Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Soek  
Keuselys  

  

Die Kerkpad November 2005: KERKEKONFERENSIE VAN 5 MAART 2005

Geplaatst door: Admin op 17 Okt 2005 - 17:09 Aktueel 
“Die Skrifbeginsel agter die besluite van die Sinode van 2003
'n openhartige gesprek oor die gesag van die Skrif”

As redaksie beveel ons graag ons lesers aan om kennis te neem van die boekie
wat oor die Kerkekonferensie van 5 Maart 2005 saamgestel en nou beskikbaar is
Die Redaksiekommissie van meewerkende kerke, die Gereformeerde Kerke van Waterberg (Dolerend), Pretoria - Die Kandelaar, Pretoria (“Paul Krugerkerk”), Ficksburg en die kombinasie Hennenman/ Senekal / Ventersburg, aanvaar verantwoordelikheid vir die inhoud. Dit bevat 59 bladsye met gedrukte teks en is professioneel goed versorg. Dit bevat 'n “Ten geleide ”, wat hieronder oorgeneem en bekend gestel word. Daarna die volgende: die verwelkomings-toespraak van ds SA Cilliers: “Die rots met die kerk daarop”; die (leer-) voordrag van dr VE d' Assonville: “In hulle (die profete) het die gees van Christus vooruit getuig ...”; dan volg ds HLJ Momberg met die (liturgie-) tema: “Reformasie in die liturgie” en as laaste die kerkregeringsaak: ds GJ Meijer: “Christus-regering in die kerk van Christus”.
Die gedrukte teks is ook op internet beskikbaar: adres: www.5maart2005.za.org
Bestellings van hierdie boekie kan gerig word aan:
Die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar
Posbus 31527 - Totiusdal 0134
Navrae: Telefoon 012 332 4535

Ter geleide

Die vraagstukke wat in hierdie bundel behandel word is nie nuut nie - dit is dieselfde vraagstukke wat al eeue gelede opgeduik het. Tans word dit net in moderne woorde en mondering as nuut opgedis.
Debatvoering na 'n sinode is ook nie 'n nuwe verskynsel nie. Waarin daar wel 'n nuwigheid is, is dat sinode 2003 in koerantbespiegelinge, reeds voor die sinode, as 'n waterskeiding aangedui is.
Waarom? Debatte na sinodes het die afgelope 20 jaar dermate in felheid toegeneem dat in Die Kerkblad gewag gemaak is van twee strominge in die kerk.
Die kern hiervan is uiteenlopende oortuigings oor Skrifbeskouing en Skrifgebruik. Die selfgenoegsaamheid van die Woord kom nou skerp onder die soeklig nadat die geldigheid van die belydenisskrifte wat met die Woord ooreenstem al hoe sterker bevraagteken word.
Toenemend word die belydenisse beskou as slegs aanduidings van hoe ons oor God en sy Woord voel. Daarom moet die Woord nou onder andere uit die werklikheid opnuut vertolk word. Die taak van die kerk is dan nou om die Bybel, wat die neerslag is van die “eerste hoorders” te vertolk en eietyds toe te pas.
Intussen word die mens al hoe meer in die sentrum geplaas. Die sin van ons bestaan, die mens se saligheid, die mens se verstand en logika waarmee die Woord verstaan kan/moet word, word die aandrang dat kerke moet vernuwe om die mens se behoeftes te bevredig.
Hierdie probleem kan baie eenvoudig in een enkele bekende sin saamgevat word, wat hier vraenderwys gestel word: Het “die Heilige Gees en ons het besluit” nou 'n aksentverskuiwing ondergaan na “Ons en die Heilige Gees het besluit”?
Die antwoord hierop lê bo die mens in die Woord van God. Dit is hier waar die weë uiteengaan; waar dieselfde Skrifdeel gebruik word om teenoorstaande standpunte te verdedig. As dit sover is, dan is debatvoering dringend nodig sodat die waarheid in Christus weereens geproklameer kan word.
Gedurende die tussenkerklike gesprek wat na sinode 2003 begin is, het dit duidelik geword dat wat begin is vanweë 'n paar sinodebesluite, in werklikheid die diepgaande vraagstukke met betrekking tot die Skrif en belydenis ontbloot. Daarom is besluit op die konferensie, wat op 5 Maart 2005 (onder swaar vooraf kritiek) gehou is. Tydens die voorbereidende gesprekke is indringend besin oor die korrekte gespreksmetode en 'n begrip wat dit uitdruk. Daar is besluit op 'n konferensie, waarmee net gesê word dat dit 'n openhartige gesprek is sonder enige besluitnemingsmag .
Die referente is versoek om voordragte te lewer oor die wese van die kerk, naamlik leer, diens en tug, terwyl die voorsitter versoek is om te open met die tema: Jesus Christus, die fondament van die kerk.
Die neerslag daarvan was vier voordragte wat 'n wonderlike eenheid vertoon, 'n eenheid wat in die Woord gegrond is. Daarom het die betrokke kerke na die konferensie op 5 Maart 2005 besluit om die voordragte as 'n bundel te publiseer en in dankbaarheid en met oortuiging aan te bied - met dank aan hulle wat die voordragte voorberei het.
Die redaksiekommissie het enkele voorstelle ter wille van groter duidelikheid aan die referente voorgelê. Dit het nie aan die inhoud, omvang of aard van die voordragte verander nie. Daar is 'n oënskynlike onewewigtigheid met betrekking tot die aanslag - in lengte, bronverwysings, toepassings ensovoorts. Maar ons meen dat dit eerder bevrug-tend as andersom inwerk. Die bundel moet dan ook so as 'n eenheid gelees word as die vrug van 'n konferensie waaruit breedvoerige bespreking gevolg het. Die redaksiekommissie wat die publikasie moet afrond aanvaar daarom met groot vrymoedigheid medeverantwoordelikheid daarvoor.
Ofskoon hierdie saak afgestem is op vrae in die GKSA is ons van oortuiging dat die bundel ook met groot vrug gelees kan word deur alle gelowiges wat ons belydenis deel en wat met dieselfde vrae worstel.
Mag dit groter helderheid bring sodat die Koning van die kerk geëer sal word.

  
Inloggen  




 


Bent u nog niet geregistreerd? U kunt zich inschrijven!
Problemen met inloggen?

Alle logo's en handelsmerke op hierdie webtuiste is die eiendom van hulle onderskeie eienaars. Die kommentaar op die webtuiste is die eiendom van die outeur. Die res is © 2005 van die Kerkpad.
Hierdie webtuiste gebruik PostNuke, 'n web portaal stelsel wat in PHP geskryf is. PostNuke is Gratis Sagteware beskikbaar onder die GNU/GPL lisensie.

Alle nuusartikels is ook met RSS beskikbaar vanaf backend.php