Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Soek  
Keuselys  

  

Die Kerkpad November 2005: DIE PRESBITERIALE STELSEL VAN KERKREGERING

Geplaatst door: Admin op 17 Okt 2005 - 17:08 Algemeen 
- DR B SPOELSTRA. IN: HANDLEIDING BY DIE KERKORDE VAN DIE GKSA, 1966, INLEIDING. BL 1 - 19 -

1 Die begrip kerkorde

Die kerkorde wil die orde en reël vir die kerk bepaal. Dit is nie 'n kerkwet nie, omdat God alleen vir die kerk vir die kerk wette kan neerlê. Wetgewing veronderstel ook dat die wetgewende liggaam (sinode) voor die wette bestaan. In die gereformeerde kerkregering moes die kerkrade eers 'n onderlinge ooreenkoms in 'n Kerkorde tref en daarna kan 'n sinode op sterkte daarvan bindende besluite neem (Amos 3:3). Die Kerkorde is dus die ooreenkoms waarvolgens kerkrade onder andere in sinodes saamkom en daarom kan dit nie 'n wet van die sinode wees nie. In die kollegialistiese kerkregeringstelsel roep die staat egter gewoonlik die sinode kragtens 'n staatswet in die lewe en delegeer hy die wetgewende mag na hierdie kollegialistiese sinode op grond waarvan dit weer met sy wette magte aan kerkrade verleen. Hier ontleen die kerkraad dan sy mag en bevoegdheid aan die sinodale kerkwet.



Die wet van die staat vir die kollegialistiese sinode word gewoonlik 'n kerkwet of kerkreglement genoem. Tog kan daar nie net op die name af geoordeel word nie. De Mist het byvoorbeeld in 1804 sy kerkwet 'n Kerckenorde genoem, terwyl dit alles behalwe 'n kerkorde was. ...

Die naam “Kerkorde” kom nie in die Skrif voor nie, maar die Skrif dien homself aan as die Woord en die Wet van God vir sy kerk. So gee die Skrif bepalinge vir die kerklike lewe, byvoorbeeld Matt 18:17 v, in verband met die tug; Matt 10:10, Gal 6:6, Fil 4:125, 2 Tess 3;9, in verband met die onderhoud van die dienaars; 1 Tim 3 en 5:19 in verband met die ampsdraers. Samevattend beveel die Skrif: “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan”(1 Kor 14:40). Die kerkorde is die uitvoering van hierdie omvattende Skrifbevel, maar moet tegelykertyd rekening hou met die Skriftuurlike voorskrifte vir die kerklike lewe.

In die Nederlandse Geloofsbelydenis word die noodsaaklikheid van 'n Kerkorde op grond van God se Woord bely (art 32), terwyl die inhoud van die Kerkorde ook beperk word. Dit moet ooreenkom met God se Woord en mag nêrens “menslike vindinge” in die plek van God se Woord stel nie. Dit beteken egter nie dat elke artikel van die Kerkorde op 'n bepaalde Skrifwoord moet steun nie. Die gereformeerdes het altyd onderskei tussen onveranderlike prinsipiële bepalinge binne die Kerkorde, soos byvoorbeeld dat die Nagmaal gehou moet word soos Christus dit ingestel het, en veranderbare middelmatige ordereëlings, soos hoe dikwels dit gevier moet word.

2 Die gesag van die Kerkorde

Die Kerkorde het gesag. Dit bind die kerke in dieselfde kerkverband om daarvolgens te leef. Minagting vir die Kerkorde kom neer op verbreking van die woord van trou in gemeenskap van die ander kerke in dieselfde kerkverband gegee. Die gesag van die Kerkorde berus op die volgende grond:
(a) Sekere bepalinge van die Kerkorde rus op God se Woord.
(b) Op grond van die Skrif bely die kerke dat dit “nuttig en goed is dat die regeerders van die kerk onder mekaar sekere ordinansies instel en bevestig tot instandhouding van die liggaam van die kerk” (NGB, art 32). So rus die aanvaarde Kerkorde op die Belydenis.
(c) Die ooreenstemming tussen die Skrif en die Belydenis wat op die Skrif gegrond is, en die aanvaarding van beide, laat die kerk (gemeentes) met mekaar 'n kerkverband of kerklike vennootskap aangaan. Die kerkraad is in juridiese sin die regspersoonlikheid wat namens die lidmate van die gemeente die “akkoord” aangaan, terwyl die lidmaatskap van die gemeente ook elke lidmaat aan die Kerkorde bind. Die Kerkorde het dus die regsgel-digheid van 'n bindende kontrak ten opsigte van die lidmate, die kerkraad en die kerkverband. Wysiging van die gemeenskaplike ooreenkoms kan alleen geskied op die wyse wat die Kerkorde self voorskrywe.

Hier moet teen tweërlei misverstand gewaak word. Eerstens kan verkeerdelik veronderstel word dat die gesag van die kerkorde gelyk staan aan dié van gewone sinodebesluite. Hierdie misverstand hou nie rekening met die feit dat daar nie sinodebesluite sou gewees het indien die kerkrade nie eers 'n Kerkorde aanvaar het nie, op grond waarvan ooreengekom is dat daar en wel op 'n bepaalde wyse gesamentlik besluit sal word nie. Tweedens word die Kerkorde soms weer misverstaan deurdat dit as 'n blote “leidraad” sonder bindende bepalinge beskou word. Hierdie liberale opvatting, wat die eie oordeel bo die Kerkorde wil verhef, bots met elkeen van bostaande gronde waarop die gesag van die Kerkorde rus.




3. Misbruik van die Kerkorde

Die Kerkorde word misbruik wanneer dit soos 'n kerkreglement hanteer word. Die kerkorde lê 'n beginsel neer en veronderstel dat die beginsel en gees van orde begryp sal word en verskillende situasie daarvolgens op meriete behandel sal word. ...

'n Tweede voorbeeld van misbruik van die Kerkorde is die toepassing van één artikel met verontagsaming van die ander. Die Kerkorde is 'n ondeelbare geheel, hoewel dit uit 86 artikels bestaan. Die ideale toepassing vereis dat elke afsonderlike artikel, sowel as al die artikels saam gelyktydig tot hulle reg sal kom. Talle artikels moet daarom altyd saam gelees word om die regte begrip van 'n bepaalde beginsel te kry. Die ideaal is eintlik om die “gees” van die Kerkorde spontaan te begryp en daarvolgens te handel.

Die karakter of “gees” van die Kerkorde

Die Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het die Calvinistiese, gereformeerde of presbiteriale karakter van kerkregering. Dit sluit aan by die Skriftuurlike voorskrifte.

Die term presbiteriale is afgelei van die Griekse woord presbiter wat oudste of ouderling beteken. In die alge-meen beteken dit dus dat die kerkregering (met die Woord en Gees) eintlik deur die ouderlinge of presbiters uitgeoefen word.

a. Die onsigbare fondament van die kerk
Calvyn het weer die sentrale waarheid van die Skrif na vore gebring, naamlik dat die wese van die kerk in die uitverkiesing geleë is. Die geloof bind aan Christus en aan mekaar. Die uitverkorenes van God vorm 'n gemeente (ekklesia as “uitgeroeptes”), één heilige algemene Christelike kerk, die liggaam of bruid van Christus, die tempel van die Heilige Gees. Christus is die enigste Hoof of Koning van die kerk (Ef 1:22). In wese regeer Christus sy Bruid. ... Dit bestaan wêreldwyd en vorm in Christus 'n eenheid. Hieruit volg dat die kerk of gemeente nie in die kerklike ampsdraers of in 'n menslike hoof van die kerk kan setel nie (soos Rome sê), maar dat die wese van die kerk in 'n vergadering van die gelowiges bestaan (NGB, art 37).

b. Die sigbare kant van die kerk
Calvyn het ... aangetoon dat die onsigbare eenheid in Christus daartoe lei dat gelowiges op 'n bepaalde plek en in 'n bepaalde tyd tot 'n sigbare gemeente of kerk verenig. Die gemeente ontstaan dus nie omdat die gelo-wiges een gemaak moet word nie, maar omdat hulle reeds in Christus een is. Kragtens 'n dieper liggende geloofseenheid vorm die gelowiges 'n vergadering, 'n kudde, 'n gemeente, 'n kerk, wat bestaan uit belydende en dooplidmate.

Die plaaslike kerk of gemeente is die enigste vorm waarin die kerk as 'n kudde sigbaar na vore tree. ... Hierdie sigbare gemeente moet met die genademiddele bedien word en teen die sonde waaraan dit blootstaan, beskerm word. Derhalwe is daar ook in die kerk 'n regering deur die oudstes of ouderlinge nodig. So vorm elke georganiseerde gemeente 'n afgeronde en selfstandige kerk.

c. Dit is gerig op die plaaslike kerk
Ons kan sê dat die ... gemeente of plaaslike kerk die uitgangspunt van die gereformeerde kerkregering vorm, mits ons nie met die uitgangspunt bedoel dat ons van die plaaslike kerk tot iets anders wil kom nie. Die vergadering van gelowiges bly uitgangs- en doelpunt van die gereformeerde kerkregering. Die kerkregering wil en moet die heerskappy van Christus oor sy gelowiges voer en hulle kan op geen ander plek as in die plaaslike kerk vergader of bereik word nie. ...

Dit sou dus meer korrek wees om van die “Gereformeerde Kerkverband” as van die “Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika” te praat. Wanneer mense sê dat hulle lidmate van die “Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika” is en dink dat die gemeentes maar takke van dié boom is, praat hulle nie meer die taal van die Bybel nie, maar van die Roomse, Lutherse of Kollegialistiese kerkregeringstel-sels. Die grondgedagte van die plaaslike kerk is soos 'n goue draad deur al die artikels heengeweef. Die plaaslike kerk is nie daar ter wille van die kerkverband nie, maar die kerkverband (klassis, partikuliere sinode en nasionale sinode) is daargestel met die doel om die belange van dié plaaslike kerke te bevorder. Die kerkverband word nie aangegaan om één kerk te stig (soos die kollegialiste sê) of om met 'n dik stem in die wêreld te kan praat nie (asof die Woord van God nie sterk genoeg is nie). Die kerkverband is slegs 'n band wat selfstandige en komplete plaaslike kerke of gemeentes met en ter wille van mekaar aangaan, omdat hulle in die geloof reeds een in Christus is. Op grond van die gemeenskaplike eenheid wil hulle as kerke met mekaar en deur middel van hulle onderskeie kerkrade saam hierdie gemeenskaplike geloofsband uitbou en bewaar. Daardeur kom geen nuwe gemeente of kerk tot stand nie, maar word alleen 'n band tussen selfstandige kerke ('n vennootskap) gelê, want suiwer kerkregering is onmisbaar vir die bewaring van die suiwere Belydenis (geloofseenheid).

d. die heerskappy van Christus in die kerk
Omdat Christus sy roeping tot regering en bewaring van die orde op sy gemeente gelê het, is die regering amptelik. dit wil sê offisieel namens Christus, 'n diens (officium) waardeur die mag van Christus uitgeoefen word. Sodra die ampte ingestel en die persone bevestig is, is hulle nie in demokratiese sin verantwoording aan die gemeente verskuldig omdat hulle verkies is nie, maar is hulle aan Christus verantwoordelik. Terwyl elke gemeentelid egter self in die amp van die gelowige die roeping het om die heerskappy van Christus te betrag, het die gemeentelede die mag van approbasie en selfs van sensuur oor 'n kerkraadslid en 'n kerkraad wat ontrou word. Die wyse waarop dit moet geskied en die wyse waarop die een kerk die ander in hierdie regering ondersteun, word in die Kerkorde gereël. ...

'n Burgerlike owerheid behou gesag, selfs al gaan dit teen God in, maar die kerk of ampsbediening wat die Woord verlaat, verloor alle gesag. Die geopenbaarde Woord van God omspan dus die grense van die amptelike grense van die kerklike gesag. Wat in die Skrif gebied en verbied word, moet die ampte met gesag bedien en handhaaf. Maar wat nie uitdruklik in die Skrif voorgeskryf word nie, mag geen kerkraad of ampsdraer met bindende gesag afdwing nie. Wanneer onvoorwaardelike onderwerping (konformasie) van 'n gemeente aan kerklike besluite geëis word, is die primêre vraag nie wat die kerkraad besluit het nie, maar wat die Woord van God oor die saak sê. ...

f. Die plaaslike kerke vorm 'n kerkverband
Net soos die gelowiges vergader om 'n kerk te vorm omdat hulle één in Christus is, en die ampsdraers weer in 'n raad van en vir die kerkraad saamkom om in die Naam van Christus te regeer, so kom die kerkrade weer met ander kerkrade, met wie hulle één in leer is, saam om die regering in kerkverband te behartig. ...

In die kerkverband gaan die selfstandigheid van die plaaslike kerke nie verlore nie. Nee, kragtens die ooreenkoms waarop die kerkverband rus, vind daar 'n gemeenskaplike handeling deur middel van die onderskeie self-standige kerkrade plaas. Die samekomste van klassikale, partikuliere en nasionale vergaderinge is dus samekomste van meer kerkrade en daarom word dit meerdere verga-derings genoem. Hierdie beginsel kan nie sterk genoeg benadruk word nie. Vir die enigste juiste begrip van die presbiteriale kerkregering is dit onontbeerlik.

Daar is nie 'n permanente klassis of 'n sinode naas of teenoor die kerkraad nie. Daar is nie 'n permanente klassis of sinode (net van tyd tot tyd met “ander personeel” soos 'n kerkraad) saamgestel) nie. Daar is alleen permanente kerkrade wat tydelik vir 'n enkele klassis of sinode met meer kerkrade vergader. Elke klassis of sinode is 'n vergadering op homself wat ophou om te bestaan wanneer dit afgeloop is. Die volgende klassis of sinode is 'n ander vergadering van (waarskynlik) dieselfde kerkrade.

  
Inloggen  




 


Bent u nog niet geregistreerd? U kunt zich inschrijven!
Problemen met inloggen?

Alle logo's en handelsmerke op hierdie webtuiste is die eiendom van hulle onderskeie eienaars. Die kommentaar op die webtuiste is die eiendom van die outeur. Die res is © 2005 van die Kerkpad.
Hierdie webtuiste gebruik PostNuke, 'n web portaal stelsel wat in PHP geskryf is. PostNuke is Gratis Sagteware beskikbaar onder die GNU/GPL lisensie.

Alle nuusartikels is ook met RSS beskikbaar vanaf backend.php