Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Soek  
Keuselys  

  

Die Kerkpad November 2005: NEERGEDAAL HET NA DIE HEL …

Geplaatst door: Admin op 17 Okt 2005 - 18:17 Redaksioneel 
REDAKSIONELE KOMMENTAAR
MET DANK AAN “N INTEKENAAR-LESER WAT ‘N AANSPORENDE EN HOOGSBELANGRIKE INSET HIEROP GELEWER HET


Omdat daar vandag so 'n felle aanslag op ons godsdiens gemaak word om ons kosbare geloof te ondergrawe en daarmee ons saligheid bedreig, en omdat daar 'n algemene misverstand in die kerke bestaan, veral omtrent artikel 4 van ons Apostoliese Geloofsbelydenis, is dit nodig om die bewoording van hierdie artikel weer in eenvoudige taal te verduidelik.


Die “Apostolicum” vat die kern van ons geloof saam, wat God op wonderbaarlike manier in ons harte werk, en dit is 'n baie diep geheimnisvolle geloofsaak. Die owerpriesters en ouderlinge van Jerusalem het die drie ure duisternis saam met al die Jode ervaar nadat Jesus gekruisig is. Nieteenstaande die hoofman oor honderd, wat alles gesien het wat daar gebeur het, uitge-roep het: “Waarlik Hy was die Seun van God”, het die onbeskryflike diepte aan hulle in ongeloof verbygegaan.
Dit word gestel dat “neergedaal na die hel” 'n latere toevoeging tot die Apostoliese Geloofsbelydenis was en dit kan as waar aanvaar word, maar dis nie die saak waaroor dit gaan nie.
Die Apostoliese Geloofsbelydenis of “Twaalf artikels van die algemene ongetwyfelde Christelike geloof” vat kernagtig saam wat die apostels geleer het, maar dis nie deur hulle opgestel nie. Hierdie noodsaaklike toevoeging is gedoen toe die noodsaak daarvoor ontstaan het.
In die woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis, art 7, bely ons: dat ons geen geskrifte van mense, hoe heilig hulle ook al was, met die Goddelike Skrif mag gelyk-stel nie: ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerk-vergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self.
Daarom is die geskiedenis van die Apostoliese Belydenis nie belangrik nie, maar wél of dit God se Woord suiwer vertolk of nie. Dit is dus uitermate belangrik dat die Heilige Skrif ter wille van ons saligheid leer dat Christus neergedaal het na die hel, en in verband daar-mee die vraag, wáár en wánneer Hy in dié dieptes neergedaal het.
In sy alwysheid het God twee teenoorstaande “plekke” geskep waar geestelike wesens sowel as die mens, met liggaam en siel “ingeperk” kan en sal word, naamlik die hemel en die hel. In die hemel openbaar en skenk God sy oneindige goedheid en vriendelike nabyheid aan almal wat Hy genadig is om daar te mag wees, terwyl Hy in die hel sy toorn oor die sonde uitstort en toedien aan dié wat Hom nie geken en/of gedien het nie.
Dit is belangrik dat ons sal verstaan dat ons nie aan die hemel en die hel kan dink in ons menslike begrippe wat dit as 'n plek verklaar, met fisiese grense en heinings, soos ons dit in aardse begrippe verstaan nie. Maar ons kan dááraan vashou dat God in die hemel sy oneindige goedheid bedien wat ons menslike verstand te bowe gaan. Omdat dit 'n geestelike begrip is, moet dus onbetwyfelbaar seker bely word, dat God in die hel sy wraak oor die sonde uitoefen, vir ewig afgryslik, wat ook ons verstand te bowe gaan.
In die Twaalf Artikels van die Christelike Geloof bely ons van ons Here Jesus Christus:
(3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
(4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gesterf
het en begrawe is en neergedaal het na die hel;
(5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
(6) opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader;
(7) vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.
Hierdie Belydenisskrif gee nie kronologies die geskiedkundige volgorde van Christus se lyde weer, sodat wat neergedaal het na die hel volg op ...begrawe is nie, maar dit vat die volkomenheid van Christus se offer saam, wat uit sy liggaamlike lyding aan die kruis be-staan, en ook sy diepste geestelike lyding en helse straf wat Hy vir ons deurstaan en volbring het. Hy het met die hoogste, dit is met die ewige straf aan liggaam en siel ons skuld ten volle betaal (HK, Sondag 4, 5 en 6).
Die duiwel haat hierdie belydenis. omdat dit sy finale en grootste nederlaag in kort saamvat, en buitendien, dra hy ook die naam satan wat teenstander beteken, omdat hy alles teenstaan wat God in sy raadsplan besluit het. Hierdie belydenis gee die verlossingsleer suiwer weer, soos God dit in sy Woord openbaar. Daarom is dit ook nie snaaks dat ongeloof en/of 'n verdraaide Skrifbeskouing, juis ook op die Apostoliese Geloofsbelydenis gerig is nie. Veral die maagdelike geboorte van Jesus en die feit dat Hy neergedaal het na die hel word heftig bestry. As ons geloof op hierdie twee punte betwyfel word, kan ons nie anders as onseker raak nie; dat ons dalk nie ten volle deur Jesus Christus gered is nie. Veral HK, Sondag 4 wat bely dat God se toorn “verskriklik, sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen”, is. Hy het immers gesê: “Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie”. As Christus nie werklik na die hel neergedaal het nie, dan moet ons nog boet vir die sonde, dit beteken die ewige straf aan liggaam en siel.
Die Heidelbergse Kategismus verwys na God se barmhartigheid en beantwoord dit aldus: God is wel barmhartig, maar Hy is ook regverdig. Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is, ook met die swaarste straf gestraf moet word - dit is die ewige straf aan liggaam en siel. HK, Sondag 4 vr/antw 11.
HK, Sondag 5 Vr/antw 12: Aangesien ons dan na die regverdige oordeel van God tydelike en ewige straf verdien het, is daar enige middel is daar enige middel waardeur ons van hierdie straf kan vrykom en weer genade kan verkry?
Die antwoord dáárop: God wil dat aan sy geregtigheid voldoen moet word; daarom moet daaraan óf deur onsself óf deur 'n ander ten volle betaal.
Daar kan dus geen twyfel wees dat ons die ewige verdoemenis in die hel sou moet ondergaan, indien slegs Christus se siel en nie sy liggaamlike menslike bestaan nie, die vervloekingsdood aan die kruis, gepaardgaande met die diepe, helse smart aan liggaam en siel ondergaan en deurstaan het.
Die hel is ook nie 'n plek waar Christus en ons, slegs ná die dood heen kan gaan en dan net aan die siel die helse straf ondergaan nie , maar ons glo aan die liggaamlike opstanding en dus sou ons die vloek in sy helse totaliteit na liggaam en siel. moet ondergaan. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig en afgryslik (Daniël 12:2).
Maar ons bely in HK, Sondag 1 dat Christus ten volle vir al ons sondes betaal het, Hy het dus die helse straf vir ons gedra. Hy hét “neergedaal na die hel”!
Toe Christus uitgeroep het: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt 27:46), het Hy die volle straf van die hel gedra aan sy liggaaam én siel, die tydelike en die ewige straf. Want die hel is dáár waar God sy verskriklike oordeel oor die sonde voltrek. Christus het die ewige oordeel van God oor ons sonde dáár, waar Hy aan die kruis vasgespyker was, ten volle gedra, want Hyself het dit bevestig met te sê: Dit is volbring!
Waarom het die hoofman oor honderd Hóm dan as besonder beskou en uitgeroep: Waarlik, Hy was die Seun van God? (Mark 15:39) Wat onderskei vir die hoofman die Christus aan die kruis, ten opsigte van die twee kruiselinge aan weerskante van Hom?
As ons weer na die betrokke gedeelte kyk word dit duideliker: En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met 'n groot stem geroep en gesê: ... My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt 27:45,46)
Daar het iets vreseliks gebeur gedurende daardie tyd, so verskriklik dat dit God behaag het om die omgewing met duisternis te oordek. Geen sterflike mens kan die vol-trekking van God se oordeel aanskou nie. So verskriklik is die helse straf dat die sterflike mens met sy beperkte vermoëns dit nie kan aanskou en bly lewe nie. Die hoofman oor honderd het begryp dat wat daar aan die kruis gebeur het, deur geen mens gedra kon word nie en daarom sy uitroep dat die Christus, wáárlik die Seun van God was.
Om die ewige oordeel van God aan sy liggaam en siel te dra, was dit dus nodig dat Christus dit moes deurstaan vóórdat sy siel en liggaam sou skei met sy dood, anders sou Hy slegs die helse straf slegs aan sy siel volbring het.

Die bewoording wat deesdae die strofe neergedaal het na die hel, vervang met “wat die angste van die hel tot die dood toe ondergaan het”, is nie net verkeerd nie, maar ook misleidend. aangaande die plaasvervangende offer van Christus wat Hy aan die kruis volbring het. As ons die laasgenoemde bewoording versigtig oorweeg, druk dit wel onbetwyfelbaar uit dat Christus ons straf ten volle en genoegsaam vir die borgstelling van ons sondes gedra het?
Het Christus slegs die angste van die hel as magtelose “ondergaan” net soos die twee kruiselinge aan weerskante van Hom? Het Hy, net soos hulle, die vrees en angs ervaar of “ondergaan” tot die moment van die dood, maar wát dan van die straf, wat Hy in ons plek gedra het? Voorts, het Christus die angste van die hel as magtelose deurstaan soos dié twee wat saam met Hom gekruisig is? Het Hy die straf, wat op ons gerus het, na liggaam en siel gedra? Dis immers 'n positiewe handeling omdat Hy dit kon en wou dra in sy Goddelike krag waarmee Hy ook die dood oorwin en weer opgestaan het.
Nee! Hierdie nuwe bewoording ontneem ons die sekerheid van die geloof. Dit kán so wees, maar dit kán dalk anders wees. Dis maar net die “bril” waardeur mens na die werklikheid van die Christus-aan-die-kruis-gebeure kyk. Die nuwe bewoording hang saam met twyfel oor die volkomheid van die verlossing, wat in Christus ons deel is.

Christus het die volle straf van die hel aan sy liggaam en siel gedra. Hy was fisies in die hel, dit beteken dat Hy ten volle die ewige oordeel van God oor ons sonde, aan sy liggaam en siel, vir tyd en ewigheid gedra het. “Dit is volbring!” (Joh 19:30)
Laat ons (hier-) die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor . (Hebr 10:23,24).

  
Inloggen  




 


Bent u nog niet geregistreerd? U kunt zich inschrijven!
Problemen met inloggen?

Alle logo's en handelsmerke op hierdie webtuiste is die eiendom van hulle onderskeie eienaars. Die kommentaar op die webtuiste is die eiendom van die outeur. Die res is © 2005 van die Kerkpad.
Hierdie webtuiste gebruik PostNuke, 'n web portaal stelsel wat in PHP geskryf is. PostNuke is Gratis Sagteware beskikbaar onder die GNU/GPL lisensie.

Alle nuusartikels is ook met RSS beskikbaar vanaf backend.php