wanneer was hy (Moses) die regverdige wat baie mense regverdig sal maak? Wanneer is hy soos 'n lam na die slagplek gelei, of verbrysel of is sy lewe as skuldoffer gegee?
Is Matteus 8 en Handelinge 8 nie die uitdruklike uitleg van die Heilige Gees self nie? Die Heilige Gees stuur vir Filippus en gebruik hom om vir die Etiopiër te sê van wie die profeet in Jesaja 53 praat. En, let wel, op grond van sy uitleg word die Etiopiër gered!
Is dit so 'n probleem om te aanvaar dat die Heilige Gees meer as vyfhonderd jaar gelede reeds deur die profete al die heerlike dinge oor die Messias kon aankondig? Soos ook al die ander voorspellings oor die lyding van Jesus in onder andere Psalms 22 en 31. Ook al die voorspellings oor die geboorte van Jesus - wat deur al vier die evangeliste so aanvaar en vertolk word?
Waarom nou genoemde voorspelling afwater en Jesus slegs by terugskouing daarin lees? Ek is oortuig dat menige gelowige Bybelleser saam met my diep ongelukkig voel oor 'n uitleg wat ons, myns insiens, beroof van die gewyde bekoring en kragtige sinspeling op die Persoon van Jesus en sy plaasbekledende lyding in Jesaja 53. As ek dit lees, hoef ek dit nie te lees via 'n terugskouing nie, maar in dieselfde lig van die Heilige Gees waarin Filippus dit gelees en verklaar het, naamlik die Kneg van die Here is Jesus Christus!