| Keuselys
|
|
|
Geplaatst door: Admin op 17 Okt 2005 - 17:17
Algemeen
|
DIE BYBEL IS DIE GODSOPENBARING
- DR JD DU TOIT (TOTIUS) IN VERSAMELDE WERKE, DEEL 5. JOHANNESBURG 1960, BL 95 -
Die Bybel ontvou vir ons die Goddelike plan van verlossing soos gesentraliseer in Jesus Christus, die Middelaar van God en die mense. Dit bring “die heilige Evangelie wat God self eers in die Paradys geopenbaar het en daarna deur die heilige aartsvaders en profete laat verkondig en deur die offerandes en ander seremonies van die Wet vooraf laat afbeeld het en eindelik deur Sy eniggebore Seun vervul het” (HK, Vr/antw 19).
Notitie:
As dit eers duidelik en beslis op die voorgrond staan, kan ons voorts vasstel dat hierdie heilsboodskap van die Skrif nie soos 'n olyftak op die stormagtige lewenswaters drywe nie.
Die Woord van God predik die verlossing in Christus; maar let nou daarop hoe dit geskied. Die Skrif begin met die skepping van hemel en aarde. Dit eindig met die węreldkatastroof in die Openbaring en die verrysenis van 'n nuwe hemel en aarde. Dit handel oor die opkoms, bloei en insinking van węreldryke soos Egipte, Babel, Tirus en andere. Dit bevat gebooie vir die huisgesin, die sosiale verhoudinge, die owerheid en ander lewenskringe en lewensverhoudinge. Wie mag vir die Woord van God grense stel en sę: Tot hiertoe en nie verder nie?
Vir al die vertakkinge van die wetenskap vind ons in die Skrif die hoofbeginsels vanwaar uitgegaan moet word en wat by ons studie fundamenteel en rigtinggewend moet wees.
Dit is dus duidelik dat die Skrif vir die gelowige 'n goudmyn van oneindige rykdom is. Maar - en dit is die punt waar dit nou op aankom - dié myn moet langs die weg van moeisame arbeid ontgin word. Die goudstukkies en goudstippels, soms o so fyn, moet uit die rotse gehaal en tot blokke gevorm word. En dan eers kan die edele metaal tot munt gestempel word.
Hierdie beeldspraak is, na ons gedagte, 'n genoegsame aanduiding van die heerlike arbeid wat vir die ondersoeker voorlę . Die Skrif gee die riglyne vir die gebou wat moet verrys. Laat elkeen maar oppas hoe hy bou.
|
|
|
|
Inloggen
|