Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Soek  
Keuselys  

  

Die Kerkpad November 2005: “Doen alles alles tot verheerliking van God”

Geplaatst door: Admin op 17 Okt 2005 - 17:14 Algemeen 
- DR DF MALAN SE AFSKEID VAN SY GEMEENTE, NG KERK GRAAFF-REINET, 13 JUNIE 1915 -

Ons teks vind u opgeteken in die 31ste vers van 1 Korinthiërs 10: “Of julle dan eet en drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God”. Veral staan ons stil by die laaste gedeelte: “Doen alles tot verheerliking van God”.


Dit is u almal wellig goed bekend waarom die apostel Paulus dié woorde neergeskryf het. In die gemeente van Korinthe, net soos in dié van Rome, het groot verskil van mening bestaan oor die vraag of dit 'n Christen wel geoorloof is om te eet en te drink wat van tevore op heidense altare geoffer was. Volgens die uitdruklike mening van sommige het daarin geen kwaad bestaan nie. 'n Afgod, so het hulle geredeneer, was in werklikheid tog niks, en of sekere spyse nou daaraan geoffer was of nie, kon tog vir 'n Christen nie die minste saak maak nie. Om in so 'n geval teen die eet en drink gemoedsbesware te hê, was niks anders as 'n teken van geestelike bekrompenheid nie. En dit moes nie aangemoedig word nie.
Ander Christene het weer die eet van 'n afgodsoffer beskou as niks minder nie as 'n groot sonde, die besmetting van wat rein en heilig gehou behoort te word, met heidense afgodery. Vir dié Christene het 'n duidelike, skerpe skeidslyn bestaan tussen wat aan God behoort, en wat nie aan God toebehoort het nie, tussen die gewyde en wat aan die onheilige, sondige wêreld oorgegee is. En dié grenslyn mog die ware Godgewyde Christen nie oor-skry nie.
Een deel van die wêreld waarin ons leef, het met ander woorde onder Christus se heerskappy gestaan, en daarin kon die Christen hom vry beweeg. Maar wat buite dié gebied lê, het aan die koninkryk van Satan behoort en daaroor het slegs hy geheers. En as iemand hom daarom op albei gebiede wou beweeg, het hy daarmee 'n duidelike bewys gelewer dat hy geen ware Christen kan wees nie. Duidelik het hy dan geprobeer om die onmoontlike te doen, om sowel God as Mammon te dien. Hul veroordeling van die Christene van die ander party was daarom beslis en bitter.
Toe dié vraag, wat in die Christelike gemeente soveel beroering veroorsaak het, aan die apostel Paulus voorgelê is, het hy sy oordeel duidelik te kenne gegee in drie stellinge. Ten eerste het hy manlik en onomwonde verklaar dat die grenslyn wat sommige welmenende Christene getrek het, in werklikheid nie bestaan nie. Wat homself betref: hy het geen die minste beswaar gehad om ook wat aan die afgode geoffer was, te eet nie. Eet of nie eet nie, was op sigself genome geen saak van beginsel nie. Want alles in die stoflike wêreld behoort aan God, en aan God alleen, en die Christen mag daarom vrye gebruik daarvan maak. “Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan”.
Maar ten tweede so het hy gesê, moet die Christen wel deeglik rekening en volle rekening hou met die omstandighede. In sekere omstandighede hoef hy geen gemoedsbesware te hê nie. “Eet alles wat in die slaghuis verkoop word, sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete. En as een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet dan alles wat aan julle voorgesit word, sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete”. Maar in ander omstandighede, en veral wanneer die eet van die afgodsoffer aanstoot kon gee en die onderlinge liefdeband kon verbreek, daar was dit beter, nee, daar was dit die Christelike plig, om die eie vryheid te beperk en ter wille van ander Christene die self te verloën. “Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer - moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete -
ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander”.
Maar die derde en vernaamste beginsel waarop die apostel Paulus hier nadruk lê, is dat in 'n saak soos hierdie, die een Christen geen reg het om te oordeel wat 'n ander Christen mag doen of nie mag doen nie. Elke Christen is bowe alles 'n dienskneg van Jesus Christus. Vir wat hy doen of nie doen nie, is hy daarom verantwoordelik aan Hom en aan Hom alleen. As die een Christen daarom aan die ander die wet wil voorskryf, as hy die ander wil dwing om te doen wat hy meen alleen reg is, veral as hy hom veroordeel omdat hy volgens sy eie gemoedsoortuiging handel, wat doen hy dan? Hy matig hom 'n reg aan wat hom nie toekom nie. Hy speel baas oor 'n ander se gewete. Hy beroof 'n ander van die vryheid wat deur Christus self aan hom gegee is. Nee, erger as dit: deur sy eie wil en mening te wil opdring aan “die huiskneg van 'n ander” wat aan sy eie Heer alleen verantwoordelik is, ontneem hy aan Christus self Sy soewereine reg om oor sy eie diensknegte te beskik soos Hy wil. Hy stoot Christus van Sy troon.
En daarom, dit moet vas staan, is elke Christen vry, vry van die heerskappy van enige mens, vry om sy eie Heer en Meester te gehoorsaam. En daarom is elke Christen in wat hy eet of drink, in wat hy doen of laat, onderworpe aan Christus alleen. Aan Hom en Hom alleen is hy hartlike, volle, blymoedige gehoorsaamheid verskuldig. In alle sake waarin Christus hom vryheid gegee het, daar mag hy sy vryheid gebruik, en dit alleen op één enkele voorwaarde, dat hy in alles God voor oë sal hou, dat hy alles wat hy doen, doen tot verheerliking van God. Die verheerliking van God, deur albei partye in die oog gehou, sal die partyskap versoen.
Aan die hand van ons teks ... wil ek graag u aandag by drie hoofgedagtes bepaal. Die eerste is dat nie alleen die kerklik-godsdienstige lewe van 'n volk nie, maar ook die breëre nasionale en politieke lewe onderworpe moet wees aan die heerskappy van God. Die tweede is dat daar besondere omstandighede is wat ons kan roep om God ook buite die kerklike lewe te dien. En die derde is dat, wat altyd in die oog gehou moet word en wat juis tans in die diepste grond van die saak by ons op die spel staan, die verheerliking van God in ons nasionale lewe is.
Ten eerste dan, sê ons, moet nie alleen die kerklik-godsdienstige lewe nie, maar moet ook die breëre nasionale en politieke lewe van 'n volk aan God se heerskappy onderworpe wees. Hoewel ons 'n Christelike volk is, was daar in die verlede en is daar vandag nog vir ons geen groter gevaar nie dan dat ons, net soos sommige Christene in Paulus se dae, 'n te skerpe skeidslyn trek tussen godsdiens en politiek, tussen die kerk en die breëre volkslewe. Volgens die beskouing van vele is 'n mens aan die een kant op gewyde grond en aan die ander op onheilige gebied. Aan die een kant van die lyn word God gedien, aan die ander kant staan 'n mens in diens van die wêreld. Godsdiens is een saak, die openbare volkslewe is heeltemal iets anders . . .

  
Inloggen  




 


Bent u nog niet geregistreerd? U kunt zich inschrijven!
Problemen met inloggen?

Alle logo's en handelsmerke op hierdie webtuiste is die eiendom van hulle onderskeie eienaars. Die kommentaar op die webtuiste is die eiendom van die outeur. Die res is © 2005 van die Kerkpad.
Hierdie webtuiste gebruik PostNuke, 'n web portaal stelsel wat in PHP geskryf is. PostNuke is Gratis Sagteware beskikbaar onder die GNU/GPL lisensie.

Alle nuusartikels is ook met RSS beskikbaar vanaf backend.php